Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jeugromans: Verras soos lieflike laslapkombers

Drie pryswenner-jeugromans wat ’n magdom aktuele kwessies aanraak, wys hierdie genre is kerngesond in Afrikaans, skryf Magdel Vorster.

Oopmond deur Jan Vermeulen. Uitgewer: Lapa. Prys: R200.

Die wenner van Lapa se jeugromankompetisie in 2017 doen sy titel gestand: Dié moderne storie sal lesers van 13 en ouer inderdaad oopmond laat.

Die verhaal skop af sewe maande ná ’n hartoorplanting op die 17-jarige hoofkarakter, Madelaine Taaibosch. Ondanks positiewe mediese verslae voel alles nie pluis nie. Ná vele reise na die verlede op haar antieke bed, plus haar ontmoeting met die geskiedenis- en rekenaar-bleeksiel, Brand, begin Madelaine glo ’n gebroke hart is in haar oorgeplant.

Op haar bed word Madelaine Koba tydens die Anglo-Boereoorlog, asook die Franse vlugteling Madelaine Taillefert wat op pad is na die Kaap de Goede Hoop.

Camille Bisseaux verskyn tussendeur om aan haar perspektief op gebeure deur die eeue te gee.

Intussen vors Brand stambome na om die kloutjie by die oor te bring, maar dis uiteindelik Madelaine wat ’n keuse moet maak om haar roeping te vervul.

Ondanks die feitelik swaargelaaide teks hoef die leser danksy ’n toeganklike storielyn nooit deur ingewikkelde, verduidelikende teks te worstel nie. Geskiedenistonele word boeiend gedramatiseer terwyl die simptome van gebrokehartsindroom insiggewend gebruik word om die hede vindingryk met Madelaine se tydreise te integreer.

Oopmond verras soos ’n lieflike laslapkombers wat moeiteloos voor jou oë aanmekaargesit word.

Toring van jasmyn deur Derick van der Walt. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R195.

Toring van jasmyn, die wenner van vanjaar se Sanlamprys vir Afrikaanse jeuglektuur, neem tienerlesers na die strate van Istanbul, maar dis uit die staanspoor duidelik dat dit hier nie om ’n gewone gesinsvakansie gaan nie. Benewens vele kos- en kultuuravonture kan lesers ook aksie verwag wanneer die skote begin klap en ’n ontvoering plaasvind.

Die skrywer wissel die perspektief af tussen dié van ’n knorrige Suid-Afrikaanse tiener en ’n arm Turkse tiener en sy gesin. Teenoor Markus wat probeer sin maak van ’n nuwe gesinsopset ná sy ouers se egskeiding, staan Sahib wat ná sy pa se dood in ’n bomontploffing móét werk om sy gesin te help onderhou.

Markus is tienerkwaad vir die lewe en beskryf sy reisgenote as die sonskyngroepie. Sy pa het boonop sy oorlede sakevennoot se seun, Neil, saamgenooi en hy moet ’n kamer met hom deel. In boodskappe van Neil aan sy meisie tussendeur verskaf Van der Walt slim, bykomende perspektief op die storielyn en word los drade behendig saamgeknoop.

Toring van jasmyn is ’n grootwordverhaal met ’n paar spanningsvolle oomblikke eerder as ’n spanningsverhaal. Van der Walt slaag daarin om deur die uitbeelding van kultuur- en geografiese verskille te wys hoe eenders mense is en hoe almal by omstandighede aanpas en voortleef. Tienermeisies én -seuns sal dit ewe veel geniet.

Sindikaat deur Annerle Barnard. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R195.

Annerle Barnard se Sindikaat is vanjaar as silwerwenner in die Afrikaanse kategorie van die Sanlamprys vir jeuglektuur aangewys.

Die verhaal begin waar die hoofkarakter, Paul, twee vriende en sy lyfwag op pad is na Zambië. Die plan is dat hulle dáár, onder die dekmantel van ’n vlieghengelvakansie, wag tot sake tuis veiliger is, maar dinge loop lelik skeef. Paul was, soos in Sweepslag, Barnard se jeugromandebuut wat vroeër vanjaar verskyn het, op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Danksy tydspronge is dit gou duidelik dat hulle voor ’n Chinese sindikaat vlug nadat Paul op smokkel-items afgekom het. Hoewel Sindikaat uiteindelik ’n aktuele groen boodskap oordra, word die storielyn rondom smokkelary en die verweefdheid en onverbiddelike modus operandi van sindikate ontwikkel.

Sindikaat is ’n aksiebelaaide avontuurverhaal waarvan gedeeltes gewelddadig is en daar word ook nie van grafiese beskrywings of kru taal weggeskram nie. Tussendeur die aksie word asem geskep en tienerkwessies soos vriendskap, geslag en lojaliteit aangeraak.

Soos in Sweepslag is Paul se dialoog en gedagtes deurspek met kwinkslae wat (on)gelukkig veroorsaak dat die opbou van spanning soms verlore gaan.

Sindikaat het al die bestanddele vir ’n aktuele spannende verhaal en word vir seuns en meisies van 14 jaar en ouer aanbeveel.

Meer oor:  Annerle Barnard  |  Toekennings  |  Sindikaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.