Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Joernalis debuteer met bundel
Corlia Fourie

Die skrywer en joernalis Corlia Fourie sê haar debuutdigbundel, wat onlangs deur Protea uitgereik is, is tot ’n mate ’n studie oor besonderse vroue.

Bekende vroue in die geskiedenis figureer in Die goeie vrou en ander mites, maar Fourie raak ook aktuele sake soos mishandeling aan.

Die bundel spruit onder meer uit haar belangstelling in vroue en hul posisie op politiese sowel as maatskaplike gebied. Haar belangstelling in die geskiedenis en haar ervaring as joernalis het ook tot die bundel bygedra.

“Ek skryf oor bekende vroue, maar ek stel ook belang in gewone vroue, dié wat probleme het,” sê Fourie.

Die naam van die eerste gedig in die bundel is ook “Die goeie vrou”.

“Die vrou in hierdie gedig is eintlik kwaad omdat sy so goed is. Sy sorg mooi vir haar man en kinders, ensovoorts, en doen alles wat ’n goeie vrou doen, maar eintlik is sy kwaad – sy is so goed dat sy eintlik kwaad is.”

Fourie, dogter van die ontslape skrywer Mikro en verhale-redakteur van die tydskrif Rooi Rose, het uit die aard van haar werk al dikwels oor vroue gelees.

“Ondanks al die moeilike omstandighede van sekere vroue, was daar nog altyd besondere vroue waarvan wie sommige nie eers in hul leeftyd die erkenning gekry het nie.”

Die goeie vrou en ander mites, Corlia Fourie se debuutdigbundel.

Sy skryf oor onder andere die Britse mediese dokter James Barry (Margaret Bulkley) en die eksentrieke kunstenaar Helen Martins wat op Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap gewoon het.

Die vroue waaroor sy skryf, het hulle op verskillende maniere by haar aangemeld.

“Oor James Barry het ek geskryf vir Rooi Rose se ‘Beeld van ’n vrou’. Dis so ’n randfiguur. In haar tyd was vroue nie toegelaat om universiteit toe te gaan nie. In Helen Martins se geval het ek weer haar huis toevallig besoek. Jy ondervind iets en jare later kom hierdie ding nou weer uit. Ek weet nie hoe ’n mens se brein regtig werk nie.”

Tog beskou Fourie haarself nie as ’n digter nie.

Dit was vir haar meer soos ’n eksperiment of ’n spel.

Sy het ongeveer 10 jaar gelede in die Emmarentiapark in Johannesburg gaan stap, en toe sy tuiskom, het sy ’n gedig in haar kop gehad, maar nie eintlik geweet wat om daarmee te maak nie.

Sy het die gedig neergepen, maar gedink sy kan niks daarmee maak nie, omdat dit net een gedig is.

Corlia Fourie Foto: Marianne Fourie

Later het nog gedagtes na vore gekom en mettertyd het die moontlikheid van ’n bundel ’n werklikheid geword.

Sy sal aanhou gedigte skryf, mits ’n gedagte haar beetpak, maar steeds is sy nie iemand wat ’n lewe maak deur te dig nie. “Jy kry ’n gedagte en dit neem vorm aan.”

Die afwerking was vir haar moeilik met die voltooiing van die bundel.

“Party van die gedigte kom in my kop en hulle is reg, maar party moet ek oor en oor skryf. En dan sal die keurders wys op wat nog verbeter kan word. Dit is die klein, fyn goedjies, die tegniese goed wat vir my moeilik is.

“Ek is Rentia Bartlett-Möhl (redakteur) en Louis Esterhuizen (keurder) baie dank verskuldig – hulle was so hulpvaardig en entoesiasties en so vol kennis.”

* Die goeie vrou en ander mites word deur Protea uitgegee en kos R175.

Meer oor:  Gedigte  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.