Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Julius skets hede en verlede in ‘Uit die kroes’

Die digter Lynthia Julius se debuutdigbundel, Uit die kroes, skets die hede en verlede van bruin mense, maar sy gee ook gestalte aan haar omgewing en liefde vir Afrikaans. Sy het aan AJ Opperman vertel watter dinge “onlosmaaklik” deel van haar en haar kuns is. 

Lynthia Julius glo sy sou die struggle beter verstaan het as sy dit ervaar het.

Die gedig “1993” (haar geboortejaar) in haar debuutdigbundel, Uit die kroes, lui: “Ek het apartheid net geruik / seker tot my spyt.”

Sy dink aan haar voorouers wat dit verduur het.

Uit die kroes
Lynthia Julius Foto: Carolyn Meads

“Die Groepsgebiedewet, die potloodtoets. Hoe my ouers weggejaag is by feeste. Hoe rassisties die wit soldate was teenoor dié wat nie wit is nie.”

Terselfdertyd is Julius verlig dat sy dit misgeloop het.

“Ek sou net die woede en die seer beter kon verstaan as ek daar was. Ek dink ons jongelinge sal ons vryheid baie beter verstaan en geniet as ons moes voel hoe swaar mense onder apartheid gekry het.”

Julius, wat op Springbok in die Noord-Kaap gebore is en op Kimberley grootgeword het, skryf in Afrikaans.

“Maar ek dink die skade wat apartheid aan Afrikaans gedoen het, sal nog baie jare neem om te genees.”

Sy skets die hede en verlede van die bruin gemeenskap met gedigte soos “Ouma Xhau”, “1949” (die jaar waarin die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike ingestel is) en “Nege-en-dertig slae”.

Daar is ook ’n gedig, “Dulcie September”, oor dié anti-apartheidsaktivis wat in 1988 in ’n sluipmoordaanval in Parys, Frankryk, dood is.

"Ek dink ons jongelinge sal ons vryheid baie beter verstaan en geniet as ons moes voel hoe swaar mense onder apartheid gekry het.”

Die titel van haar bundel het ook te doen met die skoonheid en politiek wat met die woord “kroes” gepaard gaan.

“Die bundel het al soveel name gehad, wat my by tye moeg gemaak het. Kroes het vir my beteken iemand wat kroeshare het. Dan is daar die kroes, van iemand wat al gelouter is.”

Julius, wat aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer het – sy het ’n honneursgraad in filosofie verwerf – het in 2018 die Avbob-poësiekompetisie met haar gedig “Vir Al Jarreau” gewen.

Met dié gedig herskryf sy Breyten Breytenbach se bekende gedig “Rooiborsduif”.

“Ek skryf baie oor waar ek vandaan kom. Die plekke wat my mens gemaak het, wat my grootgemaak het."

Die gedig verskyn ook in Uit die kroes, maar dit het oorspronklik in die bundel I Wish I’d Said (saamgestel deur Johann de Lange, uitgereik deur Naledi) verskyn.

’n Mens kom onder die indruk van Julius as ’n fyn waarnemer wat haar omgewing verwoord.

‘Uit die kroes’ deur Lynthia Julius.

“Ek skryf baie oor waar ek vandaan kom. Die plekke wat my mens gemaak het, wat my grootgemaak het. Ek vind nie enige stad opwindend nie. Ek wil daar wees waar die blomme groei, kokerbome groei. Daar waar ons speletjies gespeel het in die berg. Die suring en ander veldplante eet. Dis onlosmaaklik deel van my en my kuns.”

Sy dra die bundel op aan Ryan, ’n goeie vriend van haar, wat verlede jaar dood is.

“My Tietbek (soos sy hom liefderik noem) was my beste vriend en sielsgenoot. ’n Reël in ’n gedig van (die Vlaamse digter) Luuk Gruwez begin met ‘Die enigste een wat my altyd wou hê is dood . . .’

“Ryan was daai mens vir my. ’n Liriek uit ’n liedjie wat hy vir my gestuur het, lui ‘I pray that when I’m turning 99 we’ll be together’. Die dood het hom verlede jaar by my afgevat toe hy 27 was. Hy sal nooit 99 word nie. Ek moet daarmee saamleef.”

Julius word ook deur ander mediums beïnvloed.

“Ek is nie ’n mens wat hou van baie mense rondom my nie. Ek verkies veel eerder my stilte. Die radio speel ’n groot rol vir ons (dit speel elke dag kliphard in my pa se garage). Ek kan nie lank stilsit om ’n movie te kyk nie, maar met ’n boek is dit makliker. Ek dink die geskrewe woord beïnvloed my werk die meeste.”

Sy verwys in Uit die kroes na die skryfwerk van onder andere Karel Schoeman en die historikus prof. Hermann Giliomee. Sy verwys na die titel van Gert Vlok Nel se digbundel Om te lewe is onnatuurlik, terwyl ’n ander gedig se titel sinspeel op die titel van Antjie Krog se digbundel Kleur kom nooit alleen nie.

“Geen mens kan als deurmaak in die lewe nie,” sê sy.

“Jy kan nie alles ervaar in die lewe nie. So leer jy uit ander se boeke, se musiek. Ek dink kunstenaars is maar fyn waarnemers.”

Uit die kroes word deur Kwela uitgegee en kos R220.

Meer oor:  Universiteit Van Die Vrystaat  |  Kimberley  |  Springbok  |  Gedigte  |  Boeke  |  Digter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.