Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Irna van Zyl se twee misdaadromans word televisiereeks
Irna van Zyl Foto: Joanne Olivier

Die skrywer Irna van Zyl se eerste twee misdaadromans is op pad na die klein skerm.

Moordvis deur Irna van Zyl.

Die veteraan-vervaardiger Mfundi Vundla, onder meer verantwoordelik vir die SABC 1-sepie Generations, beplan om Van Zyl se misdaadromans Moordvis en Gifbeker tot ’n televisiereeks te verwerk.

Gifbeker deur Irna van Zyl.

“Ek is baie opgewonde en nuuskierig om Storm op die skerm te sien,” sê Van Zyl oor die hoofkarakter, ’n polisievrou en speurder wat in Moordvis en Gifbeker figureer. Storm van der Merwe keer ook terug in Van Zyl se derde misdaadroman wat in 2020 verskyn.

“Ek is baie dankbaar en bly oor hierdie nuus, ook omdat dit Mfundi is, wat ’n groot naam is.

“Storm se haarstyl verander ook in die derde boek – daardie kurktrekkerkrulle. Ek het nie ’n clue watter aktrise haar sal speel nie, maar dit sal nie moeilik wees om iemand te kry nie,” sê Van Zyl oor dié karakter wat ’n Volla ry, ’n hond het en nie vir haar lengte bekend is nie.

Penguin Random House, wat die boeke uitgereik het, het die regte by Van Zyl gekry. Sy is nie by die verfilming betrokke nie.

“Ek moes die boeke hiervoor opsom. Ek dink ’n boek soos Gifbeker is veral nie een wat baie sal kos nie, omdat dit in baie min lokale afspeel. Dit is vir my lekker dat die boeke op ’n ander manier ook lewe kry. Televisie en rolprente help boeke en net so help boeke televisie en rolprente as ’n mens kyk hoeveel van hulle verwerk word. Daarom is ek veral bly oor die moontlikheid van my boeke op die klein skerm.”

Moordvis speel naby Hermanus op die fiktiewe dorpie Grootbaai af, haaiduik-hoofstad van die wêreld.

In Gifbeker is Storm teenwoordig in ’n restaurant waar ’n kosblogger sterf.

Van Zyl het in 1995 ’n kortverhaalbundel, Grootmensspeletjies, die lig laat sien.

Sy was ’n joernalis en onder meer redakteur van die tydskrifte De Kat en Insig.

Sy was ook redaksionele hoof van New Media Publishing en het ’n kosrubriek vir die webblad Eat Out behartig.

Albei Van Zyl se romans het ook in Engels verskyn.

Mfundi is die vervaardiger van flieks soos Soweto Green en In My Country. Laasgenoemde is gegrond op Antjie Krog se boek Country of my Skull wat handel oor die Waarheid-en-versoeningskommissie in die 1990’s.

Meer oor:  Penguin Random House  |  Irna Van Zyl  |  Mfundi Vundla  |  Televisiereeks  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.