Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jy gaan hard en lelik lag

Die stereotiepe wit, bevoorregte, middeljarige vrou wat soos in nóú met die bestuurder wil praat, is dalk die beginpunt van ‘The Karen Book of Rules’, maar waar dit eindig, is beslis nie wat jy sou verwag nie, skryf Jonathan Amid.

The Karen Book of Rules: Harness Your Inner Karen and Use Your Power for Good deur Karin Schimke en Karen Jeynes. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R195.

‘Geld betaal vir ’n boekie wat my aanval en vir my probeer voorskryf? Nee, dit sal nie deug nie.” Het jy al ooit probeer om vir iemand ’n boek aan te beveel, maar die persoon wou eenvoudig nie byt nie?

Niemand kan meer aanvoer die gebeure in die res van die wêreld het nie ’n impak op hoe ons lewe en oor die wêreld dink nie. Sit twee mense saam om ’n tafel, of in ons geval ’n braaivleisvuur, op ’n stoep of om ’n organiese, veganistiese ontbyt, en die gesprekke gaan iewers wyer loop as net die grendelstaat en allerlei irritasies.

Almal behalwe moontlik grotbewoners het teen dié tyd al kennis gemaak met die Karen-meme wat in 2020 die internet oorgeneem het.

Ons almal ken ’n Karen of twee. Niemand wil nou eintlik bekend staan as ’n lewende simbool van wit bevoorregting nie, of hoe? As jy een van daai siele is wat glo terme soos byvoorbeeld “wit bevoorregting” en “strukturele rassisme” is ’n produk van verfoeilike liberale denke en pyn-in-die-gat-libtards wat net nie wil end kry met hul geteem oor al die ongelykhede in die samelewing nie, dan is hierdie boek ironies genoeg juis vir jou. As jy warm raak onder die kraag as iemand durf praat in die rigting van Helen Zille se problematiese siening van ras en “All Lives Matter” uitbasuin sodra iemand solidariteit met swart mense opper, dan is hierdie boek vir jou.

Nie slegs omdat daar allerhande “ongemaklike” onderwerpe aangeraak word op uiters toeganklike, byderwetse maniere nie, maar omdat die skrywers juis die absurditeit van ’n “ons teen hulle”-laermentaliteit ondersoek en genadeloos aftakel – hoflik, maar ferm.

Hoor my lied: The Karen Book of Rules is die plaaslike niefiksiemark se Trojaanse perd vir 2020. Soos die titel op die oor val, verwag jy ’n veerligte, vinnige lees-en-vergeet wat jou tydelik van een of twee ergernisse sal laat vergeet. Die beginpunt is dalk die alombekende Karen-meem en die genadelose afranseling op sosiale media van die stereotiepe wit, bevoorregte, middeljarige vrou met haar kyk-vir-my-kapsel wat soos in nóú met die bestuurder wil praat, maar waar dit eindig, is beslis nie wat jy sou verwag nie.

Die 192 bladsye van dié hardekwas handleiding vir lekkerwees bied eerlike, soms aweregse, soms heel intieme hoeke wat in maklik verteerbare brokkies veel verklap oor die etiek van gedeelde menswees en aanvaarding. Dis een ding om vir Karen voor stok te kry – dikwels ook met reg – maar die uitgewers van hierdie vlymskerp, verspot-vermaaklike handleiding of etiketgids van hoe om met deernis en oop oë in Suid-Afrika te leef het ’n troefkaart – een wat uiteindelik die verskil beteken tussen ’n boekie wat jy ná die tyd by die Hospice-boekwinkel wil gaan afgee en een wat jy nog lank op jou boekrak wil hou.

Daardie troefkaart is dat twee Karens, die een Karin Schimke en die ander Karen Jeynes, kragte saamsnoer. Schimke is ’n bekroonde digter, vertaler en redigeerder en betrokke by Daily Maverick, terwyl Jeynes ’n bekroonde satiriese skrywer is. Dit is juis hierdie kombinasie van twee sterk vroulike stemme, ingestel op die nuanses, foutlyne, teenstrydighede, frustrasies, komplikasies en voortslepende konflikte – groot en klein, in en om die huis en die braaivleisvuur en ook nasionaal – wat hierdie tong-in-die-kies teks verhef tot iets met gravitas en sterk insigte.

Menige leser gaan kliphard en lelik lag oor hoe almal (ja, ek en jy ook) die Karen-etiket kan inspan om ons bevoorregting te gebruik om tot die diens van ander te wees en ’n verskil in die wêreld te maak. As dit soos harde werk klink . . .

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.