Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Joubert se ‘Mentje’ ook in Nederland uitgegee

Irma Joubert was al druk besig met haar roman Immer wes toe sy die eerste keer van die versteekte dorp in Nederland hoor. Dit het die meetsnoere vir dié Afrikaanse skrywer van geskiedkundige romans in lieflike plekke laat val.

Sy wou juis Immer wes, geanker in Duitsland en die eerste boek in ’n beoogde trilogie, opvolg met ’n verhaal wat in Nederland afspeel.

Nou, vyf jaar later, is Mentje: Kind van die Pas-Opkamp nie net in Suid-Afrika op die rakke nie, maar ook in Nederland waar dit as Het meisje uit het verscholen dorp uitgegee word.

In dié “dorpie”, eintlik net ’n paar verskuilde hutte wat in die Tweede Wêreldoorlog in die woude naby Nunspeet opgerig is, het meestal Jode weggekruip. Dié skuilplek teen die Duitse aanslag was die inisiatief van ’n regsgeleerde, ene Von Baumhauer uit Vierhouten. “Oupa” D.D. Bakker en sy vrou, “tante” Cor, het hom gehelp om die vlugtendes hier te versteek. Duitse soldate het egter ná sowat ’n jaar, in 1944, daarop afgekom en van die “onderduikers” tereggestel.

Dit is hier waar Mentje se verhaal begin.

Joubert sê “al die karakters in die eerste derde van die boek het geleef en Han, Bart, Wim en Flora was inderdaad hul regte name”.

Dié inligting het sy gevind in ’n boek waarin dié mense se beskrywings van gebeure in die versteekte dorp opgeteken is. Op ’n navorsingsbesoek aan Nederland het Joubert die jonger broer van dié vier betrokkenes, Hans, ontmoet en volgens hom is haar weergawe presies soos hulle dit aan hom vertel het.

Mentje se pa was een van dié wat gehelp het om die Jode daar te laat skuil, maar is ongelukkig gevang.

Só is die skrywer Irma Joubert se bekendstellingstoer van Het meisje uit het verscholen dorp in Nederland bemark.

“Die tweede deel van die boek gaan oor die Slag van Arnhem wat ’n absolute fiasko vir die Geallieerde magte was. Veldmaarskalk Bernard Montgomery het valskermspringers agter die Duitse linies laat land waar meer as 10 000 uitgewis is.

“Ek het dié veldslag gekies omdat Suid-Afrikaners betrokke was en ek ’n Suid-Afrikaanse verbintenis wou inbring.”

Die derde en laaste deel speel in Suid-Afrika af, maar daaroor het sy in die onderhoud ’n sluier getrek. Al wat sy bereid was om kwyt te raak, is dat hierdie geen liefdesverhaal” is nie. “Mentje is maar 13 jaar oud wanneer die boek eindig.”

Maar wag, daar is ’n flikkering in die vooruitsig: Joubert sê “die derde roman in die trilogie vat al die doelbewuste los drade in Immer wes en Mentje saam”.

Navorsing vir dié boek, wat in Brittanje en Betsjoeanaland (nou Botswana) afspeel, sal Joubert volgende jaar in Skotland en Botswana doen. ’n Verskyningsdatum bestaan nog nie.

Dié afgetrede geskiedenisonderwyser sê sy het begin skryf omdat sy stories het om te vertel en om haar pensioen ’n bietjie aan te vul.

Nie in haar wildste drome het sy kon droom haar boeke sou oor die wêreld heen versprei word nie, of dat vier in een maand sou verskyn nie.

Buiten Mentje, wat in Oktober in Suid-Afrika en Nederland gepubliseer is, was Joubert pas ook in Duitsland vir die bekendstelling van Hinter dem Orangenhain, die vertaling van Pérsomi. The Crooked Path, die Engelse weergawe van Kronkelpad, het terselfdertyd in Amerika verskyn, van waar dit wêreldwyd versprei word, ook in Suid-Afrika.

Tussen stasies word nou in Noorweegs vertaal en sal in April gepubliseer word.

* Die “Pas-Opkamp” was naby die Pas-Opweg-handelsroete, wat berug was vir struikrowers. Die naam beteken dus “wees versigtig”.
* Joubert stel Mentje: Kind van die Pas-Opkamp, uitgegee deur Lapa, op 23 November om 18:00 vir 18:30 by Naln in Bloemfontein bekend. Toegang is gratis, maar bywoning moet bevestig word by lochlogan@exclusivebooks.co.za of 051 406 7560.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.