Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
'Jou dood is ’n gat wat nooit toegroei nie'

Hopelik is hierdie bundel die begin van soortgelyke projekte. Hier is beslis nie sprake van ’n stadige gelui van die poëtiese doodsklok nie, skryf Marius Crous.

I Wish I’d Said

Johann de Lange en Mantoa Motinyane (samestellers)

NALEDI, R200

Poësie

I Wish I’d Said

Om die vrees vir die dood te verdryf, skryf ’n mens daaroor.

Om hul ego’s te streel, smag skrywers dikwels na ’n vroeë dood en fetisjeer die dood en doodgaanproses. Nes enige soortgelyke bekende tema, word die doodstema gekenmerk deur sy geykte frases en beelde. (Op die oog af klink die koppeling van poësie aan ’n begrafnisgenootskap ook na ’n geklang van die doodsklok.)

In sy inleiding skryf Johann de Lange oor die noue verweefdheid van die menslike ervaring en taal. Ons vier die groot gebeurtenisse en verwoord ons emosies. Die dood bring ons, volgens hom, saam, nie net om te rou nie, maar ook om ons afgestorwe geliefdes se lewens te vier.

Gedigte help ons om die gedagtenis aan ons geliefdes te onthou en te bewaar in ons geheue. Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, stel dit so gevat: “Where does one find a metric for a mourner’s experience of consolation?”

Maar die groot waarde van hierdie versameling gedigte (daar was glo 20 744 inskrywings!) is die veeltalige aard van die projek, asook die beklemtoning van hoe belangrik literêre vertaling is en watter rol dit kan speel wanneer tekste tematies vergelyk word.

Die onderskeie vertalers van die verskillende bydraes moet ook vermeld word. Nie verniet verwys De Lange na die “audacious under­taking” om ’n versamelbundel in elf tale uit te gee rondom die titel van die dood.

Naas die gekose gedigte in al elf landstale en een in die uitsterwende taal N|uu, is daar vir elke taal ook een wenner en ’n naaswenner aangewys.

Wat die Afrikaanse gedigte betref, het ons gedigte deur Antjie Krog en ’n paar ander, asook van die nuwe Jolyn Phillips. Die wengedigte in Afrikaans is deur Lynthia Julius en Susan Smith. Vergelyk die openingsreëls van Julius se gedig: “Allerliefste, ek stuur vir jou / ’n please call me / want niemand sal ’n student wat broke is / blameer nie.” In eietydse register skryf sy oor haar ma se selfdood en haar pogings om by haar ma uit te kom sonder lugtyd.

Wat die Afrikaanse gedigte betref, het ons gedigte deur Antjie Krog en ’n paar ander, asook van die nuwe Jolyn Phillips.

Die titels in die onderskeie tale sit die doodsgesprek oor taalgrense heen voort: jy is weg sonder waarskuwing; die boom het geval; moenie oor my huil nie; jy gaan terug huis toe; trane en sorge; moenie my terug hou nie of jy gaan na ’n beter plek sonder die ellendes van pyn, armoede en eensaamheid.

Die beskrywing van die dood wissel ook van ’n wolf wat aanval, ’n leeu en ’n bul of iemand wat kaste uitpak en die redes vir die sterfte word ook belig: Marikana, vigs, siekte. Lydia Moeng praat van die dood as “a parent to all children” en “a child in all families.” P.S. Thithi kla ook die koloniste aan wat vreemde kwale en vreemde gebruike na Afrika gebring het en sodoende die gekoloniseerdes stelselmatig uitgewis het.

Die direkte aanspreek van die dood is ook ’n kenmerk van hierdie soort vers. So vra P M Thinane: “Hey, Death, whatever happened to your shyness?” Dikwels kom die geykte trooswoorde wat ’n mens maklik uiter om jou gewete te sus of jou ongemak te verbloem, voor as die sentrale gegewe in verskeie gedigte. Die dood word nie net met ontsag behandel nie, maar word getart en bespot of die weersinwekkende liggaamlike verval wat die dood veroorsaak, grafies weergegee.

Die gestorwe geliefde tree in Moses Seletisha se gedig op as spreker en versoek dat ’n grafsteen as “a modern token of memory” opgerig word.

Dikwels word die oorledene ook gevra om groete oor te dra aan diegene wat reeds dood is.

Die religieuse inslag van sterwensverse kom deurlopend voor. Christus is die vertrooster; die Almagtige het jou nodig en dis tot jou eer dat hy jou geroep het; die paradys wat wag; jou lot en jou lewe in Gods hande – en daarmee saam die vertroostende berusting wat aan die oorlewendes gegee word. Dikwels word die oorledene ook gevra om groete oor te dra aan diegene wat reeds dood is.

Krog sluit haar aangrypende gedig, wat ’n teenpool is vir haar klassieke “Ma”, soos volg af: “jou dood is ’n gat wat nooit toegroei nie / ’n radelose verlange sonder einde / ons laat jou gaan liewe Ma / ons kameraad / op die palms van ons so ontoereikende liefde.” Die oop graf is volgens Gail Dendy soortgelyk aan ’n chirurg se oopmaak van ’n lyf om die hart bloot te lê.

Met hierdie bundel gee Avbob ’n stem aan roubeklaers. Hopelik is dit die begin van soortgelyke projekte. Hier is beslis nie sprake van ’n stadige gelui van die poëtiese doodsklok nie.

  • Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die NMU in Port Elizabeth.
Meer oor:  Poësie  |  Dood  |  Gedigte  |  Avbob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.