Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jean Meiring: Wat bly oor van die mens?

In ’n wêreld waar die mens ál slimmer word en kunsmatige intelligensie ’n werklikheid is, wat bly oor van die mens? En as die mens dan ’n skepper-in-die-kleine word, wat bly oor van God? In sy onweerstaanbare derde roman, ‘Skepsel’, stoei Willem Anker met dié en ander dringende kwessies, skryf Jean Meiring.

Skepsel deur Willem Anker. Uitgewer: Queillerie. Prys: R320.

‘Wat gaan jy doen met daardie skepsel?”

Dié vraag spruit vroeg in Siegfried (2007), Willem Anker se debuutroman, uit stomme verdwasing voort. Terwyl onuithoudbare miseliumdrade jou dieper en dieper intrek in Skepsel, Anker se nuutste verbluffende universum, knetter dieselfde vraagteken teen jou agterkop.

Dit hang tog af van wie jy vra. Die betekenis van die woord is immers allermins sekuur, iets wat dié intrigerende roman toegewyd oordink en ontgin.

Stel jy die vraag aan Sulla Capek, is die antwoord sekerlik dat dit (let op die voornaamwoord) Kraken, die stil en donker olietenkskip wat digby voor anker lê, se yster sal beproef.

Met die boek se oopgaanslag sien die leser vir Sulla en dié se minnaar deur die oë van ’n swiepende hommeltuig, die toekoms se eie koggelman.

Dié cyborg-kunstenaar en “biopunk” (bl. 110), met ’n fabriekgemaakte arm en oog, is mechaseksueel – iemand wat tot masjiene aangetrokke is. (“Daar was die CC800-1 Mammoet-hyskraan, die Hitachi EH5000AC-3-mynlorrie, ’n Ducati 1200-motorfiets (om net die geles te noem)” – bl. 44.)

Willem Anker. Skepsel is ’n roman wat prikkel en gaandeweg oorrompel. Foto: Antonia Steyn

Vra jy weer vir Rebecca Maas, wat in die tweede verhaalstroom, ietwat soos Jakkie Redelinghuys in Marlene van Niekerk se Agaat, uit Nederland terugkeer om haar sterwende vader in sy uittog by te staan, is die skepsel stellig Pris, die liggaamlose stem wat pa Henk in sy nuutgeboude huis aan die Weskus ingeprogrammeer het. Die huis wat sy oorlede vrou, Becca of Geitjie se ma, ontwerp het.

Dis dalk moeilik om te glo, maar haar verhouding met Pris is selfs meer gekompliseerd, minder swartomlyn, as Sulla s’n met Kraken. Gaandeweg besef Rebecca, wat haar vrou, Lindiwe, en Nederlandssprekende seuntjie, Mandla, in Den Haag agtergelaat het, dat Pris in ’n sin, maar tog waaragtig, aan haar gestorwe moeder lewe gee. Op bl. 26: “ ‘Hallo, Pris. Nice om jou in die oog te kyk,’ se^ sy en kyk na die koepelvormige swart lens in die hoek van die vertrek.”

Rig jy in die laaste instansie die vraag aan die naamlose argeoloog-vrouekarakter in die derde verhaallyn, sal die skepsel (of is die meervoud nodig?) wat sy in haar visier het sekerlik die Beendere wees wat op die Skandinawiese eiland Svalbard misterieus van onder die sneeu uitpunt.

Kort ná hulle van die Geelhoutgrot in die Suid-Kaap na die noorderlig ontbied is, verdwyn haar heimlike minnaar Howard, ’n superster-argeoloog, in die donkernag.

Al wat vir haar vasstaan is dat sý onverklaarbare weggaan op die een of ander wyse aan die Beendere, wat Howard die Monster genoem het, se toedoen te wyte is. Op bl. 35: “Die opgrawing word Die Beendere genoem, hoewel dit ver van seker is dat die objekte wat uitgegrawe is wel beendere is.”

Naas mekaar vou die drie verhale in afwisselende hoofstukke oop, wat onderskeidelik deur die etikette Kraken, Slimhuis en Beendere aangewys word.

Die gebeure speel af in wat ’n mens losweg die hede sou kon noem. Dit is bepaald die jaar 2020 en die mensdom het boonop met ’n kruipende koronavirus te kampe.

Tog is die boek se vergestalting van 2020 in baie opsigte, veral in die Kraken- en Slimhuis-episodes, beduidend die toekoms in – maar nie so ver en onherkenbaar vooruit soos, byvoorbeeld, in Lien Botha se Wonderboom (2015) of Alettie van den Heever se Stof (2018) nie. (Merk die skalkse nyging na Stof op bl. 55 waar Rebecca vir Henk vertel wat haar werk behels: “Hoe om tuin te maak met jou eie stront. Hoe om volhoubaar te kak.” Dalk is die wêreld in Skepsel bietjie nader aan wyle Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls (2019), ’n effens gedislokeerde hede.

In elk van die drie verhaallyne, selfs wat die gebeure in die hede betref, maak die vertelling ruimskoots van terugflitse gebruik. Dit is veral in die Slimhuis-lyn merkbaar, waar die vordering van Henk se siekte heen en weer geboekstaaf word.

Dis byna asof die verteller ’n pak kaarte skommel en hulle optel nes hulle lê. Sodoende is daar deurgaans ’n spel met dramatiese ironie – die leser weet soms wat volgende ’n karakter te beurt gaan val – wat in Anker se bedrewe hande die spanningslyn styf gespan hou.

