Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Is Michel koning in land van blindes?

Is ‘Serotonin’, die jongste roman deur die berugte Franse skrywer Michel Houellebecq, nóg ’n bevestiging van sy groeiende reputasie as die belangrikste kontemporêre romansier en wiggelaar van die kultuur en die politiek, wonder Loftus Marais.

Michel Houellebecq

Serotonin deur Michel Houellebecq. Uitgewer: William Heinemann. Prys: R290.

Profeet. Pornograaf. Vrouehater. Rassis. Genie. Filosoof. Skoorsoeker. Die belangrikste kontemporêre romansier. Dít is van die bordjies wat al aan die berugte Franse skrywer Michel Houellebecq se nek gehang is.

“A week doesn’t pass without someone talking shit about me in some kind of publication,” sê die karakter Michel Hou­ellebecq in die roman The Map and the Territory (2010). Houellebecq het al in sy werk kommentaar gelewer oor sy status as beroemde figuur en met dié meningstuk sluit ek my moontlik aan by die kring van die strontpraters.

Vir die oningewydes wat wil weet wie die omstrede kalant is: Houellebecq is in 1956 op die Franse eiland Réunion in die Indiese Oseaan gebore. Hy is vir ’n kort rukkie deur sy grootouers in Algerië grootgemaak voordat hy na sy ander ouma in die noorde van Frankryk gestuur is. Daar studeer hy agronomie, en bepeinsings oor die Europese landbousektor duik veral op in sy debuutroman, Whatever (1994), asook in sy nuwe roman, Serotonin, waarvan die Engelse vertaling einde Oktober plaaslik verskyn het.

Hy sit lesers aan die dink oor die huidige orde en sy heilige koeie.

Die jong Houellebecq werk as rekenaarprogrammeerder, is ’n tyd lank ’n tegniese hulpbeampte in die Franse nasionale vergadering en publiseer ook poësie.

Maar dis eers met die vertalings van sy romans Atomised (1998) en Platform (2001) dat die Houellebecq-fenomeen die breër internasionale leespubliek soos ’n storm getref het. Ek was ’n voorgraadse literatuurstudent in dié tyd. Die grootliks knus letterkundige wêreldjie van linkse gekloek en polities korrekte kopknikkery het behoorlik gesteier onder die Fransman met sy eiesoortige kritiek op die sleutelwaardes van dié tyd, naamlik ekonomiese liberalisme, individualisme, globalisme en absolute seksuele vryheid.

Houellebecq word dikwels as ’n siener beskryf. Platform, wat eindig met ’n groot simboliese Islamitiese terreuraanval, het knap voor 11 September 2001 verskyn. Sy roman Submis­sion (2015), waarin hy skryf hoe ’n Moslem-regering beheer oorneem van Frankryk, is gepubliseer op dieselfde dag – 7 Januarie 2015 – as die Charlie Hebdo-aanvalle in Parys. Houellebecq se gesig was op die voorblad van daardie dag se uitgawe.

Serotonin, waarin Franse boere ’n klein revolusie teen wurgende EU-landboumaatreëls begin, het weer op boekwinkelrakke in Frankryk geland knap voordat die historiese Gilets jaunes-protesbeweging vlamgevat het.

Sy aanhangers sê Houellebecq is so in voeling met die tydsgees dat hy ’n soort wiggelaar van die kultuur en die politiek is – hy sien dinge raak waarvoor ander skrywers blind is. Nog ’n klein voorbeeld: In Atomised kom ’n mens agter hy was reeds in 1998 gefassineer deur die moontlike opkoms van die Le Pens se verregse Front National.

Houellebecq se hoofkarakters is dikwels mans wat diep ongelukkig is. Dit is ’n lelike veralgemening, maar hulle werk dikwels in die staatsdiens, is enkellopend, het gereeld weggooi-seks, kyk baie televisie en eet mikrogolfoond-etes. Hulle het geen verhouding met hul ouers nie.

Deur dié karakters se dade skets Hou­ellebecq ’n beeld van die moderne Westerse wêreld as ’n betekenislose plek, ’n samelewing wat so geobsedeer is met die individu dat dit verbrokkel het in klein, selfsugtige, onbevredigbare eenheidjies – die geluklose enkeling. Hier is ’n aanhaling uit Platform waarin ’n karakter teen die Weste se beheptheid met die individu sê: “It is wrong to pretend that human beings are unique, that they carry within them an irreplaceable individuality . . . the idea of the individual is nothing more than pompous absurdity. We remember our own lives, Schopenhauer wrote somewhere, a little more than a novel we once read. That’s about right: a little, no more.”

Houellebecq glo die seksuele revolusie het die laaste skans tussen die enkeling en die mark, naamlik die familie, vernietig. Die mens is nou uitgelewer aan ’n ekonomiese oppervlakkigheid en ’n najaag van plesier met geen groepsordening wat betekenis kan bied nie.

Houellebecq suggereer ook dat ware seks vir die moderne Westerse mens onmoontlik geraak het. Ons is só gefokus op onsself dat dit ondenkbaar geword het om onsself in intimiteit te verloor, om onsself te onderwerp aan die ander. Ware seks bestaan ten minste uit ’n gedeeltelike fokus op die ander en hul plesier, en dis nie meer moontlik nie.

’n Deel van die probleem is ons verafgoding van jeug. Houellebecq se karakters het ’n absolute vrees vir “sagging flesh”. Die mens word onbruikbaar as hy oud raak. Vandaar ook al die gevalle van selfmoord en genadedood in Houellebecq se verhale. Ouer mense, of mense in pyn, wil nie ’n las vir ander wees nie, wil nie ander se lewensplesier versuur nie. Daar is geen groep of stelsel wat omsien na hul eie nie – om nie eens te praat van ’n morele kode wat lewe tot elke prys beskerm nie. Die mens is weggooibaar sodra hy nie meer “plesierig” is nie.

