Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ja, SA het Khwezi in die steek gelaat

Redi Tlhabi se ontstemmende biografie oor die vrou wat Jacob Zuma van verkragting aangekla het, is ’n aanklag teen die ganse Suid-Afrika, waar ’n gruweldaad soos verkragting banaal en alledaags geword het, skryf Ruda Landman.

Betogers herinner die wêreld aan die verkragtingsaak terwyl pres. Jacob Zuma in 2016 die uitslae van die munisipale verkiesing bekend maak. Foto: Deon Raath

Khwezi – The Remarkable Story of Fezekile Ntsukela Kuzwayo deur Redi Tlhabi. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

Omdat hy is wie hy is, het die storie van Jacob Zuma en die vrou wat lank slegs as Khwezi bekend was, ’n storie op sigself geword – die verhaal van een man en een vrou. Maar in Redi Tlhabi se ontstemmende weergawe word dit ’n gevallestudie, ’n illustrasie van ’n Suid-Afrika waar vroue totaal uitgelewer is aan die geweld van mans, en waar die mans weet dis hoogs onwaarskynlik dat hulle die gevolge sal moet dra as hulle ’n vrou sou aanrand en/of verkrag.

Fezekile is verkrag toe sy vyf jaar oud was, en weer op 12 en wéér op 13.

Tlhabi se beskrywing van Suid-Afrika se “unfinished business” wat die aanvoorwerk gedoen het vir dít wat met Fezekile Kuzwayo gebeur het, laat ’n mens met ’n ysingwekkende indruk van ’n gemeenskap so struktuurloos en korrelrig soos ’n teerpad wat uitmekaar geval het.

Daar is geen stabiliteit nie, geen samebindende waardes nie. Verkragting, wat ’n gruweldaad behoort te wees, het banaal en alledaags geword.

Soveel elemente van ons geskiedenis het saamgewerk om dit te veroorsaak. Groepsgebiede en trekarbeid het mans na die stede gebring waar hulle in enkelgeslag-hostelle gewoon het. Tlhabi stel die een ná die ander vrou aan die woord wat vertel hoe hulle deur hostelbewoners, die polisie en vegtende partye tussen die townships en die hostelle verkrag is. Die stories is nog meer skreiend omdat dit met ’n soort gelatenheid vertel word: Dit is eenvoudig wat gebeur het; dit het geen sin om daaroor emosioneel te raak nie.

Die uitgewekenes onder wie Fezekile grootgeword het, was ’n immer vloeibare versameling mense uit al ons buurlande. Kinders is van die een huis na die ander aangegee wanneer hul ouers moes weggaan of dood is. Die gedagte dat alle grootmense die rol van ouers vir alle kinders gespeel het, is waarskynlik ’n romantiese een. Fezekile is verkrag toe sy vyf jaar oud was, en weer op 12 en wéér op 13.

Hoewel dit sterk betwis word, maak Tlhabi ’n oortuigende saak uit dat vroulike lede van Umkhonto weSizwe (MK) dikwels seksueel geteister en verkrag is. Hulle was ’n verre minderheid teenoor die mans, en hul gebrek aan mag in daardie situasie is ooglopend. Transaksieseks in ruil vir bevordering, opvoedingsgeleenthede of net kos en water was algemeen.

Wanneer dié voorvalle wel geopper is, was die oorheersende siening dat die stryd teen apartheid só belangrik was dat hierdie individuele trauma eers eenkant toe geskuif moes word. Die ANC in die buiteland het sy eie probleme opgelos en niemand sou dit oorweeg om die polisie van die betrokke land te betrek nie. ’n “Committee of aunties” het die laaste twee keer toe Fezekile verkrag is, die saak gehanteer, en die mans is na bewering met ses maande se toelaes beboet!

In die townships in Suid-Afrika was iets anders aan die gang: sogenaamde jackrolling, oftewel groepsverkragtings. Tlhabi skryf: “I am not suggesting that there were no township rapes ­prior to this, but the brazen, broad-daylight abduction of young women and teenage girls had never been seen before. The perpetrators were ‘militant’ youths, young men who ruled the streets of the township. Some called themselves comrades of the struggle, committing thuggery in the name of a just political battle.”