’n Ander tegniek wat Anker met groot welslae toepas is om in elk van die drie verhaallyne ’n ander vertelperspektief te hê. In die Kraken-aflewerings spreek die derdepersoonsverteller vir Sulla, die “transhuman poster-persoon” (bl. 110) toe, en vertel dié se storie as’t ware vír haar. Dié moderne, ironiese aanwending van die ou stylfiguur apostroof is ’n waagstuk waarin Anker uiters behendig slaag. Dit skep juis die ontstemmende andersheid wat die raarste van die drie storielyne vereis. En “jy” is natuurlik gemaklik geslagloos.

Die Slimhuis-episodes word in die derde persoon vertel, met Rebecca as die fokalisator. Die vroueargeoloog vertel die Beendere-stukke uit die eerstepersoonsperspektief. Ironies genoeg is die uitwerking hiervan dat ons aanvanklik betreklik min van haar, buiten haar binnewêreld, te wete kom – en enduit nie haar naam leer ken nie.

Dis in dié drie uit pieksels geweefde tapisserieë dat Anker ’n string tergende vrae inweef. Wat is die minimum stel vereistes vir iets om as menslik of dan gewoon as lewend beskou te word?

Ná haar troue met Kraken, vertel Sulla vir die media (bl. 40): “Wetenskaplikes word al hoe onsekerder oor wanneer iets as lewend gesien kan word.” Wanneer Rebecca die vraag stel of Henk se huis dan lewend is, kom dit uit die mond van ’n suigeling (bl. 294): “Lewend genoeg . . .”

Maar is dit nie die mens se senuweestelsel wat aan hom lewe verleen nie? En, as dít so is, wat dan van die sonnestelsel of ander stelsels? Die Beendere? Die internet, waaroor Rebecca en Lindiwe byvoorbeeld in dié tyd die sinapse van hul lewens en hul liefde oor en weer stuur.

En is die menslike liggaam nie maar “ ’n brose ekosisteem” (bl. 163), wat deur “perfectly voiceless”-sampioene, soos Sylvia Plath dit wou hê, oorgeneem sal word, wat “onverpoos en onstuitbaar . . . vreet en groei” (bl. 132) nie?

In ’n wêreld waar die mens net al hoe slimmer word, waar kunsmatige intelligensie ylings ’n alledaagse werklikheid word, wat bly oor van die mens, van die lewe soos ons dit geken het? En as die mens dan ’n skepper-in-die-kleine word, wat bly oor van God?

In ’n sin is dié vraagstukke pertinent modern, synde grootliks die gevolg van die snelle wetenskaplike vooruitgang wat die wêreld vandag kenmerk. Anker ondersoek hulle dan ook storiematig deur die loep van ’n warboel boeiende verwysings na populêre kultuur (Sierra Sam; Ikea; talle rolprente) en na teorieë in die kunste en die wetenskap (wat hy in ’n puntenerige erkenningsafdeling agterin die boek vermeld).

Ook is daar meer onmiddellike politieke kwessies, sagkens verdoesel, aan bod – van kolonisasie (merk die skalkse spel met Anker se veelbekroonde tweede roman, Buys (2014), waar die gelyknamige karakter op die oorgang van Nederlands na Afrikaans staan; Rebecca en haar swart gesin aan’t vernederlands is) en grond (merk die talle verwysings na heinings).

Boonop is Anker se prosa saligmooi en, dalk verrassend in spekulatiewe fiksiewerk met gróót ambisie, is dit dikwels uiters snaaks

Maar, so wil Anker sy lesers liggies vermaan, dié kwelvrae is eintlik tegelykertyd so oud soos die berge. ’n Web van ouer literêre tekste, waarin hierdie temas te berde kom, onderspan die drie verhaallyne en word dus newetekste by die lees van Skepsel.

Benewens etlike verwysings na sprokies, is Ovide, die sekerheidsbeampte van Henk se woonkompleks, na die Romeinse digter Ovidius genoem. Hy lees knaend sy meesterwerk Die metamorfoses waarin karakters pal van gedaante verander. Die karakter Ariel, wat per abuis Henk se oppasser word, roep Shakespeare se toneelstuk The Tempest op, wat vroeg in die 1600’s reeds die besetting van die Nuwe Wêreld krities in oënskou neem. Frankenstein en sý monster kom aan bod asook Pinokkio, die houtpop waarin lewe geblaas is.

In ’n roman wat prikkel en gaandeweg oorrompel, is daar twee mindere voorbehoude. Die suggesties wat Anker laat val dat die verhale behoorlik gaan vervleg, skep by lesers ’n verwagting wat nie bevredig word nie. Ook doen die koronavirus-lint wat hier en daar ingeweef word geforseerd aan – as ’n nagedagte. Dit verbreek die afgeslote eenheid van Anker se merkwaardige heelal.

Hierdie enkele strukturele voorbehoude ten spyt, staan dit vas dat Skepsel ’n onweerstaanbare boek is. Anker se gestoei met dringende kwessies rig ’n sterk intellektuele en emosionele appèl; tog verdring die groot ideë nooit karakterisering of die intrige nie.

Boonop is Anker se prosa saligmooi en, dalk verrassend in spekulatiewe fiksiewerk met gróót ambisie, is dit dikwels uiters snaaks.

Maar, as die boek uiteindelik swaar toeslaan, haper dit steeds aan ’n antwoord: Wat doen ’n mens tog met dié skepsel?

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Skepsel  |  Willem Anker  |  Stemme  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.