Dit is ’n diep, donker en erg Franse misère hierdie. Maar ’n mens moet Houellebecq anders lees as die tuinvariëteit-pessimis. Hy is eintlik maar ’n ingewikkelde, knorrige, bitter, speels-siniese ou omie.

’n Deel van die sware strominge in sy werk is ’n ligte asprisheid, ’n galgehumor wat deur alles vloei. Dit het – en hier steun ek op die siening van die akademikus Louis Betty – die aard van ’n vermaaklike, maar tog vreesaanjaende gruwelverhaal. Ons moenie Houellebecq se boeke as sosiologiese manifeste of as realistiese romans lees nie, sê Betty – “like all horror stories their purchase on reality is only partial”.

Betty noem Houellebecq se genre “materialist horror”. Die vryemark-kapitalisme het die mens so verarm dat die monsters wat hom opvreet sy eie afgeslotenheid en plesiernajagery is.

Betty gaan verder en noem Houellebecq ook een van die belangrikste religieuse skrywers. Houellebecq beskou homself weliswaar as ’n agnostikus, maar Betty voer aan die onbevredigbare versugting na die orde en betekenis van geloof is eintlik Hou­ellebecq se hooftema.

Frankryk is dalk die juiste plek om algemene sekularisasie te gaan ondersoek; soos Betty aandui, gaan slegs 12% van alle Franse burgers gereeld kerk toe (in die VSA is dit 61%).

Nog ’n hooftema in Houellebecq se werk is die dikwels onbevredigbare versugting na liefde. In ’n sekere sin is van sy romans karakterstudies van die lááste mans wat nog ’n klein bietjie kon liefhê net voordat liefde uit die samelewing verdwyn.

Dit is ook so in Serotonin, waarin ons die arme staatsagronoom Florent-Claude Labrouste ontmoet.

Hy wil al geruime tyd ontslae raak van sy Japannese meisie, net éffentjies meer noudat hy afgekom het op ’n video van haar wat gelyktydig seks het met ongeveer 15 mans en ’n ander video waarin sy seks het met honde.

Florent vlug uiteindelik en ’n dokter skryf vir hom ’n nuwe antidepressant voor, maar hy weet dis nou ’n afdraande pad – hy is in sy 40’s en dinge gaan nie beter raak nie. Hy onthou veral sy wonderlike jare saam met die jonger Camille toe hy gelukkig was in die noorde van Frankryk waarheen hy later uitwyk.

Ook in die noorde van Frankryk woon sy destydse studentevriend Aymeric. Aymeric kom uit ’n ou adellike familie, maar hy en sy medeboere in die noorde word versmoor deur die landbouburokrasie van die Europese Unie.

Die EU funksioneer hier as die jongste Houellebecqiaanse vergestalting van die vernietigende wêreld- vrye mark. Dit het nie net liefde, geloof en die familie verwoes nie, maar ook die eens betekenisvolle en tradisieryke rol van die landbou.

Een van die roman se sleuteloomblikke is ’n soort omverwerping van die Franse Revolusie. Die adellike Aymeric en sy medegrondbesitters begin ’n gewelddadige protesbeweging met tragiese gevolge. Dit is nogal betekenisvol as ’n mens in ag neem dat die Franse Revolusie beskou kan word as die begin van vryheid, gelykheid en valse broederskap van die individu-behepte demokratiese bestel . . .

Serotonin is vol tipiese politiek inkorrekte Houellebecq-steke. Brose lesers kan maklik verstik in sy kommentaar oor gays (“now they formed couples, the little faggots”), Nederlanders (“a race of opportunist polyglot tradespeople it can’t be said enough . . . Holland isn’t a country, it’s a business at best”) en vroue (“[she was] a fat slut”).

’n Mens moet Houellebecq se “haat” reg lees.

Hy skryf vanuit karakters se unieke perspektiewe. Ook is hy as denker ’n voor die voet-misantroop, hy “haat” álmal. Daar is áltyd die element van treitering in sy werk. Deur te ontstel, sit hy lesers aan die dink oor die huidige bestel en sy heilige koeie.

Gepraat van koeie: Aymeric is ’n melkboer, en ’n mens vind in die etimologiese geskiedenis van die woord “serotonin” ’n verbintenis met wei of dikmelkwater. Maar die nuwe antidepressant wat veronderstel is om Florent beter te laat voel deur sy serotonienvlakke te verhoog, is allesbehalwe voedsaam. Houellebecq het in Atomised en The Possibility of an Island (2005) gesuggereer dat biotegnologie moontlik die mens uit sy verdriet kan red, maar dit wil nou voorkom asof selfs daardie opsie van die baan is. Interessant genoeg knik Florent aan die begin en die einde van die roman tog wél in God se rigting.

Hoewel Serotonin myns insiens nie so ’n sterk roman soos Atomised of Sub­mission is nie, is dit steeds die moeite werd om te lees. Dis wrang en snaaks en ontstellend en vra ongemaklike, belangrike vrae. Is die samelewing ’n masjien wat liefde en broederskap vernietig, soos Florent aanvoer, en voel baie van ons, nes Florent, “nothing, radically nothing” wanneer ons met dié stand van sake gekonfronteer word?

  • Loftus Marais is ’n digter en inhoudsregisseur van die kykNET-program Verslag in gesprek.
Meer oor:  Serotonin  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.