Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jooste se transaksies ontrafel

Deon Meyer én Jacques Pauw is gaande oor ‘Steinheist’, wat tans die enigste opsie is om meer uit te vind oor die grootste ineenstorting tot nog toe in die Suid-Afrikaanse sakewêreld, skryf Nellie Brand-Jonker.

Steinheist: Markus Jooste, Steinhoff and SA’s Biggest Corporate Fraud deur Rob Rose. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R295.

Wanneer die speurverhaalskrywer Deon Meyer op Twitter Steinheist loof as ’n “brilliant, unputdownable steam train of a book”, wéét jy jy kan dié een maar op jou leeslys sit.

Rob Rose vertel die verhaal van die grootste ineenstorting tot nog toe in die Suid-Afrikaanse sakewêreld waarin meer as R200 miljard op die JSE uitgewis is.

Dié boek is tans die enigste opsie tot jou beskikking om meer uit te vind oor wat fout geloop het, want Steinhoff, wat beloof het om vandeesmaand inligting oor die forensiese ondersoek na sy boeke bekend te maak, het onlangs aangekondig dit gaan eers maande van nou af beskikbaar wees.

’n Mens besef gou waarom Rose al talle pryse gewen het en as een van Suid-Afrika se voorste ondersoekende en sakejoernaliste gereken word.

Steinheist word op die voorblad deur die ondersoekende joernalis Jacques Pauw geloof as “ ’n verstommende stuk ondersoekende joernalistiek” en dit is inderdaad ook hoe dit lees – soos ’n lang ondersoekende berig wat die komplekse transaksies van Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, oor twee dekades probeer losrafel en dan die vrot stukkies wat lankal ’n klankie gehad het, netjies uitsny en uitstal om almal wat al met die maatskappy of met Jooste te doen gehad het, te laat wonder hoekom hulle dit voorheen misgekyk het.

Jy het nie kennis van die sakewêreld nodig om die boek te verstaan nie en die skrywer saal lesers ook nie op met onnodige terme wat ’n mens moet google nie.

Hoewel ’n groot deel van die boek oor komplekse transaksies handel, is dit op so ’n manier geskryf dat die leser nie by ingewikkelde terminologie vassteek nie. Dit bevat ook heelwat nuwe inligting oor wat moontlik verkeerd gegaan het en wat jy nie tot dusver in koerante en saketydskrifte sou raaklees nie.

Rose het op eNCA aan Jeremy Maggs gesê hy het onderhoude gevoer met Bruno Steinhoff, stigter van die maatskappy; Christo Wiese, die sakeman wat die grootste aandeelhouer in Steinhoff was en ook voorsitter voor die ineenstorting; en Whitey Basson, voormalige uitvoerende hoof van die Shoprite-groep. Baie van die anonieme bronne is mense wat saam met Jooste gewerk het en selfs direkteure was. Rose het aan Maggs gesê dit was nie moeilik om mense te oortuig om met die mandjie patats vorendag te kom nie. “Baie het ’n oop wond gehad en wou daaroor praat.”

In die onderhoud sê Rose verder net soos met die Enron-skandaal in Amerika was baie van die inligting lankal in die openbare sfeer – “mense moes eenvoudig weer en uit ’n ander hoek daarna kyk”.

Die ernstige aantygings wat in die boek teen Jooste gemaak word, is volgens Rose redelike afleidings gegrond op die bewyse wat tans beskikbaar is. Om te bepaal hoe akkuraat dit is, is die inligting ook vergelyk met dié van PwC se ondersoekers wat die forensiese speurtog oor die ongerymdhede behartig.

Steinheist skop af met ’n boeiende rekonstruksie van wat agter die skerms gebeur het in die week voor die ineenstorting. ’n Hoogtepunt van dié hoofstuk is die vertelling dat Jooste glo ontroosbaar by die wynplaas Lanzerac sit en huil het en ’n prokureur na die direksie en Christo Wiese gestuur het om sy bedanking aan te bied. Dit was nadat hy nooit, soos hy beloof het, opgedaag het by die kantoor in Stellenbosch om te kom verduidelik oor die vrae wat hul amptelike ouditeure, Deloitte, gehad het nie. (Elders in die boek is Jooste se weergawe van die gebeure soos hy dit onlangs in die parlement vertel het.)

In hoofstuk 13 herbesoek Rose die gebeure vanaf Augustus 2017 toe ernstige vrae by Deloitte ontstaan het nadat ’n anonieme pakkie met inligting aan De-loitte in Nederland gestuur is. Dit het na bewering dokumente bevat wat Deloitte met die kontrakte in hul besit vergelyk het. “Dié in ons besit was anders,” vertel iemand by Deloitte – dus vervalste dokumente. Volgens Rose het dié ontdekking hulle laat skrik en besluit nog ’n forensiese ondersoek is nodig.

Dié gebeure lei tot die dag – 23 November verlede jaar – toe Steve Booysen, ’n voormalige uitvoerende hoof van Absa wat ook in die toesighoudende direksie was en lid van die ouditkomitee, in Steinhoff se kantoor in Stellenbosch besef het wat aangaan.

Booysen het kopgekrap oor die groep se kontant en hoe sogenaamde wechsels (’n Duitse woord vir ’n skuldwaarborg) gebruik is om die kontant van die groep te oordryf. Rose skryf in sommige gevalle was dié debiteure in die eerste plek vervals. “Dit wil lyk of dit ‘vals skuld’ was wat deur Jooste en sy oorsese maatskappye opgekook is om dit te laat lyk of Steinhoff baie meer kontant het as wat hy in werklikheid gehad het.”

Die gekonkel wat in Steinheist onthul word, is ontstellend slim – en dis duidelik dat sekere van die skelmstreke al jare gelede begin het. Iemand na aan die forensiese ondersoek stel dit só: “Namate PwC se span deur die afval en elke stukkie papier met ’n euroteken gegaan het, het ’n besonder verontrustende prentjie begin vorm aanneem, ’n ontstellende bevestiging van almal se ergste vrese. Die slegste nuus was dat dit baie langer terug begin het as wat enigeen vermoed het. Dit blyk daar was so drie basiese resepte wat gevolg is om ’n misleidende prentjie van die boeke te skep, en dit is herhaal met eiendomstransaksies, handelsname en ander.”

Teen die einde van die boek begin Rose na Jooste as ’n “swendelaar’’ (con artist) verwys. Die skrywer het natuurlik sonder sukses met Jooste self probeer praat, soos talle mediamense die afgelope jaar.

Rian du Plessis, voormalige uitvoerende hoof van die perdewedrenmaatskappy Phumelela en een van Jooste se vriende wat nog gereeld met hom praat, sê Jooste het regsadvies gekry om nie met enigiemand te praat nie. “Hy gaan waarskynlik strafregtelik en siviel vervolg word, en dan moet hy in daardie howe antwoord.”

  • Nellie Brand-Jonker is ’n sakejoernalis van Netwerk24.
Meer oor:  Rob Rose  |  Resensie  |  Markus Jooste  |  Steinheist
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.