Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Is die ramp ’n poort na die lewe of die dood?

Francois Smith het soms aan  sy tweede roman gedink as  ’n soort mansteëhanger vir ‘Kamphoer’, omdat hy in die nuwe boek so begaan was oor die wit, heteroseksuele man se perspektief, het hy e-pos-langs aan Johan van Zyl gesê.

Francois Smith, deesdae lektor in Afrikaans en Ned
Francois Smith, deesdae lektor in Afrikaans en Nederlands en kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat, het sy tweede roman, Die kleinste ramp denkbaar, opgedra aan sy “pa, Hendrik Smith, van die plaas Mispa in die distrik Rouxville”. Foto: Mlungisi Louw

Wanneer en waar het die idee ontstaan wat uiteindelik die karakter Gustav van Aardt en Die kleinste ramp denkbaar sou word? En hoe gaan jy lesers antwoord wat wil weet wát “die kleinste ramp denkbaar” is?

Toe ek besig was om Kamphoer te skryf, dalk selfs nóg vroeër, was ek een winter op die plaas waar ek grootgeword het, die einste Mispa in die distrik Rouxville wat in die opdrag van die boek genoem word. Ek het ’n slegte griep gekry en is vir die eerste keer sedert my skooldae na die dokter op Rouxville, dr. Willem Hanekom, ’n heerlik eksentrieke man met ’n uitspattige verbeelding en ’n onstuitbare praatlus.

Die besoek het maklik ’n uur geduur waarin hy onophoudelik gesels en die een Rembrandt van Rijn-sigaret ná die ander gerook en my selfs ’n inspuiting gegee het met die sigaret in die ander hand. Een van die goed wat hy my vertel het, is dat sy eintlike belangstelling die filosofie is, en asof hy sy aanspraak wou illustreer, het hy daar tussen die botteltjies op ’n rak ’n boksie gekry wat hy op die tafel omgekeer het. Daarin was ’n klomp koerantknipsels, meestal die gedagte vir die dag uit Volksblad, en ek het my verbeel ek het my ouma se handskrif op een herken. Dit was die soort ding wat my ouma gedoen het, mooi gedagtes versamel wat sy vir die een of ander ontvanklike siel kon gee. Ek dink die stapeltjie Faith for Daily Living in Van Aardt se toilet kom ook van my ouma af.

Daardie toneel met my en die dokter het in my vasgeslaan en begin broei.

Goed het daaraan begin saamklont, dit het gemuteer, ek het kort-kort gedagtes daaroor neergeskryf en algaande besef daar is iets seminaals daarin?.?.?. dit is íéts, maar wát?

Op die een of ander manier, hóé weet ek nie meer nie, is ek in daardie oertoneel deur ’n polisieman vervang, of het ek die polisieman geword. Laasgenoemde is nie onwaarskynlik nie, want die heel eerste beroep wat ek oorweeg het, was polisieman nadat ek op die ouderdom van so nege, tien in die greep van die Fritz Deelman-boeke beland het.

Trouens, die heel eerste werktitel van die roman was Frankie Turkstra en die bontpootbosluis, wat ek moes laat vaar nadat ek agtergekom het bosluiskoors word nie deur die bontpootbosluis veroorsaak nie, en natuurlik toe die boek iets anders geword het as ’n parodie van die speurverhaal.

Maar waarmee sit ek toe? Met die dokter, die polisieman, die dorp. Dit was aanvanklik net ’n soort vae krieweling, maar ál meer het ek gevoel hierdie drie bestanddele is ’n soort elementêre mengsel wat jy, as jy lank genoeg roer, kan laat transformeer tot iets wat ’n mens vir die jongste literêre godjies kon voorsit, ’n speursprokie, dus.

In dié sprokie raak die (goeie) dokter meegevoer deur die (slegte) polisieman se koorsdrome. Dat dit die resep vir ’n ramp is, hoef ek nie uit te spel nie, hoewel die ramp wat ter sprake is, allermins ons huidige ramp is. Dit is iets wat ek nie kon voorsien nie.

Dat dit die resep vir ’n ramp is, hoef ek nie uit te spel nie.

