Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Juriste se rol in Jameson-inval belig

Die gebeure rondom die Jameson-inval en die geweldige impak daarvan op die staatkundige ontwikkeling van Suid(er)-Afrika is al uit elke denkbare hoek en kant beoordeel sodat ’n mens wonder of daar nog hoegenaamd iets nuuts daaroor gesê kan word. Daar kán inderdaad, soos regter Owen Rogers met ‘Lawyers in Turmoil’ bewys, skryf Derek van der Merwe.

Sir Leander Starr Jameson (1853 – 1917, middel, links) en van sy offisiere arriveer in 1896 in Londen voor hul verhoor oor hul aandeel aan die Jameson-inval. Foto: Getty Images

Lawyers in Turmoil: The Johannesburg Conspiracy of 1895 deur Owen Rogers. Uitgewer: Stormberg Publishers. Prys: R365.

Lawyers in Turmoil is ’n stewige boek van oor die 500 bladsye wat die rol bekyk wat juriste in die gebeure vóór, tydens en net ná die berugte Jameson-inval van 1895-1896 in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek gespeel het. ’n Groot deel van die boek word ook aan hulle latere regs- en politieke loopbane gewy.

Dat die skrywer, ’n regter in die Wes-Kaapse hooggeregshof, tussendeur sy regterlike pligte so ’n magdom primêre en sekondêre bronne kon bemeester en so ’n deeglike, veeleisende werk propvol wetenswaardighede kon skryf, is merkwaardig.

Die gebeure rondom die Jameson-inval en die geweldige impak daarvan op die staatkundige ontwikkeling van Suid(er)-Afrika is welbekend, vernaam onder beroepshistorici en ’n kwynende aantal belangstellendes soos Rogers: die Cecil Rhodes-geïnisieerde inval self asook die “farcical incompetence” daarvan (soos Rogers dit stel); die naskokke van die inval wat gelei het tot die Anglo-Boereoorlog vier jaar later; en die skakerings van grys wat dit aan die politiek van wit Suid-Afrika voor Uniewording verleen het.

Publikasies oor die inval is legio. Onder die jongste omvattende geskrifte tel Charles van Onselen se The Cowboy Capitalist: John Hays Hammond, the American West, and the Jameson Raid in South Africa (2017) en Simon Winter se Charles Leonard: South Africa’s First Revolutionary Leader (2018). Die inval is al uit elke denkbare hoek en kant beskryf en beoordeel sodat ’n mens wonder of daar nog hoegenaamd iets nuuts daaroor gesê kan word.

Hul beroep en knapheid het aan hulle groot politieke invloed besorg.

Daar kán inderdaad – en Owen Rogers hét. Die interessantheidswaarde van die destydse gebeure neem immers nie af nie; die vergelykings wat steeds getref kan word tussen die politieke gebeure van tóé en van nóú is tasbaar; en die ontginningsmoontlikhede van die beskikbare inligting onuitgeput.

Rogers se vertrekpunt is die rol wat juriste – regters, advokate, prokureurs, staatsregsadviseurs – aan albei kante van die stryd gespeel het. Almal van hulle wit en manlik, soos dit destyds was. Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886 en die rykdom aan geleenthede om geld te maak het mense in hulle duisendtalle gelok. Onder hulle was ’n menigte knap advokate en prokureurs – meestal Brits-opgeleide Kapenaars, maar ook Britte en Hollanders – wat hulle na die “richest spot on earth” gehaas het en daar vir hulle naam gemaak het as fasiliteerders en beskermers van welvaart. Hulle beroep en hulle knapheid het aan hulle groot politieke invloed besorg.

Die bekende Britse staatkundige James Bryce het tydens ’n besoek aan die ZAR in 1895 die regslui van Pretoria as “[the] most cultivated and (except for political power) leading section of society” beskryf. Rogers haal James Leonard, een van die vooraanstaande samesweerders, aan wat met tipiese Victoriaanse eiewaan beweer het dat die Rand in die 1890’s bestaan het uit “more brains to the square inch” (syne en die regslui wat die Randlords bygestaan het ingesluit) as enige ander plek op aarde.

Rogers se benadering is biografies. Hy identifiseer die juriste (daar was vele) wat, in watter hoedanigheid ook al, betrokke was by die doenighede rondom die inval, daarvoor en daarna. In elke persoonlikheid word, soos Rogers dit in sy voorwoord stel, “lewe geblaas” aan die hand van (meesal) bekende biografiese besonderhede en sommige interessante nuwighede.

Hulle juridiese bekwaamhede (talle was werklik talentvolle en bekwame regsgeleerdes) en politieke oortuigings (nasionaliste, jingoïste, republikeine, imperialiste, gematigdes met wisselende politieke beginsels) word in detail weergegee en versier met interessante staaltjies oor hulle en hulle voor- en nasate.