Toe Thlabi ’n meisie wat by die skoolhek gegryp en deur ’n groep jong mans verkrag is vra hoekom sy nie die saak by die polisie aangemeld het nie, antwoord sy: “Jackrolling was in fashion. There ­were so many girls being jackrolled. They had no chance of solving my case.”

Prof. Steven Pinker, ’n kognitiewe sielkundige aan Harvard, verwys in sy boek The Better Angels of Our Nature: Why Violence has Declined (2011) na Hobbes se teorie dat geweld in gemeenskappe afneem as hulle saam besluit om dit uit te kontrakteer na ’n buiteparty, gewoonlik die staat. (Verskoon die ruwe opsomming.) In al die omgewings wat hierbo beskryf word, was die staat, naamlik die polisie, nie ’n werkbare opsie vir die betrokkenes nie. Boonop was die Suid-Afrikaanse polisie gedurende apartheid self ook soms skuldig aan mishandeling, soos voor die Waarheids-en-versoeningskommissie geblyk het, en in die geval van vrouegevangenes het dit hoogs waarskynlik seksuele mishandeling ingesluit. Hier is Thlabi se droewe slotsom: “In the old country, there was no point in reporting rape in police custody. Liberators and oppressors had something in common: their propensity for violence and demand for women’s bodies . . . Sexual violence was part of the DNA of the struggle. It is in society’s DNA today.”

Redi Tlhabi

Teen hierdie agtergrond speel die verhaal van Jacob Zuma se seks met Fezekile Kuzwayo af. Hy was in sy 60’s, een van haar oorlede pa se beste vriende, en hy het haar geken vandat sy ’n klein dogtertjie was. Sy was 31.

Die hoofstuk oor die hofsaak is skreiend. Regter Willem van der Merwe het adv. Kemp J. Kemp toegelaat om Fezekile in detail uit te vra oor haar verkragtings as kind, en uiteindelik bevind “dat sy van jongs af geneig was om bewerings van verkragting te maak wanneer geen verkragting plaasgevind het nie”. Volgens hom het die seks met ’n kind van 12 en van 13 met haar toestemming plaasgevind en dit is dus nie verkragting nie. Hierdie bevinding is onverklaarbaar – volgens Suid-Afrikaanse wetgewing is seks deur ’n ouer persoon met iemand onder 16 statutêre verkragting.

Van der Merwe bevind die staat het nie bo alle redelike twyfel bewys Zuma is skuldig nie, en spreek hom vry. Drie jaar later word Zuma staatspresident. Tlhabi vra: “How are we to understand our­selves as a people, when we expect so little from those who lead?”

Die verhaal van die aanklag en die hofsaak is een element van die boek. Die ander is ’n empatiese, liefdevolle biografie wat heeltemal slaag in wat die inleiding belowe: “Khwezi is politics . . . but today, in these pages, she is here to reclaim her own name. This is her story.” Ons leer Fezekile ken as ’n warm, intelligente vrou wat hegte bande gesmee het met vele mense wie se paaie hare gekruis het, van Suid-Afrika tot in Amsterdam en Tanzanië; maar ook as impulsief en onvoorspelbaar, met die een projek ná die ander wat nooit behoorlik deurgevoer is nie. Sy was MIV-positief lank voor die gebeure met Jacob Zuma, maar het uiteindelik ondanks al haar vriende se raad opgehou om haar antiretrovirale middels te drink. Haar gesondheid het agteruitgegaan, en sy is in 2016 oorlede.

Onmiddellik ná die hofsaak is daar ook oor hierdie geskiedenis geskryf, onder andere deur Mmatshilo Motsei (The Kanga and the Kangaroo Court: Reflections on the Rape Trial of Jacob Zuma), maar dit het nie veel aandag getrek nie, behalwe om haar ook ’n teiken te maak. Die ANC was toe nog aan Zuma se kant: Ondersteuners het die falliese “Umshini wam” buite die hof gesing en die vroueliga het die aanslag op “Khwezi” luidkeels gelei.

Tien jaar later, met sy steun aan skerwe, vind Thlabi se weergawe ’n groot en waarderende gehoor. Waar was hulle almal in 2006?
Tlhabi is reg as sy sê Suid-Afrika as land het vir Fezekile in die steek gelaat.

* Ruda Landman is ’n TV-aanbieder en joernalis.

Meer oor:  Ruda Landman  |  Redi Tlhabi  |  Khwezi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.