Die boek speel wel af in daardie geweldige droogte van ’n jaar of twee gelede, en dan is daar ook die verskriklike verval van die Vrystaatse platteland. Die Vrystaat is ’n geplunderde provinsie, maar miskien is hierdie rampsalige toestande net die teelaarde vir die eintlike ramp, en dit is ’n ramp van die verbeelding, die fantasie, oftewel ’n bedinksel, vandaar die “denkbaar” in die titel.

Dis ook by uitstek ’n mansbedinksel, hierdie ramp, ’n mansfantasie. Maar die eintlike speurtog agter hierdie vraag aan, dink ek, is of die ramp ’n poort is tot die dood of die lewe.

’n Ander leser noem hierdie roman jou “ware” debuut: Kamphoer was ’n opdragwerk gegrond op die feite in Nico Moolman se boek The Boer Whore; Die kleinste ramp denkbaar lyk soos die eerste roman wat volledig in jou verbeelding gebore is; en voorts gaan debuutromans dikwels om met kwessies uit die derms en die persoonlike verlede. Jy skryf immers dié keer van jou eie geslag en tyd en uit die oogpunt van ’n “hoogs gekultiveerde wit man” – ’n etiket wat sekerlik ewe gemaklik om jóú nek sou kon hang.

Soms het ek aan Die kleinste ramp denkbaar gedink as ’n soort mansteëhanger vir Kamphoer, omdat ek so begaan was oor die wit, heteroseksuele man se perspektief – dit is die sentrale bewussyn van hierdie boek, en ek sê dit byna apologeties, want ek weet dit is iets wat ’n klomp lesers by voorbaat die moer in sal maak.

Hierdie protagonis is daarby ’n erg libidineuse man, as ek my ’n literêre vloekwoord mag veroorloof, wat gelei word deur sy intens begerende oog, sy fantasie. Het iemand gesê dis ’n boek wat net oor seks gaan? Dan is dit die laaste boek daaroor, ek belowe, maar ek wil nog een oor die Vrystaat skryf – ek is besig daarmee – oor my haas verterende verbintenis tot hierdie eindelose, glunderende leegheid in die hart van ons land.

In die onderhoude oor Kamphoer destyds was jy erg onder die indruk van die verantwoordelikheid om as man oor vroue-trauma te skryf. Dié keer bekyk jy die land deur die oë van ’n bevoorregte wit man in ’n tyd waar daar toenemend geëis word dat wit mense hul bek hou en luister. Jou roman voel soos ’n “geskrewe reaksie” daarop, wat mens laat wonder of skrywers deur hul skryfwerk aan die openbare diskoers móét deelneem. En waarom wil ’n mens dit in Afrikaans doen?

Ná dese weet ek dit is dieselfde probleem: Of jy oor ’n man of vrou skryf, dis ewe moeilik. Natuurlik het elkeen sy spesifieke gevare, en dit sal ’n wit man wat tradisioneel knussies daarin sit, loon om ekstraversigtig te wees oor ’n klomp dinge. Maar die fundamentele skrywerlike probleem bly presies dieselfde: Jy moet oortuig – of jy nou skryf uit die perspektief van die amoeba of van Donald Trump. En ek wil hê dit moet saak maak dat ek dit in Afrikaans skryf. Absoluut.

Dit is in elk geval die enigste taal wat ek goed genoeg beheer om enigsins te probeer doen wat ek dink die heel moeilikste ding is om te doen: Om te skryf.

Bestaan daar iets soos die “tweedeboeksindroom”? Was dit intimiderend om weer aan die skryf te kom ná ’n debuut soos Kamphoer, wat baie goed ontvang is deur lesers én resensente én ongekende verkope behaal het?

Tyd was eintlik vir my ’n groter probleem. Kamphoer het my ’n werk by die Universiteit van die Vrystaat besorg, en om in ’n laterige stadium van jou lewe in die akademie te beland is waaragtig om van die hoë duikplank af te spring.

Maar uiteindelik het die vrees om nié te skryf nie groter geword as die vrees vir mislukking, en toe het ek bloot begin doen wat ek by die studente probeer tuisbring en dit is die aanleer van ’n skryfroetine – elke dag moet jy voor die rekenaar se onverbiddelike oog aanmeld, of jy jou daartoe geroepe voel of nie.

