Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Ingrid het my vertrou’
Ingrid Jonker, naak afgeneem op versoek van haar man. Die negatiewe bestaan nie meer nie. | Foto: Tom Burgers
Tom Burgers se ouers, Jacobus Wilhelm en Johanna, op sy oupa se verwoeste plaas.
Burgers as fikse jong bergklimmer.
| Foto:
| Foto:
Die foto van C.J. Langenhoven in 1931. | Foto:

Ek betrap Tom Burgers in mid-vlug as ’t ware. Toe die deur onder die hitte-verlepte kanferfoeliebos oopgaan en die Suidooster my met ’n verdwaalde Cape Gate-pamflet oor die drumpel druk, het hy reeds omgedraai.

Ek kry my sit op die bank, die enigste oop plek in ’n voorkamer verdwerg deur stapels foto’s, koeverte, boeke en papiere. Hy verdwyn skuifelend gangaf in ’n grys sweetpakbroek en donkerblou pantoffels. Met die terugkom hou hy ’n Polaroid-grootte negatief in die hand. “Kyk wat krap ek uit.”

Langs die neusskroef van ’n vliegtuigie staan ’n man in ’n driestukpak – kompleet met vliegmus en -bril – wit afgeëts teen die donker lug. Agterstevoor staan onderaan gedruk: “Op die aankoms van die vliegtog in Kaapstad uit Oudtshoorn, 21 Januarie 1931. Foto: Kaptein N.R. Cook, die loods.”

“Dis Langenhoven.”

Hy het die foto nog in Beaufort-Wes gekry, onthou Burgers. By Langenhoven se dogter, dink hy, en dit al die jare bewaar. ’n Kleinood en ’n stukkie Africana.

Net so was dit historiese foto’s wat sy naam onlangs in die nuus laat opduik het, maar dié slag wat hy self geneem het: van ’n naakte Ingrid Jonker in die laat 1950’s.

Die fotosessie was op versoek van die digter se man, Pieter Venter. “Maar geen van dié negatiewe bestaan meer nie,” sê hy, en sit sy 1970’s-styl-silwerraambril langs hom neer. “Ek het dit alles opgesny.”

Ek het daar opgedaag net toe W.A. de Klerk (die skrywer) hardop langs die graf sê: ‘Ja, en waar is André P. Brink nou?’

Hy het hul troufoto’s geneem, vertel hy. In die Paarl. “Sy’t gevra. Sy was ’n vriendin van my vrou, Rieta. Die twee het saamgewerk by ’n uitgewer in Kaapstad, ’n baie liewe Hollander.

“Ingrid het altyd met ’n pragtige hoed op geloop. Asof sy float, so dromerig. Toe ek nou die man ontmoet . . . dit sou mos nie werk nie. ’n Digter, en hy’t by ’n karverhuringsmaatskappy gewerk, man. Sy’t daai . . . hoe sal ek dit noem, mystique van ’n vrou gehad. Ek het van haar gehou.

“En toe gebeur die ding met André P. Brink . . .”

Jonker en Brink se liefdesbriewe verskyn ná 50 jaar vandeesmaand as Vlam in die sneeu; in Engels Flame in the Snow. Brink het ná herhaalde versoeke daartoe ingestem
net vóór hy onverwags, in Februarie vanjaar, op ’n vlug van Amsterdam na Kaapstad langs sy vrou, die skrywer en akademikus Karina Szczurek, gesterf het.

Sy weduwee het later die projek oorgeneem – ’n liefdestaak, wat sy vroeër gesê het haar nader aan haar man se “jonger self” gebring en opnuut respek gegee het vir sy fyn aanvoeling as argivaris.

In die aanloop tot die publikasie van die boek het talle artikels in plaaslike en internasionale publikasies verskyn. Veral foto’s van Jonker is van oral opgediep.

