Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Is ‘So byna blou’ se stories satiries?

Ondanks enkele besware word jy meegesleur deur die tien byna-reisverhale in Emile Joubert se derde kortverhaalbundel, ‘So byna blou’, mits jy dit met ’n knypie satiriese sout neem, meen Rachelle Greeff.

So byna blou deur Emile Joubert. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R225.

In ’n storie-in-’n-storie vertel oupa Louw vir sy jong kleinseuns van ’n geheimsinnige vrou wat hy en sy vyf makkers in die oorlog te perd “tussen Doornkraal en Aaskop” teëgekom het. “Hy vertel nie baie Boereoorlog-stories nie. Maar wanneer hy dit die slag wel doen, is dit vir ons lekker om na te luister, soos kondensmelk op die ore.” Lawwe beeldspraak, maar die verteller is ’n kind en alles is wel.

Werklik soet en taai is die aand in ’n Portugese wynkelder in die Douro-vallei waar ’n Suid-Afrikaanse wynskrywer hom halflyf in sy boxers binne-in die kuip bevind waarin die werkers reeds die dag se oes portdruiwe getrap het. “Dis ’n oorweldigende soet parfuum van ryp, donker, sonnige vrug. En onder daardie eerste laag . . . die verleidelike suur, vrank reuk van vrugte wat aan die natuurlike chemiese proses van gisting blootgestel word.”

Kort tevore het die wynskrywer by die gastehuis op die landgoed ’n medegas (’n vrou, maar nie syne nie) oor ’n glas port ingelig oor dié “pikswart” vloeistof wat ruik na “gedroogde bessies en salonparfuum”. Hy raak skoon liries: “Port is beskawing . . . Port – hierdie wonderlike asemsnakwêreld, sy mense, Portugal, die land – dis beskawing.” Maar die lesing is nou verby. In sy hand het die wynskrywer ’n “koeëlronde” druiwekorrel. Voor hom sit die vrou op die rand van die kuip, haar voete in die druiwesap. Die man glip die korrel in haar “vleesskag”. Natuurlik is haar panty (wit, soos haar moulose somerrok) nou pers gevlek en dit moet uit. “Hy plaas dit saggies langs haar op die rand van die wyntenk.”

Alles is nou hard: die muur waarop sy sit, die druiwekorrel in haar vagina en sy tong soos hy die korrel “van die een kant na die ander skiet”.

Die storie het ’n heeltemal onvoorsiene spuitsel sianied in die slot, wat nié die sleutel tot die storie is nie. Dit kry jy in die titel, “Korreltjie dagbreek”, waarin die titels van twee gedigte van Ingrid Jonker uit die bundel Rook en oker (1963), “Bitterbessie dagbreek” en “Korreltjie sand”, tot een versny word.

Die suksesvolste verhale in So byna blou is dié sonder afdraaipaaie.

Leon de Kock skryf meer oor die intieme verband tussen André Brink en spesifiek Rook en oker in sy biografie André P. Brink en die spel van liefde (2019). (In een van Brink se vier eksemplare van die bundel het sy weduwee, Karina, afgekom op ’n haarlok “wat skynbaar Jonker s’n was”.) Hiervandaan is dit net ’n boksprongetjie terug na 2004 en die Literary Review se prys Bad Sex in Fiction.

Brink het daardie jaar die langlys gehaal; Tom Wolfe het eerste gekom.

Hierdie bietjie boekmense-agtergrond het sigself ongevraagd in die “Korreltjie dagbreek”-storie op die voorgrond gestoot. En dit is hoekom ek wil waag om te sê Joubert se bedoelings met die meeste van die stories in So byna blou is satiries. Van die titel van die bundel tot die gedagte van die “blou” deel van blouflieks is dit ’n hanetreetjie. En dit is dalk ook die funksie van die ooraanbod van verwysings na onder meer die blou, halfsaffierblou en grysblou van onder meer water, lug, tekstiel en oë deur die hele boek? Byna pornografie?

In die titelverhaal, “So byna blou”, speel Chet Baker se “Almost Blue”-trompetsolo een laatnag. Dit is nadat die hoofkarakter, ’n enkellopende koerantman, toevallig sy motorsleutels ná ’n partytjie met ’n “intieme groep kulturele grootkoppe” vergeet in die huis van Hertha Swiegers. Hy het presies “drie jaar, vier maande en vyftien dae” tevore ’n onderhoud met haar gevoer in die “geil en koel binnehof van haar huis in Seepunt”. Dit was ná die onverwagse dood op die muurbalbaan van haar bekende romansier-man, Ivan Hüsselman.

Die werkonderhoud was ’n eerste besoek. Die partytjie is die tweede draaislag. Voor die oggend aanbreek, bevind hy hom saam met Hertha in die huweliksbed van die gestorwe outeur, essayis en literêre kritikus. Die naam van Ivan se uitgewer is Lance en sy van niks anders nie as Brink. Die koerantman-verteller drup van sarkasme: Ná Ivan se dood op 45 is Afrikaanse boekklubs en leeskringe “in rou gedompel”, maar vir hom was Hüsselman die skrywer van bloot “middelmoot”-fiksie en nie “soos sy duisende aanhangers en kritici” glo van “literêre fiksie” nie.

Die suksesvolste verhale in So byna blou is dié sonder afdraaipaaie. In “Sout” verander die treurende weduwee Nerina Gous in ’n sprokieskarakter wanneer sy by Blombos, waar haar man verdrink het, die branders in loop.

In “Twee sarsies lood” ontmoet die afgetrede maj. Van Eeden nie sy heiland op die operasietafel nie, maar die identiese tweelingbroer van sy Philander-chirurg. Die een Philander is sy snydokter, die ander die narkotiseur vir die ure lange chirurgiese prosedure waarvoor hy op die “klein staaltafel” reggemaak word. Maj. Van Eeden het die tweeling se pa in Athlone doodgeskiet tydens operasie Lokaas (Slag van die Trojaanse Perd) 34 jaar gelede. Die laaste woorde wat die majoor hoor voordat die newels van narkose hom oorval, uitgelewer op sy rug, is ysingwekkend.

In “Skilferkors” gooi tant Lenie Etzebeth “werklik ’n stuk deeg 180 keer op die kombuistafel se oppervlak” voordat sy haar melkterte bak. Vir haar woed die oorlog tussen Kakie en Boer steeds.

By elke huis (minus die een) in die straat gee tant Lenie, in haar blou rok, melkterte af, toegedraai in koerantpapier. Nee, sy ruil dit.

Veral in die laaste paragrawe van sy stories kielie Joubert die magiese realisme en neem die leser vir wyles op onverwagse wendings. Hy geniet homself klaarblyklik in sy wandelende vertellings, van die noorde van Portugal via Parys tot in Seepunt.

Sy stories, byna reisverhale, sleur jou mee ondanks lomp stelwyses en persblou penvrugte van erotika – maar net as jy dit met ’n knypie satiriese sout neem.

Ek weet nie, ek raai dit.

Ek het So byna blou aandagtig enduit gelees, dele oor en oor, en weet steeds nie wát is opgestuur en wát is bloot slordig afgewerk nie.

  • Rachelle Greeff is ’n skrywer en aanbieder van die skryfskool by die Breytenbachsentrum op Wellington.
Meer oor:  Emile Joubert  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.