Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Irma Joubert gesels oor laaste boek in oorlog-trilogie

Dit neem weke om Irma Joubert in die hande te kry. Die selfoonseine in die Krugerwildtuin is te swak vir ’n uitvoerige onderhoud en wanneer sy eindelik terug is in die beskawing, is sy so besig met boekpraatjies en onderhoude dat jy kwalik met ’n speld ’n leë tydjie tussen haar optredes kan raak druk.

Die skrywer Irma Joubert. Foto: Verskaf

Maar op pad Bosveld toe sal sy gesels wanneer hulle stop om bene te rek. So gesê, so gedaan.

Die telefoon het skaars ge-trieng, toe val sy met die deur in die huis. “Ek is só opgewonde. Na ’n plaas in Afrika was twee weke lank bo-aan die Nielsen-lys en het dus álle boeke uitgestof wat in Suid-Afrika verkoop word. Dis die beste wat enige van my boeke nog op die lys gevaar het.”

Die Lapa-uitgewer Madri van der Walt Victor sê dié Afrikaanse boek het selfs internasionale titels soos Barack Obama se memoires geklop en is tans steeds onder die topvyf.

Na ’n plaas in Afrika is die slotboek in Joubert se oorlog-trilogie en ’n lywige 557 bladsye dik.

Soos sy twee jaar gelede met haar optrede in Bloemfontein belowe het, sal lesers weer van die hoofkarakters in die vorige twee verhale, Immer Wes en Mentje, kind van die Pas-opkamp, teëkom. En dit op eie bodem in Afrika.

So lekker soos dit vir die leser is om die karakters in vredestyd te beleef, so is dit vir Joubert om hul “reünie” te kon bewerkstellig.

“Dis die heel lekkerste lekker,” sê sy oor Charles (in Na ’n plaas) en Oswald (in Immer Wes) se paaie wat met dié van Hildegard, Mentje en Tinus kruis.

Skryf het ná Joubert se aftrede as onderwyseres so deel van haar lewe geword dat sy reeds vir ’n volgende boek  navorsing doen. “Nie weer ’n trilogie nie, daarvoor is ek te oud, en ook nie weer oor die Tweede Wêreldoorlog nie. Maar dit gaan weer oor ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis.”

Die omslag van die laaste boek in Irma Joubert se oorlogtrilogie. Foto: Lapa

Haar ander groot “lekkerte” is navorsing wat sy ter plaatse doen. Sy gesels met oorgawe oor haar besoek aan Eaglesham, ’n dorpie in Skotland waarvan sy meer wou uitvind, want dit is waar die fiktiewe Charles tydens die oorlog by sy tante Grace in Na ’n plaas in Afrika woon.

Skotland as agtergrond was deel van Joubert se aanvanklike beplanning. Sy het van die begin af gesê sy begin die trilogie met Immer Wes, wat in Duitsland afspeel, dan Nederland, waar Mentje afspeel, en Na ’n plaas in Afrika, wat oor gebeure in Brittanje sal handel.

Vir haar navorsing oor die eerste twee boeke het sy in dieselfde strate geloop as die hoofkarakter Hildegard in Immer Wes, en vir Mentje het sy die plek besoek waar die Pas-opkamp was.

Die piepklein dorpie Eaglesham was in haar visier vir die derde boek. Dit is hier dat die Duitse adjunk-bevelvoerder Rudolf Hess, Hitler se regterhand, in 1941 ’n noodlanding gemaak het.

“Hess wou vrede maak met die Britte, terwyl Hitler geglo het hulle het te groot geskrik met die Slag van Dunkirk, hulle sal nie weer aanval nie.

“Aangekom in Eaglesham – die hele dorp is ’n museum – het ek besef ek weet meer van die geskiedenis as die toergids. Gelukkig het ek die voorsitter van die historiese vereniging opgespoor, wat oorgeloop het van gretigheid om te gesels.