Een fotograaf se naam het telkens opgeduik, dié van Tom Burgers, ’n man wat as die oudste van nege kinders moes uitspring om sy ouers te help verdien, eers op 11 jaar skool toe is, en deur die jare sy liefde vir woord en beeld in fotografie uitgeleef het. Veral kunstenaars het voor sy lens gestaan: Gregoire Boonzaier, Jean Welz, Cecil Skotnes, Martin Versfeld, ­Anna Neethling-Pohl. En Ingrid Jonker.

“Vir die naakfoto’s het Ingrid en haar man na my ateljee in ons woonstel in die Tuine gekom. Dit was nie lank ná hul troue nie. Rieta het hom iewers geneem.

“Ek het al baie vroue afgeneem. Ingrid het my vertrou. Sy’t kom sit. Ons het gesels. Ek steek als weg, maar ek het haar jammer gekry daardie dag. Sy’t na my gekyk met so ’n uitdrukking van weerloosheid; van ‘Is dit nou nodig?’

“Daardie swart-wit-foto van haar gesig reg van voor? Sy was heeltemal naak daar.”

’n Paar jaar later was Tom ook by ­Jonker se begrafnis. “Ek het daar opgedaag net toe W.A. de Klerk (die skrywer) hardop langs die graf sê: ‘Ja, en waar is André P. Brink nou?’ Ek het saam met Bill by die SAUK gewerk. Agter ons was Jack ­Cope, Ingrid se ander minnaar en óók ’n getroude man, besig om in die graf af te klim . . .

“Cloete Breytenbach het die doods­foto’s geneem. Ingrid in haar kis. Daarvoor het ek het nie kans gesien nie.”


Dit eerste keer toe hy lig oor water sien speel deur die lens van sy bokskamera was hy terug by sy ma en die helder wintersoggende as ’n kind op die Hoëveld. Die bokskamera – “soos ’n toebroodjieboksie” – was ’n geskenk van sy pa.

“Toe ek grootgeword het, het ons niks gehad nie. My pa kom uit die Karoo. Hy’t op my oupa se plaas ’n lewe probeer maak, dit van voor af probeer opbou, maar die plaas was verwoes, afgebrand in die oorlog. Alles was doodgeskiet. My pa is later delwerye toe.”

’n Vergeelde sertifikaat in ’n plastiekomhulsel is met blou vulpen in sierletters ingevul: September 23rd 1928 Baptism ­ministered in the Diocese Mission District of Klerksdorp.

“Daar was nie ’n skool nie, nie ’n kerk nie. Die mense het vergaan van die honger dan kom hulle by ons aan. Dan help my pa hulle huise bou, en hulle vir hom, en my ouma bak buite, elke tien dae, en maak botter.

“Wat my ontstel van die moderne tyd, en ek kan niks daaraan doen nie, is hoe ek begin besef ek lewe in die buitenste ruim, weg van die natuur.

“Toe ek só groot was, het my ma my gevat, elke oggend, dan sou ons loop. Dan wys sy vir my die polle gras, die druppels dou en sê: ‘Thomas, wag dat die son opkom. As die son kom, maak dit diamante . . .’ ”

Hy warrel sy vingers vir ’n oomblik. Blaai dan stadig verder deur ’n album. Sy vingerpunte is dun soos dié van ’n kunstenaar, sy naels lank. Lewervlekke wys hy’s amper 90. “My dierbare mammie.”

Die vrou van sy oupa se broer, ’n Skot, Harriet Wheeler, het hom leer lees en skryf. “Sy was ’n onderwyser en verpleegster en in die konsentrasiekampe, maar het nooit daaroor gepraat nie. Dit was die atmosfeer waarin ek grootgeword het.”

Die gesin is later Kaap toe, en Tom het op 11 jaar vir die eerste keer in die skool beland, in Bellville. “Daar was manne van 18 saam met my in sub B.” Hy is vinnig aangeskuif en is uiteindelik na die splinternuwe hoërskool in Bellville.

