Meer as 40 miljoen eksemplare van Jodi Picoult se romans is wêreldwyd in druk, en nou is ‘Die belydenis’, die eerste van minstens drie beplande Afrikaanse vertalings deur Daniel Hugo, op die rak.
Die veelbekroonde Amerikaanse skrywer Jodi Picoult het meer as 25 boeke op haar kerfstok wat al in 34 tale vertaal is.
Haar roman Plain Truth (2000), wat die storie vertel van Katie Fisher, ’n ongetroude Amiese meisie wat beskuldig word van die moord op haar pasgebore baba, het pas in Afrikaans verskyn by Jonathan Ball onder die titel Die belydenis.
By die Woordfees
Deborah Steinmair en Sara-Jayne King van Cape Talk voer op 10 Maart (17:00) in die Drostdy-teater ’n Skype-onderhoud met Picoult, wat in New Hampshire in die VSA saam met haar man en drie kinders woon. Kaartjies kos R65 by Computicket of R85 by die deur.
Die vertaler is die digter Daniel Hugo, wat reeds twee keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer is vir sy vertalings uit Nederlands na Afrikaans.
Die skrywer en ouduitgewer Kerneels Breytenbach loof Die belydenis as ’n “uitstekende vertaling” wat Afrikaanse lesers wat nog nie Picoult se werk ken nie aan haar skrywerskap sal bekend stel.
En nog is dit het einde niet: In Mei verskyn Negentien minute, Hugo se vertaling van Nineteen Minutes (2007), die eerste Picoult-roman wat in die nr. 1-posisie op The New York Times se topverkoperlys gedebuteer het. Dit vertel die verhaal van ’n skoolskietery en die gebeure wat dit voorafgegaan en daarop gevolg het.
En as alles volgens plan verloop, verskyn Picoult se nuwe roman (die titel is nog nie bekend gemaak nie) in September vanjaar – sowaar gelyktydig in Engels en Afrikaans.
- Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R190 (Die belydenis) en R220 (Negentien minute).