Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Is SA ’n leier of boelie in Afrika?

Joernaliste se toeganklike boeke sit ons vasteland weer op die kaart, skryf Herman Wasserman.

Foto:

Continental Shift: A Journey into Africa’s Changing Fortunes, deur Kevin Bloom & ­Richard Poplak. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R265.

South Africa in Africa: Superpower or ­Neocolonialist? deur Liesl Louw-Vaudran. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R210.

Dit is steeds nie ongewoon om Suid-Afrikaners te hoor sê dat hulle op ’n sakereis of vakansie “in Afrika” gaan nie – asof hul eie land eintlik op ’n ander vasteland lê. Dit is ’n ingesteldheid waarvoor ons ons geskiedenis die skuld moet gee.

Onder apartheid was Suid-Afrika geïsoleer van die res van die vasteland (die SAL se vliegtuie mog nie eens in ander Afrikalande land nie), maar die apartheidsideologie van uitsonderlikheid – die idee dat apartheid regverdigbaar was omdat ons “anders” was as ander Afrikalande – het ook daartoe bygedra dat Suid-Afrikaners dikwels makliker Barcelona as Bamako op ’n kaart sal kan uitwys.

Die omgekeerde is ook dikwels waar. Suid-Afrikaners wat op die vasteland reis (en daar is al hoe meer van hulle – kyk maar na die naambordjies met Afrikaanse vanne by die aankomsaal in Nairobi of gesels in Zanzibar met jou medetoeriste aan die ontbyttafel oor die Superrugbywedstryd wat julle waarskynlik daardie middag nog op DStv in die hotelkroeg sal kan kyk) sal kan getuig dat die kans groter is dat een van jou gashere die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek kan uitlê as andersom.

Die media help nie juis nie. Daar is nog relatief min dekking oor ander Afrikalande in ons koerante, nuuswebwerwe en uitsaaiers. Die politieke en ekonomiese mag wat die VSA en Europa wêreldwyd uitoefen, bring mee dat nuusagendas oorheers word deur die fyner detail van Brexit of die Trump-t.-Clinton-skouspel, terwyl dit moeiliker is om die nuanses van onlangse nuusgebeure op ons eie vasteland – verkiesings in Zambië, konflik in Burundi, hernude geweld in Suid-Soedan – agter die skrapse hoofopskrifte te vind.

Dit terwyl ontledings toon dat die beeld van Afrika in die internasionale media die afgelope paar jaar eintlik aansienlik verbeter het. The Economist, wat op sy gewraakte voorblad in 2000 Afrika as “The Hopeless Continent” bestempel het, het in 2011 sy deuntjie verander tot “Africa Rising”, ’n refrein wat ’n jaar daarna woordeliks deur die tydskrif Time oorgeneem is. Kritici wys daarop dat hierdie nuutgevonde optimisme ook dikwels paternalistiese stereotipes verhul, of gegrond is op ’n spesifieke neoliberale ideaal van Afrika as ’n ontluikende mark. Maar ’n mens hoef maar net webtuistes soos Africa Is a Country te volg om te sien dat modes, musiek en sport in Afrika vir joernaliste veel meer behoort te gee om oor te berig as net geld en vuurwapens.

Dit is teen hierdie agtergrond dat twee onlangse boeke oor Afrika, geskryf deur Suid-Afrikaanse joernaliste, verwelkom word. Kevin Bloom en Richard Poplak se boek, asook dié van Liesl Louw-Vaudran skets ’n beeld van ’n snel veranderende ­politieke en ekonomiese landskap op die vasteland.

Bloom en Poplak se vertrekpunt is die toenemende invloed van China in Afrika en die xenofobiese teenreaksies wat dit ontlok. Die konflik wat spruit uit hierdie toenemende kontak tussen inwoners en Chinese immigrante word vergestalt in ’n voorval in 2011 in die nedersetting Ganyesa in Noordwes, waarin vier Chinese immigrante in hul winkel doodgebrand het. Die insinuasie is dat die brand geen ongeluk was nie, maar dat die Chinese winkeliers vermoor is deur plaaslike inwoners. Die saak bly onopgelos, en Bloom en Poplak het na Ganyesa gereis om met plaaslike inwoners te praat in ’n poging om meer te wete te kom. Die waarheid bly uit, en Bloom en Poplak keer telkens in die boek terug na hierdie gebeurtenis. Die Ganyesa-voorval word ’n leitmotief wat vir die leser iets te kenne moet gee van die outeurs se oorkoepelende ervaring van hul uitgebreide reise deur Namibië, Botswana, Zimbabwe, Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ethiopië, Suid-Soedan en die Sentraal-Afrikaanse Republiek: dat die magte op die vasteland vinnig aan’t verskuif is, dat daar verskeie nuwe invloede merkbaar is op politieke, ekonomiese en sosiale terrein, maar dat ou konflikte, vooroordele en spanninge steeds teenwoordig bly. Dié mengsel is ryk, somtyds bedwelmend, maar ook dikwels gevaarlik.