“My droom was om musiek te gaan studeer. My pa se suster het ’n musiekgraad in Londen behaal. Maar daar was nie meer geld nie. Elke Sondagaand sou ons sit en oor die ou Stewart Warner na die stadsorkes luister. Selfs die kat het saam geluister.”

Só kom dit dat hy ná matriek sy tweede opsie volg, om by die SAUK aan te sluit. “Ek was gou in beheer van dramatiese kontrole, oftewel die byklanke.

“Ek onthou nog dit was die tyd toe mense van die BBC soms by die SAUK kom uitsaai het. Een ou, nog van Wallis, het ’n program gehad oor die Eerste ­Wêreldoorlog, en daarvoor was ’n inleiding van oorlogsgeluide nodig – kanonskote, geweervuur.

“Dit was die enigste keer ooit dat ek ’n fout gemaak het. Ek onthou die plaat goed, no. 1249. Op kant A was die oorlogsgeluide; op kant B ‘night noises’. En daar lui die man se sonore stem die stuk in: ‘At the end of the war . . .’ en al wat jy hoor is: krie . . . krie . . . krie . . . Maar ek was vinnig en het dit blitsig opgevolg met bam, bam, rattattatat!

“Ná die tyd het die man my selfs kom gelukwens met: ‘We had a good interlude in the war there . . .’ ”

Tom is later musiekskool toe, net soos hy aandklasse by die Universiteit van Kaapstad in poësie gevolg het.

Hy is geskei. Sy drie dogters, Anneke (van Zyl, in die advertensiewese), Michele (Burgers, aktrise) en Barbara (Joubert, ­Sarie Kos-redakteur) is deur Rieta grootgemaak.

Sy romantiese siel het hom laat skryf. Hy krap rond langs die faksmasjien, waarop ’n pak beskuit rus. Kom te voorskyn met ’n gerf papiere in ’n legger.

“Dis iets wat ek nog vir niemand gewys het nie,” sê hy en maak die blaaie haaks. Begin dan lees: “Die see is meedoënloos / in sy ewigdurende skommeling . . .

“Die see is nie vir my nie,” sê hy ná die slotreël. “Ek het ’n wydheidswaan. Ken jy Yeats? ‘When you are old’? Dis langs my bed. ‘As die grys ouderdom / jou inhaal . . .’

“Woord en beeld, hoe dit saamsmelt in fotografie. My Karoo-boek, ’n hartsboek, het ek twee jaar gelede self uitgegee ná ’n geraap en -skraap en ruim donasie deur ’n vriend. Ons het tien jaar daar gewoon, op Beaufort-Wes. My dogters en hul gesinne kom nog gereeld daar.

“Die Sederberge. Oom Wit Andries . . . Ek het berg geklim daar. As ’n jong man was ek deel van ’n bergklimklub. Ek en my pragtige suster, Harriet. Sy’s twee jaar gelede dood, ’n groot treurigheid in my lewe.”

Hy trek ’n foto onder ’n stapel uit, ’n landskap. In die agtergrond, verwronge klip in donker kontraste; voor, wit verbleikte tolbos. “Biljoene jare teenoor ’n era wat tot ’n einde kom . . .

“Dis waar ek eendag begrawe wil wees. Op Kromrivier, in die Sederberge. En wie gaan saam? Ja, wie gaan saam?” Hy kom moeisaam orent en haal ’n rooi kruikie bo van ’n rak af.

Die prop is van Prestik geprakseer; die naam met die hand in wit daarop geverf: “BUKS”. En daaronder, die foto vasgegom aan die fles, die oumansgesiggie van ’n schnauzer.

* Burgers se Karoo Pastoraal/Karoo ­Pastoralkan bestel word by michele.­burgers@cedarhouse.co.za.0 021-987-1366.

Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker verskyn by Umuzi en kos R350. ’n Spesiale, genommerde uitgawe verskyn as ’n boksstel met ’n unieke voorblad deur Hanneke ­Benadé en ’n ekstra foto-afdeling. Dit kos R1500.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.