Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
In dié stories vat die vroue voor

Veral vrouelesers sal aanklank vind by Erika Murray-Theron se nuwe verhaalbiografie, waarin die stories van etlike geslagte vroue teen die groter sosiopolitieke gebeure in die Afrikaner se geskiedenis uitspeel, skryf Anna Kemp.

’n Skerfie glas deur Erika Murray-Theron. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R195.

Erika Murray-Theron is welbekend en geliefd onder lesers danksy romans soos Sê Maria waarmee sy in 2002 die ATKV-prys vir gewilde prosa gewen het, en ’n Tapisserie met klein diere wat in 2007 as wenner in die Groot Romanwedstryd aangewys is. In haar nuwe boek pak sy haar eie familiegeskiedenis aan met toenemende fokus op haar komplekse en indrukwekkende ouma Issie Malherbe.

Self sien sy haar ouma Issie nie as uitsonderlik nie, sy sien haar (op bl. 28) “klein staan in ’n wye landskap . . . Sy is geen heldin nie. Sy het baie foute. Maar sy is ook nie ’n slagoffer nie. Haar dapperheid lê dieper as heldedade”.

Dié “wye landskap” omsluit Issie se voorgeskiedenis, haar eie lewe (waarin geo­grafiese verskuiwings wel ’n beduidende rol speel), asook die groter sosiopolitieke gebeure in die Afrikaner se geskiedenis. Die wel en wee van merkwaardige mense wat ten nouste met Issie verbind is, word vertel teen die agtergrond van onder meer die ontwikkeling van die Transvaalse Republiek, die aanloop tot en die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, Uniewording, die Rebellie van 1914, die 1922-staking, depressie en droogte en die opkoms en vestiging van “gesuiwerde” Nasionalisme.

Hóé dit vertel word, maak van hierdie boek meer as net ’n chronologiese opeenstapeling van vreugdes en verliese. Die skrywer/verteller verklap self die geheim van haar werkswyse: Soms kyk sy deur die loep van navorsing, soms met die oë van intuïsie of verbeelding. Hier en daar “jok” sy ’n bietjie (wanneer dit nodig is om háár waarheid te praat) en soms is daar net ’n skerfie gebreekte, verwronge glas waardeur sy na al die gebeure kan kyk (bl. 28); die skerfie glas van die titel, die skerfie(s) glas wat sowel fisieke as psigiese verwonding in hierdie familieverhaal veroorsaak.

’n Skerfie glas is ’n familiegeskiedenis wat veral tot vroue spreek. Geslagte sterk, onafhanklike (ondanks die “stelsels” waarin hulle geleef het) vroue tree na vore, vroue wie se dapperhede dieper lê as heldedade.

Wat ook opval oor dié vertelwyse is die omsigtigheid en deernis waarmee alle meespelers hanteer word. Van ironie en humor is nie veel sprake nie, van insigryke afstand baie. (Ek het wel gedink dat daar op die latere vrolike en “lawaaierige familiebyeenkomste” sekerlik heelwat meer familieskandes en -grappe gedeel word.)

Die skrywer het deeglik navorsing gedoen. Sy gebruik foto’s (waarvan ’n mens graag meer sou wou sien, maar wat sy nietemin in fyn detail beskryf), briewe, doodsertifikate, testamente, selfs haar grootouma se boekhouboek met interessante kant­opmerkings. Sy besoek familielede en ou familiewonings in verskillende dorpe. Sonder om die teks te oorlaai, bied sy baie en interessante detail (wat vir die nageslag van groot waarde sal wees) oor die daaglikse lewe van haar mense: hul (goeie) maniere en etiket, hul liefdevolle omgang met mekaar, hul klere, eetgewoontes, werkroetines, huise en tuine – goeie, ouwêreldse waardes wat van geslag tot geslag oorgedra word. Hoe treffend dat vier geslagte (en waarskynlik meer) vroue hul teeskinkborde op dieselfde keurige manier voorberei (bl. 142), wat as metafoor kan dien vir álles wat deur oorerwing (sedes en gene) ingesluit word.

Namate ouma Issie toenemend as hoofspeler die verhoog betree, en vae foto’s, flenters inligting en verbeelde werklikheid geleefde werklikheid word, kry die verhaal nuwe stukrag. Die toenemende teenwoordigheid van die skrywer/verteller self gee ook ’n sterker narratiewe struktuur aan die gebeure. Omdat die skrywer so ’n fyn en ryklik geskakeerde waarnemings- en skryfvermoë het, sou ’n mens haar selfs meer sentraal wou sien en hoor.

In The Hare with Amber Eyes (2010) slaag die Britse skrywer Edmund de Waal byvoorbeeld briljant daarin om sy familiegeskiedenis volledig en deurgaans vanuit sy eie, onmiddellike ervarings te vertel. In sy onoortreflike A Tale of Love and Darkness reik ook Amos Oz wyd en ver in sy geskiedenis in met homself as hooffiguur. Nederig kom Murray-Theron op die tweedelaaste bladsy tot die besef dat sy self gewillig moes wees om in die boek in te tree, om haarself bloot te stel – “dit was wat die boek oor Issie nog van my gevra het” (bl. 241). Sy hét, maar nie genoeg nie.

Waar sy wel ’n in- en aangrypende persoonlike toetrede (vir eens as hoofspeler) tot die verhaal maak, is in die merkwaardige derdelaaste hoofstuk, “Witbrood”. Sy staan onverwags terug en weg van haar familie en bied ’n perspektief (hare) op die knaende vraag na die afwesigheid (in haar boek en in haar lewe) van al die ander geskiedenisse van Suid-Afrika. Hoewel sy reeds die skerp skerfies glas van klasse-, maar veral rasseprobleme uitgewys het, spreek sy veral laasgenoemde direk hier aan. Op ontwapenend eerlike wyse skryf sy oor ’n dilemma wat Eva Hoffman uitvoerig behandel in After Such Knowledge: Memory, History and the Legacy of the Holocaust (2003). Hoffman verwys na die morele pyn wat in kinders ontketen word wanneer hulle bewus word van die feit dat ’n (voor)ouer selfs net ’n “minor Nazi” was, en dat hul geskiedenis verwerplik sou kon wees in die oë van ander: “I could imagine the dismay of learning you are the inheritor of a tainted, an abhorrent history” (bl. 118). Ook Wilhelm Genazino verwys op bl. 103 van sy roman Ein Regenschirm für diesen Tag (2003) na die “skuld van stelsels”, wat langsaam in ons insypel, terwyl ons meen om onskuldig in hierdie (onder meer historiese) stelsels te leef. Murray-Theron is deeglik bewus hiervan, en dié hoofstuk is die laaste stuk van die legkaart (waarna sy verwys in haar erkenningslys).

’n Skerfie glas is ’n familiegeskiedenis wat veral tot vroue spreek. Geslagte sterk, onafhanklike (ondanks die “stelsels” waarin hulle geleef het) vroue tree na vore, vroue wie se dapperhede dieper lê as heldedade. En oor 100 jaar sal die dokumentêre waarde van hierdie pointillistiese skildery (bl. 203) ’n nóg groter reik­wydte hê.

  • Anna Kemp is ’n kortverhaalskrywer.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.