Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Johan Myburg sê virtueel dankie ‘in dié dae van die binnekamer’
Die digter Johan Myburg

Hier volg die digter Johan Myburg se toespraak met die ontvangs van die Hertzogprys vroeër Donderdagaand.

Voorsitter van die akademie, lede van die letterkundekommissie, medebekroondes, dames en here, ons dae is nie dié van in die openbaar verskyn om te pronk nie; dis nie die dae van linte om die nek hang, van handdrukke of omhelsings nie.

Ons dae is dié van die binnekamer, die dae van bestek neem, van opruim, minstens van boeke op ’n rak rangskik sodat die agtergrond na iets kan lyk as jy skielik moet Zoom of Google Meet.

Dis die dae van virtuele kontak en dankie sê oor ’n afstand.

Dit is dae van ontbering. Op soveel terreine en so baie mense word geaffekteer.

Dis daarmee saam die dae van groter menslikheid en straks meer medemenslikheid. Hopelik van welwillendheid en ’n gevoel van ter wille wees. Dae van skoner lug.

Die omslag van Johan Myburg se bundel “Uittogboek”, waarvoor hy die Hertzogprys ontvang het.

Maar dit is bowenal dae van onsekerheid. Onsekerheid wat terselfdertyd die grondliggende “onsekerte”, waarvan Van Wyk Louw gepraat het, weer voed.

Die onsekerte wat deel is van ons menswees en wat woorde soos “miskien” in ons woordeskat laat gedy. Wat ruimte maak, eerder as om met stelligheid te wil afbaken.

Ons dae is dié van minder punte aan die einde van sinne; wat ons leestekens soos kommas, kommapunte en veral vraagtekens laat herontdek.

Ons dae, so lyk dit my, is dié van poësie wat wil wonder, eerder as om te weet.

Met dit alles in gedagte wil ek die letterkundekommissie bedank wat my werk geweeg het en die Akademie wat besluit het om die Hertzogprys aan my, met al my bagasie, gegewe die dae en jare waarin ons lewe, toe te vertrou.

Ek wil dankie sê aan almal wat my leer skryf het, van letters vorm tot sinne strengel.

Aan my uitgewer wat glo in die woord en die segging van poësie.

Laastens aan iedere leser van die woord. Mense wat gelei deur onsekerte ’n behoefte het aan woorde. Woorde wat nie meer sekerheid bring nie. Maar dalk groter ruimte, en meer menslikheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.