Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jeanne skryf steeds

Die bekendstelling by die Woordfees van ’n nuwe digbundel deur Jeanne Goosen (81) én ’n biografie oor haar deur Petrovna Metelerkamp was ’n ‘heerlike harlaboerla’ wat Rachelle Greeff sommer by voorbaat laat uitsien na ’n nuwe ‘Karoo-novelle’ deur Goosen wat later vanjaar verskyn.

Jeanne Goosen, soos gesien deur die lens van Philip de Vos in 2004. Dié foto het in swart-en-wit verskyn in Philip se fotoportretboek Milieu, wat in 2006 deur Protea Boekhuis uitgegee is.

Jeanne Goosen sal waarskynlik nooit weer op haar bed tussen ’n hond en ’n asbak in ’n No Name- of Croxley-oefeningboek sit en skryf nie – Benson & Hedges in die een hand, blou bolpuntpen in die ander.

Maar in die newels van kragverlies, resessie-depressie en onsekerheid oor die aanrollende Covid 19-virus het haar stem op die pasafgelope Woordfees op Stellenbosch helder opgeklink soos ’n skeepsklok in die mis, al was sy na liggaam nie by om te skerts, skerpspot of bits nie.

Jeanne is altyd, herinner John Kannemeyer ons in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, “die geestige en die skrynende naas mekaar”. Die bekendstelling van twéé nuwe boeke – ’n stewige bundel met 114 voorheen ongepubliseerde gedigte, konsepgedigte en los strofes, asook ’n biografie van 314 bladsye, ’n Lewe vol sinne – veroorsaak ’n ligte beroering in die Boektent en laat ’n gehoorganger uitroep: “Maak 2020 die jaar van Jeanne Goosen!” Handegeklap volg: Ja! Ja!

‘My ma was ’n ou krokodil. My pa was ’n reier.’

In een van die nuwe verse in Het jy geweet ek kan toor? vra sy: “Bach, waar kry u u vreugde vandaan?’’ En onder die seilkoepel van die Boektent wil ’n mens die teenvraag vra: Jeanne Goosen, waar kry u u skynbaar eindelose skeppende drif vandaan?

Twee nuwe titels in een week – en dít van iemand wat op 13 Julie haar 82ste verjaardag sal vier – klink na toorwerk. Totdat jy hoor die papiervlerke van minstens nóg twee boeke ritsel in die vleuels van Petrovna Metelerkamp se uitgewershuis op Vermont.

Die volgende publikasie is ’n novelle, ’n formaat wat Jeanne al oudag skitterend in haar greep het. Die nuwe novelle speel af in die Karoo. Presies waar, verklap die uitgewer nie.

Foto: Peter van Noord

Maar draf deur haar biografie en jy sien Jeanne het in die winter van 1992 vir ’n maand in Athol Fugard se huis op Nieu-Bethesda gaan skryf. Saam met haar, vir die skryfslag, is al “Chopin se werke”, want sy het Chopin net so entoesiasties op die klavier gespeel as wat sy na hom geluister het. Ook Agnes Morao, haar Tswana-huiswerker, wat kort tevore verkrag is, gaan saam. Die uiteinde van hierdie skrywersverblyf: Agnes skryf, nie Jeanne nie. Jeanne kyk deur die venster hoe dit sneeu.

Terwyl Jeanne agt jaar tevore op Graaff-Reinet gewoon het, skryf sy vir haar vriendin Mimi Coertse van die “VLV-anties’’ van Nieu-Bethesda wat haar vir ’n boekpraatjie genooi het. Maar haar onderwerp is erg nie-literêr: “Oorwin moegheid. Beloning: ’n streepsak biltong. Wie is ek dus om so ’n aanbod van die hand te wys?”

Ook vertel sy in 1984 vir Mimi van Graaff-Reinet: “Die sterre skyn snags so hard soos hotnosvye aan die hemel. En maak jy die luike oop, vloei die vertrekke vol kerse. Maar dis warm, ai, in hierdie dinosourusland leer jy jou heiland ken.” Skryf terug, vra sy vir Mimi: “Dit sal meer waardeer word as Breyten Breyten se onlangse poësiepleging.”

By die bekendstelling van die biografie tree die teaterdoyenne Sandra Prinsloo as onderhoudvoerder op. Sy was in die verlede dikwels die spelleier vir van Jeanne se toneeltekste, of akteur in van haar dramas. Sy vra die skrywer-uitgewer Petrovna Metelerkamp van Hemel & See Boeke uit oor die biografie. Soos Petrovna is Sandra ook ’n ou vriendin van Jeanne.

