Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jeugskrywer 3de keer finalis
Die Bloemfonteinse jeugskrywer Annerle Barnard is die derde keer onder die finaliste vir die Sanlam-jeuglektuurprys vir haar futuristiese boek ‘Spel’. ‘Sweepslag’ was in 2017 ’n finalis en ‘Sindikaat’ in 2019 die naaswenner.

“My kop is nie bedraad vir fantasie nie en soos my vorige boeke is Spel ook realistiese fiksie. Dit was ’n moeilike boek om te skryf omdat ek geweldig baie navorsing moes doen oor wetenskaplike feite van die toekoms. Spel is wel ’n futuristiese verhaal, maar dit is gegrond in die wetenskap en is beslis nie fantasie nie.”

Annerle Barnard van Bloemfontein gesels opgewonde oor dié jeugroman wat haar die derde keer ’n plek as finalis vir die Sanlam-jeuglektuurprys besorg het. In 2019 was sy die naaswenner met Sindikaat en in 2017 was haar debuutboek, Sweepslag, ’n finalis. Spel is soos die vorige twee boeke ook vir 14- tot 18-jariges geskryf.

Dat al drie haar boeke enkelwoordtitels het en al drie met S begin, is bloot toevallig, sê sy. Dat sy vir tieners skryf, is nie so toevallig nie.

Die omslag van ‘Sweepslag’.

“Ek is passievol oor geletterdheid en het self twee tienerseuns wat ek moet aanpor om te lees. Jy weet, Amerikaners het bewys jeugmisdaad kan direk gekoppel word aan ongeletterdheid,” sê sy.

“Vroeër toe ek skoolgehou het, het ek besef lees is van kardinale belang. As jy nie kan lees nie, kan jy nie leer nie. En hoe vinniger jy lees, hoe vinniger leer jy.”

Sy sê haar twee tienerseuns is sportmal. Omdat die toerusting deesdae geweldig duur is, het sy begin om met die kinders te onderhandel.

“Sê byvoorbeeld hulle het ’n tennisraket nodig, dan vra ek hoeveel bladsye sal jy daarvoor lees. Nou kom hulle al self met voorstelle en sê ‘ek sal 50 bladsye lees, kan ek dan ’n sokkerbal kry?’”

Die omslag van ‘Sindikaat’. ‘Spel’ se omslag is nog nie beskikbaar nie.

Barnard sê dit maak hulle steeds nie passievolle lesers nie, “maar eendag as hulle 35 is, sal hulle my bel en dankie sê dat ek hulle gedwing het om te lees”.

Die verhaalidee vir Spel het Barnard in ’n droom besoek. “Ek het wakker geskrik met beelde van robotte wat in ’n spel met die mensdom gewikkel is en geweet dit is ’n storie.”

Lukas is die 17-jarige hoofkarakter in Spel en een van ’n handjievol oorblywende mense nadat die aarde deur onder meer kuborge en robotte oorgeneem is.

Barnard sê hoewel sy nooit ’n bewuste keuse gemaak het om vir tieners te skryf nie, kon dit nie anders nie. In 2013 het sy ’n nuusberig gehoor oor twee meisies wat in Bloemfontein ontvoer is.

“Dit is ’n storie en tema wat geskryf wou wees,” en dit was die begin van Barnard se skryfloopbaan – toe sy 42 jaar oud was.

Sy sê sy geniet dit om vir die jeug te skryf omdat hulle eerlike lesers is.

“Hulle vind aanklank by stories met ’n vinnige tempo en ’n fokus op hedendaagse uitdagings en dis iets wat my ook trek. Dié soort skryf kom vir my natuurlik.”

Die finaliste in die Sanlam-jeuglektuurpryse vir lesers van 12 tot 18 jaar is uit 95 manuskripte gekies. ’n Wenner en naaswenner sal in Oktober in elk van die drie kategorieë – Engels, Afrikaans en Afrikatale – aangewys word.

Hier is die finaliste in die Afrikaanse kategorie:

• Faeed Amardien van Parkwood Estate, Kaapstad, vir Life is ’n biets;

• Marissa Badenhorst van Potchefstroom vir Akwa;

• Annerle Barnard van Bloemfontein vir Spel;

• Elanie Boshoff van Newcastle vir 56 dae van lente;

• Ihette Senekal van Colbyn, Pretoria, vir Vyf sekondes voor Vrydag; en

• Betsie van Niekerk van Malmesbury vir Anderkind.

Die wenners word in Oktober bekend gemaak. Elke kategoriewenner ontvang R20 000 en die naaswenners R10 000 elk.

Meer oor:  Sanlam  |  Jeugfiksie  |  Annerle Barnard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.