Toe kry ek ’n rugoperasie en dag, a, in die ses weke herstelverlof gaan ek die boekie knak. Maar vader tog, niemand het my vertel wat narkose aan jou kop doen nie. Eers heelwat later, nadat ek weer begin werk het en net sowat twee uur skryftyd per dag gehad het, vroegoggend voor werk, toe kom ek agter watse twak ek in daardie tyd ná die operasie geskryf het. Maar op die gevaar af om blasé te klink was dit hoog tyd om onder Kamphoer se skadu uit te kruip.

Gustav het ’n komplekse verhouding met sy vervalle grootworddorp, maar voel ook besitlik daaroor. Is jy ’n plattelander in murg en been? Kom jy nog in Rouxville?

Die dorp in die boek is nie my grootworddorp, Rouxville, nie, maar ’n konglomeraat van dorpe wat ek ken of onthou, waardeur ek soms ry en waar ek soms stilhou. Ek kom wel dikwels nog op Rouxville, ry dan by die skool verby, by my oupa-hulle se huis, die kerk, of gaan stop in die township, Roleleathunya, by afgetrede plaaswerkers. ’n Hele paar keer al het ek, soos Van Aardt, met ’n inkrimp van die hart gedink alles wat ek is, het ek hier geword.

Wat of wie is die vroegste invloede op jou skryfwerk en hoe manifesteer dit in jou boeke?

My ma, wat vir ons kinders elke aand met bedtyd uit die FAK gesing het, dis die eerste een. Daaruit kom ook my twee oertekste, die Vrystaatse volkslied en “Die dood van oupa uil”. En in daardie blootstelling wat ek – ons – by my oorlede ma gekry het, kry die begrip “moedertaal” vir my beslag, in die omvattendste en innigste sin van die woord.

Die boek is wel opgedra aan jou pa, Hendrik Smith.

My liefde vir my pa het iets te make met my liefde vir hierdie land en sy hele boel beklotterde mense. Ek dink die boek gaan ook in ’n groot mate daaroor, oor die lewe hier. Die storie is ene versinsel, maar die een toneel wat ek net so by my pa afgekyk het, lank gelede, al kan ek ook onthou dat my pa my destyds met ’n besembostakkie probeer wegpiets het van die aanskoue daarvan, is daardie inseminasietoneel.

Hoe verander skryf jou?

Die een frase wat ek uit The Catcher in the Rye onthou, is daardie geïrriteerde bliksempie Holden Caulfield wat gesê het sodra hy oor iemand begin vertel, begin hy na daardie persoon verlang. Ek onthou dit seker heeltemal verkeerd, maar ek wíl dit só onthou, want dit is wat skryf aan my doen.

Is daar enigiets van kardinale belang wat jy oor die boek wil sê wat nie in die vrae ter sprake gekom het nie?

Oor hoekom die boek so geel is: Ek is jammer, ek besef dit kan mense laat gril, soos dit in die roman ook een van die karakters die horries gee. Maar kleure speel wel ’n rol en dit kom eintlik uit ’n vroeë stadium in die boek toe ek nog nie eintlik geweet het wat om te skryf nie en probeer slim wees het deur allerhande literêre en mitologiese verwysings in te bou, onder meer die kleursimboliek.
 Daar het gelukkig nie veel daarvan gekom nie, maar die kleure – die blou, groen, rooi en geel – het gebly, onder meer omdat die slot van die boek heel vroeg al daar was.
Ek het met die skryf vaagweg onthou dat ek dié slot iewers neergeskryf het en toe ek in my dagboek/notaboek daarop afkom, was ek verstom om te sien ek het dit reeds in 2014 geskryf, in die doodsnikke van Kamphoer, dié toneeltjie van die man wat stilhou vir ’n geel blommetjie langs die pad. Die titel kom ook van daardie toneel en my gewaarwording dat daardie minuskule geel spikkeltjie lê op die breekpunt tussen ’n onherroeplike verlies en ’n kardinale insig. Ek het gesoek en gesoek na ’n woord, ’n frase, wat vir my die essensie daarvan sou vasvat.
“Dis ’n ramp!” is een van die goed wat by my opgekom het, en toe kom daar ook so ’n stemmetjie wat sê: Maar dis darem maar ’n klein rampie. Siedaar.

Meer oor:  Francois Smith  |  Onderhoud  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.