’n Koffer in die kas het toentertyd ook in Europa ’n verhoogdraai gegooi, maar toe Sandra Jeanne vir dié vlug Europa toe by die huis oplaai, is Jeanne se kop kórt geskeer, haar oë twee groot blou geverfde kolle en haar wange gilpienk ingekleur. “Wat ’n gesig!’’

Maar Sandra en Petrovna smeer nie nét heuning nie. Hulle herinner ook aan die “knippie sout” waarmee ’n mens meermaal Jeanne se stories moet neem. Hulle het albei, soos baie ander mense, onder haar gevaarlike tong deurgeloop. Sy het onder meer vir Sandra – soos vir die uitgewer Hettie Scholtz – jare gelede van diefstal beskuldig. Lank daarna, vertel Sandra, stuur Jeanne ’n lang SMS waarin sy haar om vergifnis vra, want “jy weet tog ek is mal”.

Jeanne se skeermeskant spruit waarskynlik uit haar primêre verwonding. Die verhouding tussen haar en Piet Pietersielie of Bibberende Piet, soos sy haar pa noem, was haglik. Die biografie laat die indruk dat hy, ’n tekenaar op die spoorweë, sy kinders nooit gekoester het nie. Jeanne se ma het dit raakgevat: Haar man is haar vierde kind. (Buiten ’n ouer broer, Danie, was daar ook ’n jonger sussie, Sheila.)

Piet se buierige onvolwassenheid en sy latere selfdood speel sekerlik ’n rol in Jeanne se eie depressie en oorgevoeligheid. En tog, want sy het ’n fyn genuanseerde aard, ontroer die versreëls oor haar pa. Hierin, soos in etlike van die ander gedigte, grom sy vir God: “U wat orals is en ewig . . . Dan was U mos dáár toe die diewe sy lyk besteel het; / En U het nie ’n vinger gelig nie Here Vader van die diewe / Die blare, die vuur en die slagvelde . . .” Terselfdertyd pleit sy: “Beloof my / As Bibberende Piet by U aandoen / Maak U genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid’’.

Bibberende Piet lê 11 dae in die lykhuis nadat hy homself in hul motor vergas het. Die kerk weier om hom te begrawe omdat hy Sondae onder die einste kar lê en karring eerder as psalms en gesange aanhef in die kerk.

Die nuwe Jeanne-boeke het van die rak gevlieg by die Woordfees en die biografie was binne dae uitverkoop. ’n Heerlike harlaboerla terwyl sy, kan ’n mens raai, met Fudge op haar skoot in ’n laatsomerskaduwee in haar seehuis op Melkbos sit. Fudge is ’n emigrasiehond: Sy seuntjie-eienaar het desperaat gesoek na ’n liefdevolle hondehuis, het die skrywer Marlize Hobbs, ook ’n vriendin van Jeanne, op Facebook gesien. Sy het ’n foto gestuur vir Jeanne, ’n geswore honde-aanbidder, en Fudge is Kaap toe gevlieg. Tussen skrywer en hondjie was dit liefde – eensklaps. (Jeanne het in die verlede verklaar haar honde was almal Christene, maar later gewonder of sy nie dalk haar honde só beledig nie.)

Jeanne het haarself ’n “rare voël” genoem.

Een van haar gunsteling-aanhalings was dié van die Amerikaanse skerpskertser Groucho Marx: “Ek wil nie behoort aan ’n klub wat my as lid sal aanvaar nie.” Haar geboorte kon dan seker ook nie anders wees as raar nie.

In die winter van 1938 word ’n babatjie, Jeannette Helena Goosen, in Parow in die Kaap “deur gypsies gesteel’’. Só skryf Jeanne jare gelede tot party mense se vermaak en ander se verontwaardiging in ’n professionele CV: “My ma was ’n ou krokodil wat in die vlak water lê en loer. Sy het goue tande en kan ’n bok uit ’n bos toor . . . My pa was ’n reier.”

Sy het by geboorte “mos agterstevoor uitgekom’’, onthou haar ma, Judith. Toe nurse Spies die babadogtertjie vir die jong ma bring, het sy gesê: ‘Dè, mrs. Goosen, daar’s jou probleem’.” Omdat Jeanne glo ’n nimmerrustende kleintjie was, het haar ma (met haar pragtige stem en liefde vir die groot upright Görs & Kallmann-klavier) soms die gesin se pekinees, Toodles, “saam met haar in haar bedjie gesit en musiek gespeel en dikwels gesing, dan het Jeanne rustig geword’’.

