Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Jong’ feite – met of sonder fiksie

Drie nuwe boeke wys Afrikaanse jeug-niefiksie is aan’t verander – van vaal teksboeke tot prettige, toeganklike en verteenwoordigende leesstof, skryf Magdel Vorster.

Die belangrikheid van feitelike, leersame leeswerk het die afgelope paar jaar al hoe duideliker geword.

Hoewel daar nog altyd lesers was wat feiteboeke bo fiksie verkies, het dit noodsaaklik geword om hierdie tekste binne die bereik van alle jong lesers te plaas.

Niefiksie moet aanloklik wees; met volop variasie.

Kan ’n walvis winde los? en ander gruwelike en grillerige vrae oor diere deur Jaco Jacobs. Uitgewer: Lapa. Prys: R140.

’n Groot groep lesers vind omvattend geïllustreerde tekste met bondige brokkies inligting aanloklik en verteerbaar. Jaco Jacobs se nuwe Kan ’n walvis winde los? is die perfekte voorbeeld. Dis propvol obskure en snaakse en, soos lesers teen dié tyd van Jacobs kan verwag, grillerige, vieslike en stinkerige dierefeite. Zinelda McDonald se prettige illustrasies vul die feite perfek aan. Belangrike inligting oor ’n verskeidenheid diere word tussen al die gegril en gegiggel oorgedra. Ek is oortuig daarvan enige tienjarige wat ’n hoep-hoepnes ná die lees van dié boek opmerk, sal al snuifende onder daardie boom gaan rondhang om een van die baie vreemde feite in die boek te probeer staaf.

Ster en die skugter vyf deur Henriette Linde-Loubser met illustrasies deur Elizabeth Pulles. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R180.

Ster en die skugter vyf is gemik op lesers van ses tot nege en vertel die stories van vyf skaam nagdiere.

Ster woon by haar broer en sy wildbewaardervrou op ’n plaas. Een aand verskyn ’n erdvark langs haar bed en sy stem in om saam met hom op nagtelike ontdekkingstogte te gaan. So leer sy die “skugter vyf” ken – die erdvark, oewerkonyn, Kaapse luiperd, ietermagog en wit leeu.

Elke dier kry sy eie hoofstuk en aan die einde van elk verskaf Linde-Loubser ’n bonuslysie feite vir dié wat dalk nog ’n hol kolletjie het. Het jy byvoorbeeld geweet ’n Kaapse luiperd eet nie bobbejane nie? Of dat ’n ietermagogwyfie haar kleintjie op haar stert ronddra? Boonop bevestig Ster se erdvarkvriend Jaco Jacobs se brokkie oor erdvarke, wat, nes katte, alle bewyse van toiletsake begrawe. Linde-Loubser lewer met haar boek ’n belangrike bydrae tot omgewingsbewusmaking.

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage met illustrasies deur Tumi K. Steyn. Uitgewer: Lapa. Prys: R330.

Skooltake en -mondelinge kan tot huismoles lei en onderwysers is sekerlik al keelvol van Isaac Newton en Einstein. Staan opsy Google – daar is uiteindelik in Afrikaans ’n toeganklike bron oor Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, entrepreneurs en uitvinders beskikbaar. Duvenage se boek is ’n lywige leesfees met veel meer as die 102 profiele. Dinge wat nie noodwendig feitelike soektogte sou inspireer nie ontspring soos feitfonteine.

Die profiele lees soos stories en is in nege afdelings gegroepeer. Agt afdelings handel oor spesifieke deurbrake in verskillende vakrigtings en die negende een, my gunsteling, vertel die verhale van 26 uitvinders en ander planmakers. Van hierdie slimkoppe is Mark Shuttleworth, Montgomery Pratley en Aubrey Kruger seker die bekendste, maar die stories agter die skeppers van die eerste Pap-OTM in Potchefstroom verlede jaar en die internet­ondernemings Clicks2Customers en Yola. com is ook ingesluit en sal beslis jong lesers interesseer. Tumi K. Steyn verdien ’n pluimpie vir die illustrasies.

Hierdie drie boeke toon hoe Afrikaanse jeug-niefiksie aan’t verander is – van ’n vaal teksboekvoorkoms tot prettige, toeganklike en verteenwoordigende leesstof.

  • Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Jaco Jacobs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.