Aan sommige, soos die broers James en Charles Leonard, die broers Richard, E.P. (Edward Philip) en William Solomon, John Kotzé, John Wessels, James Rose Innes, Jacob de Villiers, Ewald Esselen, Reinhold Gregorowski, Fritz Krause, William Bell, Herman Coster, wy hy meer aandag as aan ander. Sy maatstaf is die omvang van hulle betrokkenheid by die inval en dié se nagevolge op die regs- en staatslewe tydens die Anglo-Boereoorlog en in die jare voor Uniewording.

Dit is jammer dat hy nie ook plek ingeruim het vir Willem Leyds nie, die invloedryke Nederlandse regsgeleerde en staatsekretaris (ook staatsprokureur) van destyds. Leyds was weliswaar in Europa toe die inval plaasgevind het, maar as die “linker-, regterhand en kop” van pres. Paul Kruger (aldus Eugène Marais) was hy ’n sleutelspeler in die beleidsrigtings en dade van die Kruger-regering waarteen die uitlandergriewe gemik was. Sy rol voor en ná die inval was kritiek, tog word min aandag aan hom gegee.

Die ineengevlegte biografieë word voorsien van kort beskrywings van die belangrikste gebeure van destyds. Dit getuig van besonderse mense wat besondere rolle in die geskiedenis van Suid-Afrika voor eenwording in 1910 gespeel het. Dis ’n keurig geskryfde verhaal van manne met talente en deugde (denk- en taalvernuf, arbeidsaamheid, moed, leierskap, gesonde oordeel) en ook swakhede (eiewaan, verwaandheid, benepenheid, onverdraagsaamheid, skynheiligheid, gierigheid, humeurigheid) wat mekaar getrou ondersteun het, verbete teengestaan en soms liederlik ondermyn het.

Die boek is propvol staaltjies, soms met droë humor weergegee, oor vermomde ontsnappings, huweliksontrou, oorlogsheldedade, Nazi-teregstellings van nasate, oor-en-weer-geskinder, spitsvondighede en hofonwaardighede. Dit bevat ook fyn ontledings van evaluerings wat vroeëre navorsers oor individue gemaak het, soms met afwykende gevolgtrekkings. Die politiek van destyds was venynig, nes vandag, en net soos nou het die “-ismes” hoogty gevier: kapitalisme, sosialisme, nasionalisme, imperialisme, rassisme – in laasgenoemde geval was die rasse “Dutch” en “British” – die “Africans”, “Indians” en “Chinese” was bloot politieke speelballe.

Die persoonlikhede word met verstandige ewewigtigheid uitgebeeld en beoordeel en hulle sterk punte en swakhede noukeurig blootgelê. Talentvolle, deugdelike, maar feilbare mense, elk tot ’n meerdere of ’n mindere mate oorweldig deur die auri sacra fames (die vervloekte drang na goud), elk gedryf deur die identiteitspolitiek van destyds (Boer, Brit, Hollander, “Afrikander”) en die skakerings van intensiteit waarmee elk se “rasse”-eienskappe ingekleur is. Onder hulle tel van die grootste name in die Suid-Afrikaanse regswese.

Dis ’n boek wat elke juris met ’n sin vir die juridiese verlede en elkeen met ’n belangstelling in die ryke en rype Suid-Afrikaanse geskiedenis behoort te lees. ’n Mens sou kon kibbel oor Rogers se tipies regterlike behoefte aan ’n akkurate, volledige, deeglik gedokumenteerde relaas van feitelikhede en die sobere opweeg van kontrasterende standpunte wat sy verhaal van vlees-en-bloed-mense plek-plek in ’n blote verslag van dokumentêre getuienis laat ontaard. Ook sou ’n mens kon kibbel oor die veelvuldige aanhalings, lank en kort, wat soms die leestrant steur, en aan die skynbare ontkoppeling van die titel en die inhoud, waarvan ruim 30% aan die (weliswaar boeiende) regs- en staatkunde in die voor-Unie-jare gewy word. Maar só ’n gekibbel sou afbreuk doen aan die meriete van die boek, wat puik versorg is en versier word met heelwat swart-en-wit afbeeldings en ’n treffende aanbeveling deur oudregter Edwin Cameron. Daar is enkele drukfoute, maar dis nie steurend nie.

Lawyers in Turmoil is geskryf met behendigheid, deernis, taalvernuf en ’n fyn aanvoeling vir die waarhede, wyshede en plesierige ontdekkings wat deeglike en geduldige bronontginning meebring. Dit is ’n boek wat ’n mens proe-proe saans voor slaaptyd lees en wat jou laat uitsien daarna om môreaand verder te lees.

  • Derek van der Merwe is emeritusprofessor in regsgeleerdheid en ’n voormalige adjunk-visekanselier van die Universiteit van Johannesburg.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.