Jeanne se hele kinderwêreld het, soos syself, veral ná die verskyning van die veelgeroemde Ons is nie almal so nie (1990) volksbesit geword. Die boek was meer as net ’n storie op papier. Dit was ’n gebeurtenis. Die klinkende titel is oornag in die Afrikaanse idiolek opgeneem en baie mense gebruik dit steeds sonder die vaagste benul wie dit uitgedink, oftewel “getoor”, het.

“Skryf is nogal soos toor,” lees ons in die biografie. “Jy het verbeelding nodig en verbeelding is leuens. Toor en skryf is soos om te droom sonder om te slaap.”

Jeanne sê sy het st. 3 gedruip. Moeilik om te glo, maar teen dié tyd was sy reeds die skool se hanswors. Dít maak sin. Jy kry aandag as jy mense laat lag. “Houkes poukes / kyk in die spieël, jy’t verdwyn,” skryf sy in een van die gedigte. Dit maak die “afgryse van kindertyd” leefbaar, volgens die biografie.

Dalk is ’n Lewe vol sinne meer memoires as biografie, meer Jeanne Goosen as John Kannemeyer. Maar laat ons akademiese vriende dit uitstoei. Hulle gaan waarskynlik mor oor die afwesigheid van ’n volledige verwysingsbron, voorspel die uitgewer, en wys op die persoonsregister agterin die boek.

Wat wel opmerklik is, soos die ou OK Bazaars in Adderleystraat, Kaapstad, waar Jeanne se ma soms by die lekkergoedtoonbank gewerk het, is die toeganklikheid van dié nuttige inligtingsbron oor die veelbekroonde Goosen in die konteks van ’n lang, kreatief-vrugbare en kleurryke lewe van ook “clowning” (haar eie woorde). Dit lees lig en vlot. Met alles in een band, as’t ware in een oogopslag, sal die leser weer eens beïndruk wees met haar veelsydige en wydlopende talent. Wat kon sy nié skryf nie? Nee, wat kon sy nie uitstekend skryf nie?

Poësie, kortverhale, romans, toneelstukke, kabarette, essays en deur die jare derhonderde stories vir die verskillende koerante in wie se redaksie sy gedien het – en niks is ooit louwarm ontvang nie.

Op planeet Jeanne Goosen bestaan die woord “lou’’ net in die titel van haar novelle Louoond (1987). Middelmatig kan sy nie wees nie. As jy dit nou nog nie weet nie, sal jy dit weldra ontdek, of herontdek. Sy skitter van kleindag (dis hoekom die herhaling van st. 3 vreemd klink) in alles wat sy aanpak. Wat haar hande of verbeelding ook al aangeraak het, het sy fantasties gedoen. Letterlik en figuurlik. Van tuinmaak, navors en aantekeninge maak oor hoenders en plante en die ruimte, haar eie rookgoed rol, manipuleer, aspris wees, opstook, bemin, klavier speel, visvang, verbeel, verwoord. Sy was 13, vertel sy, toe sy as jong pianis saam met ’n simfonieorkes gespeel het.

Nóg ’n teken van haar begaafdheid, hoewel Petrovna geen verwysing hiervan gevind het nie in die berge dokumente wat sy by Jeanne gekry het, met die toestemming ook van diegene wat na haar belange omsien.

’n Lewe vol sinne bestaan uit drie dele. Die eerste, biografiese gedeelte (van 1938 tot met die verskyning nou), word opgevolg deur briewe aan minnaars tot akademici – van Deborah Steinmair tot Elize Botha, van ’n “anonieme geliefde’’ tot André Brink, onder meer.

In die derde gedeelte gesels mense oor haar asof hulle oorkant jou sit. Dit sluit in Murray La Vita, Lizz Meiring, Katinka Heyns en Michele van der Westhuizen, tans Jeanne se hoofversorger. Michelle sê: “A little bit of Jeanne died when Reinet died – and also when her Labrador, Delores, went.”

Reinet Nagtegaal was ’n hartsvriendin van Jeanne en die huidige sowel as toekomstige boeke is ook te danke aan die ruimhartige ondersteuning van Reinet se man, Dirk. Hiersonder is ons waarskynlik nooit na dié betowerende “konsert” genooi nie.