“Nou moet ek jou sê, as dit nie vir my seun Jan-Jan (Joubert, joernalis en politieke ontleder) was nie, sou ek sonder al die waardevolle inligting teruggekeer het. Ek moet liplees, want ek hoor nie meer goed nie, maar die man het onverstaanbare Skots gepraat.

“Julle joernaliste kan mos gesels en gelyktydig aantekeninge maak. Ek kan nie. Later was ek so verlore, ek het my vrae vir Jan-Jan aangegee, toe dink die man hý skryf die boek.”

Ondanks die vreemde taal, snerpende koue en gietende reën, wat volgens Jan-Jan van bo, links, regs, voor en agter kom, het die voorsitter stapels dokumente uit die Eaglesham-argief vir Joubert gefotostateer en het sy die dorpie met meer bruikbare inligting verlaat as waarvoor sy kon hoop.

Die belangrikheid van die besoek lê in die fiktiewe karakter Charles, wat saam met sy tante op die plaas gekuier het toe Hess met sy valskerm daar geland het.

Dit is hoe deeglik Joubert met geskiedkundige feite in haar romans omgaan. Al is Charles en sy tante fiktief, moet die geskiedkundige feite oor Hess se landing korrek wees. Dié geskiedenisonderwyseres van vroeër duld nie onakkuraathede nie.

Joubert sê die saadjie vir Charles se verhaal in Na ’n plaas in Afrika is dekades gelede in haar kop geplant. Allan Charles Heath het, toe sy ’n meisietjie was, by hulle op die plaas gewerk. Hy het in Skotland by ’n tante gebly wat hom ná die oorlog na Swaziland gestuur het omdat hy graag wou boer.

Allan het verlief geraak op die suster van Joubert se pa, die argitek Gerard Moerdijk, hulle het getrou en hy het in ’n formidabele boer ontpop, al het hy geen opleiding gehad nie.

Hoewel Charles se storie glad nie dié van Allan is nie, het die gegewens in Joubert se kop bly broei en dekades later in die slotboek van haar oorlogtrilogie neerslag gevind.

  • Na ’n plaas in Afrika is uitgegee deur Lapa (nou deel van Penguin Random House) en is in boekwinkels te koop.
‘Na ’n plaas in Afrika’

In die Tweede Wêreldoorlog word die sesjarige Charles Smith saam met 3 miljoen kinders uit Londen na veiliger gebiede ontruim. Hy gaan bly in ’n klein dorpie in Skotland by ’n onbekende tante van sy pa.

Aan die ander kant van Europa ruk die Duitse Sesde Leër op teen Rusland. Tussen die manskappe is die vurige maj. Oswald von Stein, Hildegard (in Immer Wes) se stiefseun. Voor hulle wag die Russiese winter, Stalingrad en die krygsgevangenekampe van Siberië. Altesaam 90 000 word gevange geneem, net 6 000 oorleef.

Charles en Oswald, wat teenoorgestelde kante van die oorlog beleef, ontmoet mekaar op pad na ’n plaas in Afrika, waar hul paaie met dié van Seretse Khama, voormalige president van Botswana, en Mentje de Vries kruis.

Anders as met die vorige twee boeke in die trilogie word die verhaal grootliks vanuit ’n manlike perspektief vertel.


‘Geen oordeel’

In ’n resensie op Litnet skryf Ilse Salzwedel: “Daar is geen morele oordele nie. Maak nie saak hoe ’n mens voel oor Hitler en sy verfoeilike politiek nie, sowel die Nazi-soldaat Oswald as Rudolf Hess se verhale word so vertel dat die leser op die karakters kan fokus sonder om eens aan die politiek te dink.”


Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Penguin Random House  |  Charles Smith  |  Lapa  |  Barack Obama  |  Nazi  |  Hitler  |  Nielsen  |  Irma Joubert  |  Krugerwildtuin  |  Boeke  |  Bosveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.