Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jan en die spook van die verevrou

Die meesterpluimbereider Luisa Pappalardo het meer as twee dekades in Jan van Tonder se verbeelding gedwaal totdat hy haar as die karakter Liora Papalato in ‘Die verevrou’ op papier tot rus kon bring. Johan van Zyl het die skrywer op Gordonsbaai besoek.

Jan van Tonder in sy studeerkamer in die dorpshuis op Gordonsbaai wat hy met sy geliefde, Jenny Pieterse, deel. Foto: PETER VAN NOORD

Amper 22 jaar gelede, in die winter van 1997, was Jan van Tonder en die fotograaf Lanz von Hörsten besig met ’n koffietafelboek oor die Klein-Karoo (wat die daaropvolgende jaar as The Little Karoo/Die Klein Karoo/Die Kleine Karoo by Human & Rousseau verskyn het).

“Ek het besef die inligting oor Oudtshoorn se befaamde volstruisveerbedryf is nog ’n bietjie skraps en het gaan aanklop by Luisa Pappalardo, ’n eksentrieke meesterpluimbereider uit Parys wat haar in die vroeë jare negentig op die dorp gevestig het en wat in daardie stadium beskou is as die persoon in Suid-Afrika wat die heel meeste van volstruisvere weet,” vertel Jan.

Soos hy in die nawoord van sy nuwe roman, Die verevrou, skryf, het hy op 4 Junie 1997 voor dooiemansdeur te staan gekom by Luisa se huis in Kerkstraat, maar wel twee vroue in die erf langsaan gewaar. Dit was die befaamde verevrou en haar buurvrou, wat opsluit vir hom gesê het: “Sy wil nie met jou praat nie; sy sê sy is klaar met die vere.”

99% van ons se lewe is so donners vaal. Saai. Saai verby. Maar woorde?.?.?. woorde kan daai saaiheid ’n wyle laat wyk.

Presies hoe kláár het Jan glad nie besef nie. Twee dae ná sy besoek het Luisa Pappalardo haarself op ’n klein lappie gras buite die polisiekantoor op Oudtshoorn doodgeskiet.

“Dit was ’n geweldige skok,” sê Jan, “en van toe af het hierdie vrou eenvoudig by my bly spook.”

Eers het hy die basiese gegewe in ’n verhoogdrama probeer verwerk en daarna het ’n fliekdraaiboek gevolg, maar niks wou vlot nie. “En tog, keer op keer tussen my ander projekte en boeke deur, het ek bewus gebly van haar teenwoordigheid en ’n geweldige fassinasie met haar ontwikkel: Wat laat ’n meesterpluimbereider al die pad uit Parys Oudtshoorn toe verhuis? Luisa se ma het later ook Karoo toe gekom, en ’n jaar ná haar ma se dood (in 1996) het Luisa besluit om haar lewe te beëindig.

Jan sê hy skryf op sy rekenaar, maar gebruik áltyd ’n potlood om aantekeninge op papier te maak. Hy hou dit in ’n ou tamatieblikkie van die Italiaanse handelsmerk Luisa, wat ook die naam is van die vrou op wie Die verevrou se een hoofkarakter gegrond is.

“Dit was asof sy van toe af voortdurend oor my skouer geloer het. Ek het later die idee gekry sy hou nie van wat ek doen nie. Dit was asof sy nie wou hê ek moet die storie vertel nie.”

Jan het in verskeie stadiums obsessief navorsing gedoen – nie net oor Luisa nie, maar oor al die plekke en gebeure wat haar lewenspad gekruis het: Algerië en die allerwrede Algerynse Vryheidsoorlog wat van 1954 tot 1962 gewoed het, Parys, Korsika, die fyner kunsies van die volstruisveerbedryf (van Luisa se volstruisveerskeppings wat sy kort voor haar dood aan die C.P. Nel-museum geskenk het, is steeds in dié museum te sien).

Hy het ook kontak gemaak met Luisa se suster, ’n lugvaartingenieur in Parys, maar dié wou hom niks vertel of enigsins help nie. Hy het met mense op Oudtshoorn gepraat wat soms met haar kontak gehad het; hy het die grusame foto’s van die misdaadtoneel bekyk; hy het polisieverslae en hofstukke en die nadoodse verslag bestudeer . . .

Die gedenkplaat in die begraafplaas op Oudtshoorn met die as van Luisa Pappalardo en haar ma. Foto: ANNEL MEYER

“Sy het mense eintlik voorberei op haar dood en in haar selfmoordbrief laat blyk sy kon nie haar ma se dood verwerk nie. Sy het daarin ook die polisie om verskoning gevra dat sy haar lewe buite die polisiekantoor beëindig het, en selfs ’n lys gemaak van mense wat ná haar dood gebel moes word.