Jy gaan in, soos vir ’n opvoering, om te lees. Maar dit word meer as lees. Jy belééf. Iets binne-in jou kenter. My “iets” (joune sal dalk anders wees) is ’n verrassend verskerpte insig in die bedrading van ’n buitengewoon begaafde mens. Want dit is Jeanne – begaaf tot in die besonderhede.

Jeanne en haar versorgers praat Engels. Dit is albei se tweede taal. Dorothy Mndwa beskryf haar as “a strong woman with a powerful voice”. ’n Kollega, Vuyokazi Japhi, sê Jeanne beur haar elke dag op: “And at the end of the day she would thank me for coming – every sin­gle day.’’

Vir Grace Rotimi is sy een van haar beste pasiënte ooit. “She always cares about me and she’s also like a moth­er to me, calling me her baby.’’

Elke dag, op Melkbos, vlieg ’n duif by Jeanne se kamer in. Asof namens al die tientalle diere na wie die vrou in die kamer oor die jare so hartstogtelik omgegee het. Die duif kom sit op Jeanne se skouer, of die tafel langs haar. Dit is die vreemdste, vertel Michele, die duif kom soos ’n beskerm­engel en is ook nie bang vir Fudge langs Jeanne nie.

Wanneer jy ook dié verse en biografie van Jeanne lees, is die kuiergas-voël (gestaaf met ’n foto in die boek) nie “die vreemdste ding” nie. Dis maar net ordinêre toorwerk. Ordinêre Jeanne.

By die Woordfees spreek heelwat mense steeds Jeanne se naam verkeerd uit. Vir hulle ’n wenk: Dis “jean” soos in “jeans”. Kry dit onder die knie en moenie haar tot snydende spitsvondigheid verlei nie. Sy skryf sy wil graag “ ’n gawe mens’’ wees “wanneer ek doodgaan / sonder wrokke, agterdog, vrese en vrae / skoongebad, styfskoppend in ’n stofwolk Johnson’s Baby / regop met ’n glas gin en tonic . . .” en “vir oulaas hunkerende Chopin / en by voorbaat dank.”

Wat kan mens hierop antwoord buiten: Dit is vir ons almal steeds ’n onherhaalbare plesier, gypsie-kind.

  • Het jy geweet ek kan toor? en ’n Lewe vol sinne word uitgegee deur Hemel & See Boeke en kos onderskeidelik R130 en R300 by goeie boekwinkels. Kontak die uitgewer by hemelenseeboeke@hermanus.co.za of 028?316 4852 of 082 750 7274 indien jy sukkel om dit in die hande te kry.
Eerste foto verdien ’n spesiale plek

In 1990 verskyn Jeanne se kompakte roman Ons is nie almal so nie, wat grense verskuif en bekroon word, onder meer met die M-Net-prys in 1991.

Maar Jeanne skop so hard teen die idee dat sy nou “volksbesit” is dat sy summier besluit om die pryssertifikaat te versier met afdrukke van onder meer die Voortrekkermonument, ’n nasionalis met ’n hoed, ’n tipiese boer in ’n kortbroek en lang kouse, ’n stuk boerewors, die progerielyer wyle Fransie Geringer en ’n ou ID-foto van haarself.

Dié collage gee sy as geskenk aan Hettie Scholtz, een van haar uitgewers, wat dit vir 30 jaar in haar studeerkamer hang.

Maar toe Hettie op ’n dag kuier by haar vriendin en oudkollega Marietjie Coetzee, nóg een van Jeanne se uitgewers en deesdae die eienaar van die gastehuis Voëlroepersfontein op Albertinia, besluit sy die sertifikaat verdien ’n spesiale plek in die studeerkamer van dié gastehuis, wat spesiale afslag aan skrywers gee.

“Daar tussen die rakke met al Jeanne se boeke waaraan Marietjie gewerk het, sal meer skrywers dit kan sien. Sommige goed hou ’n mens nie vir jouself nie,” sê Hettie.

Intussen het Petrovna Metelerkamp aan Rapport gesê dié ID-foto is waarskynlik die oudste foto van Jeanne wat nog bestaan aangesien die Goosen-gesin nie ’n kamera gehad het nie.

Die ID-foto is waarskynlik tussen 1956 (die jaar toe Jeanne 18 geword het) en beslis voor 1962 geneem.


Meer oor:  Biografie  |  Woordfees  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.