Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jansen wen grootste prys vir Afrikaanse skryfkuns
Die skrywer Valda JansenFoto: Jaco Marais

“Ek is totaal geskok, ek wil dit so graag hê, dit is so ’n groot prys en dit is nie die eerste keer wat ek daarvoor aansoek gedoen het nie.”

So het die skrywer Valda Jansen gereageer op die nuus dat sy die wenner is van die gesogte Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir 2020.

Die beurs beloop R430 000 en is die grootste prys vir skryfkuns in Afrikaans. Die beurs spruit uit ’n bemaking van wyle Marjorie Wallace ter ondersteuning van kreatiewe skryfkuns in Afrikaans. Dit word toegeken in die gees van Rabie en Wallace se werk en strewe ten opsigte van Afrikaans as die taal van ’n breë gemeenskap. Vorige wenners sluit in Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, SJ Naudé en André P. Brink.

“Ek voel so emosioneel, so diep dankbaar, ek voel dat ek nou vir die eerste keer kan asemhaal, dit is moeilik om net te kan skryf, ’n mens moet ook leef, en oorleef in die lewe, alles het so duur geword,” het Jansen gesê.

“Ek voel so emosioneel, so diep dankbaar, ek voel dat ek nou vir die eerste keer kan asemhaal, dit is moeilik om net te kan skryf, ’n mens moet ook leef, en oorleef in die lewe, alles het so duur geword,”

“Ek het nou die ruimte om net te kan skryf en nie bekommerd te wees oor hoe ek dit of dat gaan betaal nie.”

Die Jan Rabie- en- Marjorie Wallace-beurs is die grootste prys vir die aanmoediging van skeppende skrywers in Suid-Afrika. “Dit getuig van Rabie en Wallace se visie en ruimhartigheid van gees,” het prof. Tyrone Pretorius, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), wat die beurs bestuur gesê.

Die beurskomitee bestaan uit kundiges in die skrywerswêreld en hulle het eenparig besluit op Jansen se aansoek. Altesame 24 aansoeke is ontvang en die komitee was diep onder die indruk van die diverse stemme, genres en skryfervaring van die aansoekers, luidens ’n persverklaring. Hulle was dit eens oor die hoë gehalte van die aansoeke as ’n hernude bevestiging van die lewenskragtigheid en talent binne die Afrikaanse skrywersgemeenskap.

“Ons behoort te weet van vroue wat wonderlike goed in die geskiedenis gedoen het. Ek het reeds baie van die navorsing gedoen en die plekke besoek waar sy gewoon het, maar daar lê nog baie werk voor.”

Jansen, ’n eertydse joernalis, se debuutroman Hy kom met die skoenlappers is in 2017 met die Jan Rabie-Rapport-prys vir die beste debuutfiksiewerk vereer.

Sy gaan werk aan ’n roman oor die Namavrou Zara Schmelen van die Namakwaland wat tweehonderd jaar gelede die Bybel in Nama vertaal het. “Ons behoort te weet van vroue wat wonderlike goed in die geskiedenis gedoen het. Ek het reeds baie van die navorsing gedoen en die plekke besoek waar sy gewoon het, maar daar lê nog baie werk voor.”

Jansen se voorstel vir haar voorgenome roman sentreer rondom drie vroue uit drie tydperke en generasies wat elkeen op besonderse wyse reageer op die heersende diskoerse van hulle tyd. In die proses bring Jansen miskende geskiedenisse na die oppervlak. Van die kwessies wat sy aansny, is taal en identiteit asook die problematiek van inheemse mense se aandeel aan die geskiedenis en hul bydrae tot kultuurerfenisse.

“Dit kan ’n treffende en tydige Afrikaanse roman wees wat lig werp op hierdie komplekse kwessies,” het een van die komiteelede gesê.

Die wenner van die toekenning word op Jan Rabie se verjaarsdag op 14 November bekendgemaak. Hy sou vanjaar 99 gewees het.

Meer oor:  Valda Jansen  |  Marjorie Wallace  |  Jan Rabie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.