Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
In Jeanne se kop

Humor en die oog vir die absurde voer die botoon in Jeanne Goosen se ‘Los gedagtes’, ’n versameling aforismes wat uit haar notaboeke saamgestel is, skryf Joan Hambidge.

Los gedagtes deur Jeanne Goosen. Uitgewer: Hemel & See Boeke. Prys: R120.

Jeanne Goosen beklee ’n ereplek in die galery van Afrikaanse romanskrywers: Ons dink aan belangrike tekste soos Om ’n mens na te boots (1975) met sy surrealistiese aanslag; Ons is nie almal so nie (1990) se onskuldige kinderverteller wat leuens aan die kaak stel; en Lou-oond (1987) met haar sterk feministiese onderbou.

Goosen word eweneens as digter gereken en lank voor die praatvers mode geword het, het sy dié vorm ontgin in onder meer ’n Uil vlieg weg (1971).

Voorts is daar dramas en kabarettekste en ’n kortverhaal soos “Aan die einde van die reënboog” met ’n singende Anneli van Rooyen wat gendersake vanuit ’n dwarse perspektief beloer.

Nou verskyn Los gedagtes. Goosen het sowat ’n dekade gelede in By (die Saterdagbylae in Die Burger) ’n weeklikse rubriek gehad waarin sy die menslike kondisie bekyk het. Menige Saterdag was hierdie leser lam van die lag.

By die Woordfees
Sandra Prinsloo, ’n jare lange vriendin van Goosen, lei op 12 Maart (11:00) in die Boektent ’n gesprek met Petrovna Metelerkamp oor haar Jeanne Goosen-biografie, Jeanne Goosen: ’n Lewe vol sinne, wat by die Woordfees bekend gestel word. Kaartjies kos R65 by Computicket of R85 by die deur.

Los gedagtes bevat aforismes wat grappig, absurd en hartseer is. De la Rochefoucauld was ’n beoefenaar van hierdie vorm, soos Oscar Wilde wat dikwels ’n dwarsklap kon uitdeel.

Ook Hennie Aucamp is bekend vir sý aforismes, soos in Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1989) en Pluk die dag: Aforismes en ander puntighede (1994).

Humor en die oog vir die absurde is volop in Goosen se teks. Hier is haar credo wat as die teks se rigsnoer dien (bl. 56): “Ek verteenwoordig niks. Wat ek besit, is nie ek nie. Niks verteenwoordig my nie. Maatskappy dwing die res op my af. Ek leef in ’n gemeenskap, seker en onderdanig, maar dit is die maklikste manier waarop ek ongesiens verby kan mik. Dis miskien waarom ek soms skryf. Ek wil die absurditeite wat ek om my sien of ervaar, onthou.”

Pretensie en vernaamdoenery word telkens aan die kaak gestel (bl. 12): “As iemand praat en jy verstaan niks wat hy sê nie, is hy ’n filosoof.”

En hierdie stelling laat jou weer dink (bl. 13): “Kreatiwiteit is nie verbeelding nie. Dit is onderwerp aan die risiko om aangesig tot aangesig met die realiteit te kom.”

Mal humor klink só: “Durban is warm vandag. Ek voel soos een wat in ’n marathonatleet se sokkie woon” (bl. 113) of “Moet nooit ’n geskenk aanvaar wat eet nie” (bl. 13).

Wrang, wrang uitsprake is volop, soos: “As jy selfdood wil pleeg, bly leef. Lewe is op sigselwers een lang selfdood (bl. 14); “Moenie steel nie, die regering hou nie van kompetisie nie” (bl. 16); “Trou is ’n begrafnis waar jy jou eie blomme ruik” (bl. 17); en “Moet nooit mense se intelligensie oorskat nie” (bl. 39).

Los gedagtes wil kennelik ook die gekskeer met selfhelpboeke: “ ’n Kritikus is ’n ou sonder bene wat ander leer hardloop” (bl. 69); “Moenie bang wees as jou vyande jou kritiseer nie, vrees hulle as hulle jou prys” (bl. 68); “Hou dagboek. En eendag sal dit jóú hou” (bl. 69); “Die kuns is om te leer hoe om jou ontevredenheid interessant aan te bied. Jy moet entertain, mense daarmee vermaak” (bl. 21); “Ek ken al die antwoorde, maar ek verstaan nie die vrae nie” (bl. 23); en “Vroue voel skuldig oor vet – selluliet heet dit. Dis omdat hulle lywe nie hulle eie is nie, maar aan die gemeenskap behoort” (bl. 25).

Die volgende het ’n bulder ontlok: “Daardie oor-bekende skrywer? Sy laat nie een steen ongepubliseerd nie” (bl. 47).

En is dié lot nie waar nie: “Jy is wat jy haat” (bl. 52); “Mense wat in glashuise woon, moet in die donker uittrek” (bl. 53); en “Dis nogal lekker, as jy tyd het, om die TV of die radio te surf. Dallas is terug op e-TV en elders red dr. Phil drie huwelike binne 50 minute. Vir mind-boggling is daar Radio Kansel” (bl. 63).

Los gedagtes is 114 bladsye van loutere genot, wat haar uitgewer Petrovna Metelerkamp saamgestel het uit wat Goosen alles met die hand in notaboeke gekrabbel het.

Diegene wat Goosen ken, weet sy is ’n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks.

Om haar te beleef is asof ’n mens in ’n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie.

Met Jeanne wat die pret dikteer.

Sy is Fellini en Pirandello saam in een mens.

  • Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Jeanne Goosen  |  Resensie  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.