Continental Shift is ’n merkwaardige optekening van die outeurs se ervarings – dit is eerstehandse navorsing wat sowel reise van duisende kilometers as aansienlike studie van akademiese boeke, geskiedskrifte, beleidsdokumente en nuusberigte vereis het. Hul onderwerpmateriaal is breed: konstruksiewerk in Namibië, die bou van ’n dam in Botswana, mynbou in Zimbabwe, die Nollywood-filmbedryf in Nigerië, voedselsekerheid in Ethiopië, realpolitik in Suid-Soedan en konflik in die Sentraal-Afrikaanse republiek. Continental Shift se grootste prestasie is dat dié materiaal op ’n lewendige, soms selfs humoristiese manier aangebied word. Dit is ’n kreatiewe mengsel van memoir, etnografie, ontleding, reisbeskrywing en soms iets wat naby aan kortverhale of poësie kom. Die toeganklikheid en leesbaarheid van hierdie ambisieuse oorsig oor die dinamiese veranderinge op die kontinent is grootliks te danke aan die outeurs se styl: Bloom en Poplak kán skryf. (Lesers van veral Poplak se politieke joernalistiek in die Daily Maverick sal vertroud wees met sy verwoestende sin vir ironie.) Maar dis ook ’n boeiende verhaal omdat dit steun op eerstehandse ervarings en veldwerk, talle gesprekke en onderhoude, en skerp waarnemings op grondvlak.

Die aanbieding en styl is dan ook een van die groot verskille tussen Bloom en Poplak se boek en dié van Louw-Vaudran. Hoewel Louw-Vaudran ook ’n gesoute joernalis is, onder meer as voormalige Afrikaredakteur by Media24, volg haar boek ’n meer konvensionele styl van beriggewing.

Sy steun deels op haar eie onderhoude met politieke leiers gevoer in haar loopbaan as Afrika-korrespondent, maar ook heelwat op tweedehandse bronne. Sy is minder geneig om persoonlike standpunte in te neem of waarnemings weer te gee, en skryf gevolgtrekkings meesal toe aan diegene wat sy aanhaal. Die gevolg is ’n boek wat eweneens toeganklik en leesbaar is, maar wat minder van ’n persoonlike stem dra.

Louw-Vaudran se vertrekpunt is die rol wat Suid-Afrika op die vasteland speel. Die vraag is of Suid-Afrika, as grootste ekonomie op die vasteland en ’n land wat veral onder die ampstermyne van Mandela en Mbeki ook ’n belangrike politieke toon ­aangegee het, ook gesien kan word as ’n neokoloniale moondheid op die vasteland.

Dus: Is Suid-Afrika ’n leier of ’n boelie?

Louw-Vaudran gebruik verskeie belangrike nuusgebeure oor die afgelope 20 jaar of wat om Suid-Afrika se rol te ondersoek. Die struggle en die ANC se jare van ballingskap in Lusaka verskaf ’n historiese beginpunt, terwyl die morele bankrotskap van die ­Zuma-regering die boek laat afsluit op ’n pessimistiese noot oor die vooruitsigte van Suid-Afrika om weer vertrou te word om leiding te gee en as voorbeeld te dien vir ander Afrikalande.

Tussendeur hierdie historiese pole belig Louw-Vaudran onder meer Mbeki se pogings om die Pan-Afrikaanse ideaal te laat herleef, Suid-Afrika se rol in die Afrika-Unie asook ons land se soms rampspoedige militêre intervensies, soos toe 13 Suid-Afrikaanse soldate in 2013 in Bangui gesneuwel het in konflik met Seleka-rebelle in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Louw-Vaudran skets ook ’n taamlik negatiewe prentjie van verspeelde kanse deur die Suid-Afrikaanse regering om ’n vennootskap met Suid-Afrikaanse sakeondernemings op die kontinent te bou, asook die knou wat die xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika ons status in die res van Afrika toegedien het.

Dié twee boeke probeer nie die vasteland deur die rooskleurige lense van toerisme-ondernemings aan ons wys nie. Die prentjie wat ons sien, is nie altyd mooi nie, maar dis deurgaans interessant en stimulerend, en herinner ons dat ons veel meer as die hoofopskrifte moet lees om werklik uit te vind – om nou ’n ou digter uit eie bodem aan te haal – op watter vasteland ons boer.

  • Herman Wasserman is professor in mediastudies en direkteur van die Sentrum vir Film- en Mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Liesl Louw-Vaudran  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.