Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
In Falliste se land is luister nié koning
Jen Thorpe fiksionaliseer en satiriseer die Rhodes Must Fall-beweging in haar roman ‘The Fall’, maar is slim genoeg om die slot só aan te bied dat die toekoms onseker en met ’n tikkie hoop daar uitsien, skryf Jonathan Amid.

The Fall deur Jen Thorpe. Uitgewer: Kwela. Prys: R320.

Suid-Afrikaners dink graag aan die land as besonders of uitsonderlik: Vergeet van die geskiedenis en dít wat op ander plekke gebeur – wat nóú híér gebeur is wat saak maak. Ons probleme en uitdagings is uniek en altyd erger as wat elders gebeur. Dié fenomeen staan bekend as die “myth of exceptionalism” en hier in Afrika het ons dit tot kunsvorm verhef: “South African exceptionalism.”

Die skrywer en vernaam feministiese akademikus Jen Thorpe vra sonder om doekies om te draai in The Fall: Wat is anders in die postapartheidsfeer van politiek en die maatskaplike as voor die koms van demokrasie? Waar is kontinuïteit sigbaar met die vorige regime? Waar het ons eenvoudig een stel kroeks vir ander wolwe in skaapsklere verruil wat in die naam van bevryding en vooruitgang daagliks steel by diegene wat dit die minste kan bekostig?

Thorpe besef ’n mens kan nie sommerso van ’n kultuur ontslae raak nie, nog minder van gevestigde netwerke van patronaatskap en bevoordeling.

Die romantitel verwys spesifiek na die tydperk 2015-’16 toe Suid-Afrikaanse kampusse die arena van ’n stryd om legitimiteit, betekenis, erkenning en gelykheid geword het. Die Rhodes Must Fall-beweging en die leiers van die beweging wat as “Falliste” bekend gestaan het, word in dié roman gefiksionaliseer en gesatiriseer.

Die “val” in die titel betrek ook die idee van hoogmoed wat tot ’n val kom en die “seisoensverandering” wat betref mag, ideale en waardes. Thorpe is slim genoeg om haar roman se slot só aan te bied dat die toekoms onseker en met ’n tikkie hoop daar uitsien.

Die leser kan nie The Fall aandurf sonder om ten minste een of elk van Thando Mgqolozana se Unimportance (2014), Finuala Dowling se Okay, Okay, Okay (2019) en die magistrale Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019) deur Etienne van Heerden te lees nie. Nie net is daar ’n gesprek tussen hierdie tekste nie, maar fassinerende skakels tussen veral The Fall en laasgenoemde.

Albei romansiers se hoofkarakters heet Thuli en is geseën met sekere “gawes”, maar ook diep gefolter en hulle staan aan die spits van die Fallistiese beweging. Hoe Van Heerden se Thuli met Thorpe se sterk heldin “kommunikeer” is slegs een rede om hierdie roman onder oë te kry.

Wat is die rol van die romansier daarin om die geskiedenis te fiksionaliseer en te ondersoek, en na verskillende vorms van waarheid te soek? Feitelike waarheid is natuurlik nie dieselfde as “narratiewe” waarheid nie: Die spanning tussen die wil om realisme en outentisiteit na te streef, “bots” in ’n sekere sin met die skrywer se vryheid en kreatiewe bevliegings om meer skeppend en “oop” met die waarheid om te gaan.

Die geskiedenis lewe; die verlede is nie dood nie.

Skerp lesers sal gou sien hoe Thorpe ’n bonatuurlike en prettige element – ’n magiese dieretuin wat aan Lauren Beukes se Zoo City en Broken Monsters herinner – hier inbring, maar ’n bespreking daarvan sal die leesplesier bederf.

Thorpe skryf in ’n toeganklike en kragtige register oor die staat, die rol van die polisie, kragdadigheid, aandadigheid, die misbruik van mag, vroue in magsposisies, en die konflik tussen generasies.

Wat val en wat bly staande? Die gebeure word uit die oogpunt van ’n verskeidenheid karakters waargeneem. Dit neem die leser ’n rukkie om sy voete te vind en te weet wie is wie en hoe die karakters met mekaar skakel. Die storie en die storie agter die storie kom egter lekker vinnig op dreef en bly enduit boeiend.

Die roman, soos Biblioteek, kan as “polifonies” gesien word in die sin dat dit doelbewus vir verskillende stemme en siens- en seggingswyses voorsiening maak. Die gevare van die “single story” (in die woorde van Chimamanda Ngozi Adichie) word hier nekom gedraai.

Thorpe maak uiteindelik die punt dat soveel van die Falliste se stryd – en ook die groter stryd in Suid-Afrika – juis wentel om die onvermoë om behoorlik na mekaar te luister, en te luister sonder om dadelik te antwoord.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.