“Ek het later uitgevind Luisa het ook in São Paulo, Brasilië, waar sy tien jaar gewoon het [’n tydperk wat Jan glad nie vir sy roman gebruik het nie], haar lewe probeer beëindig. Ná haar dood het ek boonop ’n magdom teenstrydige stories oor haar gehoor, almal natuurlik tweedehands. Dit was asof hierdie vrou in verskillende wêrelde geleef het. Vir party mense het sy glo gesê sy is ’n maagd; vir ander het sy vertel sy het ’n seksuele verhouding met haar eie neef gehad; nog ’n klomp het vertel hoe sy op haar bors geslaan en gesê het ‘I’m a Christian!’; ander sê sy was ’n uitgesproke ateïs. Al wat ek weet, is dat sy my ná haar dood eenvoudig nie wou uitlos nie.”

Hoewel die een verevrou in sy roman, Liora Papalato, dus deur wyle Luisa Pappalardo geïnspireer is, is die karakter Liora ’n “blote lugspieëling” van Luisa, die vrou van vlees en bloed wat eens gelewe het.

Jan bly ’n oomblik stil, weeg sy woorde.

“Ek gaan nie lieg nie: Ek het in my lewe nog nooit so hard en ernstig en ingrypend aan enige van my vorige boeke herskryf nie. Hierdie roman het my vir die eerste keer regtig diep laat twyfel oor of ek nog kán skryf. Die verevrou is aanvanklik vir publikasie aanvaar, maar is toe afgekeur. Ek het dit dramaties gesny en herskryf, maar dis weer afgekeur. Toe herskryf ek weer en dit word wéér afgekeur. En toe wend ek my in ’n staat van totale moedeloosheid tot my ou uitgewer, Marietjie Coetzee, wat my en my talente en my beperkings goed ken . . . en toe probeer ek weer.

“Terselfdertyd moet ek hier erkenning gee aan my geliefde, Jenny Pieterse. Op ’n dag toe ek weer heen en weer in die huis rondstap en nie herwaarts of derwaarts weet nie, het sy vir my gesê: ‘You’re pacing again.’ En toe sê sy ek moet ophou probeer om ’n biografiese roman te skryf. Ek moet ’n stórie skryf. Die stórie. En dit is wat dit is, al is daar raakpunte met sekere biografiese werklikhede: mý storie.”

Dalk omdat Jan self ’n buitestander is – “ek is privaat, nie vreeslik outgoing nie, sukkel om met vreemdelinge ’n gesprek aan te knoop en haat onderhoude en openbare verskynings, maar verstaan ek is dit aan myself, my uitgewer en die boek verskuldig” – is sy hoofkarakters gewoonlik ook buitestanders. Dink maar aan Sagie in Is Sagie (1987) en Is weer Sagie (2013), Timus Rademan in Roepman (2004) en nou Liora Papalato en Candice Amat in Die verevrou.

“Dalk skryf ek oor outsiders omdat hulle op interessante maniere ánders is en gewoonlik aan die kortste ent trek . . .” sê Jan en voeg by hy is van kleins af ’n agie en “meesterlike luistervink wat mense en gesprekke en gebeure opsuig soos ’n spons” en dan stadigaan tot fiksie verteer.

“As jy grootgeword het soos ek . . . as jy sonder ’n sekere soort selfvertroue deur die lewe gaan . . . ontdek jy naderhand dat jy met woorde amper soos God mense kan ‘skep’, dat woorde jou ’n sekere soort mag of selfvertroue kan gee om iets te wees wat jy nie regtig is nie.

“As skrywer het jy die voorreg om weg te vat en by te lap; jy hoef jou nie tot ‘die waarheid’ of ‘die feite’ te beperk nie. Vir die mens was die waarheid immers nog nooit goed genoeg nie. Ek dink die waarheid is hopeloos te veel vir ons. Dit sit ons ore aan.”

Jan grinnik. “Ek word dikwels voorgekeer deur mense wat vir my sê: ‘Man, het ék nou vir jou ’n lekker storie om te vertel. My lewensverhaal is so ongelooflik, so uniek . . . jy gaan dit nie glo nie ek belowe jou jy sal ’n topverkoper skryf.’

“Met die verloop van tyd het ek geleer wanneer jy iets in jou eie vel beleef, iets wat jou emosies holderstebolder krap, vóél dit altyd so ’n bietjie interessanter en boeiender as wat dit regtig is. Ek dink dis vir ons gewone sterflinge moeilik om te erken, maar 99% van ons se lewe is so donners vaal. Saai. Saai verby. Maar woorde . . . woorde kan daai saaiheid ’n wyle laat wyk.”

  • Dele van dié onderhoud het vanjaar in Ink, feeskoerant van die US Woordfees, verskyn.
  • Die verevrou is uitgegee deur Human & Rousseau en kos R295.
Meer oor:  Jan Van Tonder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.