Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
In die spore van terreur

Marita van der Vyver se jongste roman, Misverstand, is pas bekend gestel. Sy het met Lynné Schoeman gepraat oor een van die eerste fiksiewerke wat oor die Paryse terreuraanvalle verskyn het – die een werk wat haar man meen die Franse behoort te lees. 

Marita van der Vyver: Ek dink die toets is die taal waarin jy vloek. Foto: Jaco Marais

Hulle was in die motor op pad terug van vriende se huis af toe sy die oproep van haar dogter kry: “Ma, sit aan die televisie.” Só vertel Marita van der Vyver op die stoep van die Cape Riviera-gastehuis in Kaapstad op die bekendstellingstoer van haar jongste roman, Misverstand.

“Dit het gevoel soos die keer toe my man my met die nuus oor 9/11 gebel het.”

Die Paryse terreuraanvalle op 13 November 2015 het egter baie nader gevoel. Sy en haar gesin bly immers op die Franse platteland en hoewel dit ’n hele ent van Parys af is, kon sy eers teen 02:00 die oggend vasstel of al haar kinders veilig is.

“Kyk, ons het drie seuns in die huis en oor naweke kan jy nooit heeltemal seker wees waar hulle is nie. Ek het veral geskrik toe ek hoor die gyselaarsdrama was by ’n musiekkonsert – met dié dat die seuns altyd so agter die musiek aan is.”

Daarna kon sy glad nie slaap nie. “Ek het heel aand voor die televisie gesit en na die nuus gekyk. So iets raak ’n hele volk.”

Ten tyde van die aanvalle was Van der Vyver reeds kniediep in ’n roman oor Willem Prins, ’n “ontgogelde middeljarige prulskrywer”.

Sy speel al lank rond met die gedagte oor hoe dit sou wees om ’n blitsverkoper-hygroman onder ’n skuilnaam te skryf.

“Ek het al baie gewonder of ek nie maar ’n Fifty Shades of Grey kan skryf en lekker baie geld daaruit maak nie. Niemand hoef mos te weet dis ek nie.”

Ek kan nie oor ’n plek skryf as ek nie al self daar gestap het, die reuke geruik en die klanke gehoor het nie.

Haar gevolgtrekking is egter dat sy dit doodeenvoudig nie kan doen nie.

“Dit is ’n aanloklike idee om ’n klomp geld te maak uit iets wat jy gou met een hand afrits, maar dit is iets wat ’n baie spesifieke mindset verg en oor die jare is dit al te veel by my ingedril om nié clichés of te veel byvoeglike naamwoorde te gebruik nie.”

Toe laat sy dié werk maar aan Willem oor, en laat hom per-ongeluk-aspris in die middel van die mêlée beland. Dit is dan ook die bekendstelling van dié einste Misverstand wat Van der Vyver en haar Afri-Franse gesin na Suid-Afrika gebring het.

Haar man, Alain, meen Misverstand is nou die één Van der Vyver-boek wat die Franse behoort te lees. Marita is egter nie so seker of hulle in ’n Franse vertaling sal belang stel nie.

“Kyk, die Franse is mos nou maar verwaand en gee nie noodwendig om wat buitelanders oor hulle skryf nie. Daar is al duisende boeke oor Parys geskryf.”

Tog is hierdie roman een van die min fiksieboeke wat nou al oor daardie berugte aand van Vrydag die 13de verskyn het.

Dit is egter om ’n ander rede dat haar kinders nog nie haar boek gelees het nie. “Hulle lees nie my boeke nie. Jeugboeke, ja, maar met volwasse romans is dit nog in hierdie stadium vir hulle moeilik om die skrywer van die ma te skei.”

Sy meen ’n mens moet minstens 30 wees voordat jy jou ouers se boeke begin lees.

“Ek sien dit ook met my vriende wat kinders van skrywers is.”

Indien die drie seuns wel die roman sou lees, sou hulle dalk iets van hulself ontdek. Haar seun, Daniel, het soos die karakter Maurice op ’n jong ouderdom in Frankryk aangekom en soos Maurice praat hy ook soms Afrikaans met Franse sleng tussenin.

“Ek wou dit nie te pretensieus laat klink het met ’n klomp Franse woorde nie, maar om daardie karakter te kon skryf, moes ek net luister na hoe my seun praat.”

Alain se een seun het, soos Maurice, ook ’n doktorsgraad in filosofie behaal, en sy ander seun was ook in ’n stadium ’n kelner.

“Ja,” erken sy glimlaggend. “Maurice is al drie seuns in een.”

Sy deel ook graag stukkies van haarself aan karakters uit. Willem is ’n skrywer van “om en by” haar eie ouderdom, sy eks Renée woon, soos sy, nou al ’n geruime tyd in Frankryk, en soos Jackie was Van der Vyver ook al ’n joernalis en het sy ook in Frankryk kinders opgepas.

“Ek dink dit is my manier om empatie met my karakters te hê – deur iets van my eie ondervinding in hulle in te skryf,” verduidelik sy.

Met haar vorige boek, Al wat ek weet, moes sy in die vel van ’n tienerseun klim.

“Die jeugroman was goeie oefening om uit ’n manlike karakter se oogpunt te skryf, maar ek moet sê, dit is eintlik makliker om uit iemand van jou eie ouderdom se perspektief te skryf as wat dit is om ’n tiener-hoofkarakter te hê wat tussen twee wêrelde leef.”

Terwyl sy aan Misverstand geskryf het, moes sy ook ’n paar keer tydelik haar plattelandse leefwêreld vir dié van die Franse hoofstad verruil. Hier het sy foto’s geneem, metro gery en aantekeninge gemaak.

