Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jong digter ‘verskalk’ haar leser behoorlik

Radbraak

Jolyn Phillips

HUMAN & ROUSSEAU, R180

’n Mens kan bykans hoor hoe die taal se “takkies” in Phillips se sinne gebreek word.Foto: BRENDA VELDTMAN

Die digter Jolyn Phillips (27) debuteer met een van die interessantste digbundels in jare.

Sy skryf oor die visserslewe van die omgewing van haar kleintyd, Gansbaai. Die liefde en persoonlike vertwyfelinge vermeng in die palet; en heelparty gedigte handel oor die verwringing van waardes – misdaad en gruwels – wat soms aangetref word in gemeenskappe wat deur historiese en sosiale kragte geskend is.

Die samehang van tematiek en vormgewing val deurgaans op. Die soms besonder kreatiewe taalverbrokkeling eggo die temas van so­siale, persoonlike en gesinsverbrokkeling, en die gedigte gee – op ’n verdere vlak – afskynsels van sienings oor menslikheid en haar land wat die werklikheid, en selfs wenslikheid, van hierdie verbrokkeling versterk.

Die bundel toon sodoende – nie sonder insinking van cliché en rymdwang, hier en daar nie – ’n baie treffende poëtikaal-ikoniese prestasie in ’n tradisielyn wat deur Breytenbach, Krog en Van Niekerk loop. Die Afrikaanse taal-aard verleen homself tot hierdie soort eksperiment.

Die “verbrokkelingsmotief” van Phillips se poëtika is – paradoksaal – een van die bundel se konstantes. Die vertellerstem-identiteite, byvoorbeeld, is uiteenlopend en wissel mekaar soms in een gedig af (“Drietjies en Dawetjies se beter-dae-sous”).

Dis ’n digterskap wat taalgerig is maar terselfdertyd opvallende digkonvensies (soos die verwagte digtheid van soorte rym) vermy; en klankspel is opsetlik dun maar goed geplaas. Phillips puur haar vormgewing uit distorsie; ’n mens kan bykans hoor hoe die taal se “takkies” in haar sinne gebreek word.

’n Voorbeeld van hoe sy deur suggestie behendige effekte verkry. In “die skim”, wat handel oor verslawing staan: “antie Hanna kla die vrouens tik/ om maer te word kyk hoe skud/ Bok se kind se kop asof sy/ heeltyd nee sê”. Dis ’n versengende segging van die soort wat dikwels voorkom in die bundel.

Sy gebruik soms beeld-jukstaposisie: “ons smeer mis vir ’n blink vloer onthou jy/ die skaapvet op ons brood”. Let op die ingebedde betekenis in die woord “onthou”, wat die betekenis van die “blink”, wat as’t ware “weerspieël” of “weer gebeur”, beklemtoon.

Onopvallende betekenispel is ’n sterk punt. ’n Ma wat haar seun aan die dood afstaan se verlies word só uitgedruk: “By die begrafnis is die kis in baarkleed gedrapeer”, waar “baar” na die draagbaar sowel as die gestorwene se rouende ma se leweskenking aan hom verwys.

Phillips se radbraak is ryk in dialek, soos in “as god so belowe/ sal ek jou beter lewe in die oorle”. Maar die gebruik van dialek is nie Trantraal se gebruik nie; dis nie konteksgewend nie, maar ’n newegegewe.

Phillips vernietig die stereotipe oor wie op grond van historiese indelings in watter soort Afrikaans behoort te skryf. Haar taal is standaard-Afrikaans, ook die taal as ryklik herskape slagoffer van haar eie grille. Die titel sê alles: die “rad” in “radbraak” herinner aan die stuur van ’n skip, by implikasie sy rigting, wat hier “gebreek” aangebied word. Of dalk aan die katrienewiel, die martelwiel.

Die sterkste prestasies is “terug van die af naweek” (en weet maar: “af” het meer as een betekenis), die allermooie “tongvis”, ’n erotiese gedig wat herinner aan Marjolein de Vos se bekende Nederlandse gedig “Kooklust”, net nóg mooier; “my ma in c-majeur” en “geelsanger”, onder meer.

Is daar poësielesers wat nié weet wat die woord “verskalk” (bl. 55) beteken nie? Voordat jy hierdie bundel lees, behoort jy uit te vind: Die digter van radbraak verskalk haar leser.

Dit is lanklaas wat Afrikaans ’n digter gelewer het wat nog in die jare twintig van haar lewe verkeer wat met soveel belofte haar buiging maak. ’n Belittekende belofte is dit wel, ’n onaf ster word hier gevolg (in die beste sin van die woord), maar juis daarom is dit dalk ’n bundel waarvan die skoonheid en kreet selfs méér opsienbarend is as wat dit andersins sou gewees het.

Charl-Pierre Naudé is ’n digter van Johannesburg.

Meer oor:  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.