“Dit is maar die ou joernalis in my – ek kan nie oor ’n plek skryf as ek nie al self daar gestap het, die reuke geruik en die klanke gehoor het nie. Ek beskryf werklike plekke, so ek moes seker maak my feite is reg.”

Les Femmes Violentes is die enigste denkbeeldige plek in die boek. “Ek het in my gedagtes gesien waar die boekwinkel gesetel is en selfs ’n foto geneem van die bestaande boekwinkel, en toe iewers naby die La Belle Équipe-restaurant het ek ’n ander boekwinkeltjie met ’n off-beat naam raakgesien wat feministiese en gay literatuur verkoop.”

Die naam van dié spesialis-boekwinkel uit haar duim was die enigste groot beswaar wat die Parysenaar Georges Lory gehad het. Lory is ’n Fransman wat Parys soos die palm van sy hand ken en boonop Afrikaans lees en die werke van onder andere Breyten Breytenbach en Antjie Krog in Frans vertaal het. Hy het aangebied om die Misverstand-manuskrip deur te lees en die feite na te gaan.

Van der Vyver wou die winkel aanvanklik Les Violent Femmes noem, na die Amerikaanse rockgroep, maar Lory het volgehou ’n mens moet hou by behoorlike Frans, en indien dit ooit in Frans vertaal word, sal die Franse nie dié flater verstaan nie. Vandaar die naam Les Femmes Violentes (die gewelddadige vroue).

Vir verdere navorsing oor die aand van die 13de het sy na baie video’s en foto’s op die internet gekyk. Wat internetgebruik betref, meen sy die grootste uitdaging is om nie toe te laat dat jou aandag afgelei word nie.

“Dit is moeilik met sosiale media – as jy nou voor jou masjien sit en daar kom ’n ding op, dan wil jy gou kyk wie wat gesê het, en dit neem tyd in beslag.” Sy vertel van iemand wat nou die dag juis op sosiale media gesê het: “Sukses is 1% inspirasie en 99% wegbly van die internet.”

Sy gebruik darem ook haar Facebook-groep tot haar voordeel – soos byvoorbeeld om mense in te lig oor haar boekbekendstellings soos die een by die Alliance Française nou die aand. Sy sal ook partykeer haar volgelinge om hulp vra wanneer sy byvoorbeeld besig is met ’n rubriek.

“Die uitgewers wil graag hê hul skrywers moet twiet, maar ek kan nie nog dit ook hanteer nie. Dit neem reeds genoeg tyd om my Facebook-groep op datum te hou.”

Wonder sy ooit soos Willem op bl. 269 “beangs” oor waaroor sy volgende sal skryf, is sy “bevrees om ’n onderwerp aan te pak” of dat haar “storie op papier al verder wegdwaal” van die storie wat sy in gedagte gehad het?

“Ja,” sê sy, “veral laasgenoemde.”

“Stories wat wegdwaal, is iets wat my as skrywer beangs maak, want gedagtes en stories op papier is baie keer twee verskillende dinge, maar terselfdertyd laat dit my ook aanhou skryf. Ek het gelukkig nog nooit, touch wood, writer’s block gehad nie. My probleem is eerder dat ek te veel idees het en te min tyd.”

Sy dink ’n rukkie na oor die vraag of daar enige onderwerp is wat sy haarself belowe het sy nooit oor sal skryf nie.

“Ek dink nie daar is iets spesifieks nie,” sê sy oplaas. “In fiksie is niks ooit té naby aan jou om oor te skryf nie, want jy kan altyd maak of dit met iemand anders gebeur het. ’n Outobiografie sal ek byvoorbeeld nie skryf voordat ek báie oud is en báie mense in my lewe reeds dood is nie.”

En die vraag wat sy nog altyd in ’n onderhoud wou antwoord?

“Niemand vra ooit watter parfuum ek dra nie! Dis Jean Paul Gaultier. Ek gee nie eintlik om oor mode en ontwerpers en so nie, maar ek hou van Gaultier omdat hy ’n sin vir humor het.”

Ruik ’n mens die humor in die parfuum?

“Ek dink daar is definitief iéts,” lag sy.

Van der Vyver bly nou al van tyd tot tyd 20 jaar in Frankryk, maar voel steeds nie Frans nie.

“Dit is nou waar ek en Renée van mekaar verskil. Sý probeer wegkom van haar Suid-Afrikaanse wortels en ék probeer myne behou.

“In ons huis gly ons so van Frans na Afrikaans na Engels. Ek glo dit hou my brein aan die gang.”

Die taal waarin sy droom, hang af van wie in die droom praat.

“My man gaan nie skielik in my drome begin Afrikaans praat nie, en as ek byvoorbeeld oor my kind se skoolkonsert droom, gaan dit natuurlik in Frans wees. Ek dink die toets is die taal waarin jy vloek. En dit bly maar die lekkerste in Afrikaans!”

Sy dink ook nie sy klink regtig Frans nie. “Nee, ek sal nooit heeltemal die regte Franse aksent hê nie. Ek maak ook genoeg foute vir die Franse om binne die eerste drie sinne agter te kom ek is nie in Frank­ryk gebore nie.”

Wat is vir haar die grootste misverstand?

“ ‘Die lewe is een groot misverstand,’ as ek nou vir Willem kan aanhaal, en Danie Marais stel dit so mooi wanneer hy skryf ‘daar moet ’n misverstand wees, asseblief, dis nie my lewe nie [ . . .] ek het ’n boekprys in sub A gekry’.”

Meer oor:  Misverstand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.