Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kaapse politiek se ongeskryfde verlede

Niefiksie

The Cape Radicals

Crain Soudien

WITS UNIVERSITY PRESS, R320

Daar is ’n ongeskryfde verlede in die Kaapse politiek. Of, dalk is daar ’n Kaapse politieke narratief wat net nie behoorlik deurgeskryf is nie. Sedert veral die 1960’s het Richard van der Ross, Baruch Hirson en enkele ander ’n “geïnkubeerde” bruin bevrydingspolitiek omskryf, maar daar is redes om te weet dat die eiesoortigheid van oorleef in die aanvanklike koloniale buitepos nog nie grondig gekodifiseer is nie.

Met The Cape Radicals karteer die sosioloog Crain Soudien ’n belangrike verskynsel in Kaapse bevrydingspolitiek. Die New Era Fellowship (NEF) is in 1937 gestig deur ’n groep sosialiste van die Worker’s Party of South Africa en die Non-European Unity Movement, en was ’n intellektuele voortsetting van die politieke aktivisme wat deur dié groeperings bedryf is. Die NEF was egter ’n opvoedings- en kultuurprojek. Die strewe was ’n soort inplanting van ’n intellektuele, kollektiewe bewussyn waarin die bevrydingstryd sosiologies gewortel kon word.

Die oorvleueling tussen die motiverings vir die vestiging van die NEF as kultuurprojek en die intellektuele strewes van swartbewussyn is meer as toevallig. Die werklike intellektuele tradisies van politieke bevryding was nog altyd geteoretiseer aan die linkse of selfs ver-linkse kant van ’n vervreemde bestaan midde-in die ras- en klas-drukgange van kolonialisme en apartheid.

Die Kaapse bevrydingspolitiek het ’n geskiedenis van organisasie en struktuur geskep in ’n poging om die stryd tussen mededingende idees te wortel in ’n komplekse sosiologie van ontkenning, verontmensliking en vervreemding. Die UDF van die 1980’s was ’n soortgelyke verskynsel; die beklemtoning van ’n kollektiewe bewussyn aangevuur deur die teenstrydighede van die rasse-hegemonie waarin die koloniale projek regverdiging gevind het.

Die stryd van die NEF teen die outoritêre staat het manifesteer in ’n dig verweefde hiërargie van belangegroepe.

Soudien maak by herhaling, implisiet, die punt dat, in die konteks van apartheid se onderdrukkende argitektuur, ’n aktivistiese teoretisering van sosiale mobilisering altyd meer sin gemaak het as die subversiewe pragmatisme van ’n driekamerparlement. Die intellektualisering van die Kaapse radikalisme moet duidelik onderskei word van die strewes van die gekoöpteerdes, maar dalk ook in ’n mate van die dogmatisme van swart nasionalisme.

In 1994 het die “uitgewekenes” van die ANC – wat die bevrydingstryd vanuit Moskou en Londen gevoer het – redelik maklik die stryd om ’n alternatiewe politieke regime by Kodesa gemonopoliseer. In retrospek kan geargumenteer word dat die “stryd om idees” in die proses opgegee is.

Sosiale en kulturele aktivisme is ’n sosiologiese verskynsel wat byna organies in die weefsel van ’n vermoeide samelewing of identiteit verwortel. Die regverdiging vir weerstandigheid verbind generasies epi-geneties aan mekaar.

Die politieke telg se sosiologiese immuniteit fermenteer in ’n voetsool-bewussyn wat begin in die gesin en voortgesit word in die skole, universiteite en uiteindelik deursuur na die samelewing. Aktivisme is ’n skolastiese en intellektuele ingryping wat die diverse senuweepunte van ’n leefwyse met mekaar verbind. Dit is duidelik onderskeibaar van die operasionele ruimtes van ’n weerstandsbeweging.

Deur die komplekse verweefdheid van idee, ideologie en narratief daag die vervreemdes die statutêre geordenheid, die outoritêre dogmatiek – of dan “hegemoniese projek” – uit op wyses wat net met redelose verdrukking gekonfronteer kon word. Die apartheidstaat se onderdrukkende masjinerie was dalk nie fascisties nie, maar dit was banaal redeloos.

Aktivisme word moeiliker ingeperk as die meer gemilitariseerde aard van ’n tipiese bevrydingsbeweging. Die inspirasie vir bevrydingsbewegings word meer dikwels geput uit onderdrukkende ideologieë op ander vastelande.

Maar aktivisme teer op die energie van weerstandigheid midde-in die alomteenwoordige outoritarisme.

Maar aktivisme teer op die energie van weerstandigheid midde-in die alomteenwoordige outoritarisme. Die drif vir aktivisme is vervreemding, ontneming, ontworteling en fragmentasie.

Die stryd van die NEF teen die outoritêre staat het manifesteer in ’n dig verweefde hiërargie van belangegroepe. Die dominante veronderstellings het berus op “totale weerstand”, maar het nie noodwendig ’n ideologiese konsensus onder die “linkses” of die “radikales” veronderstel nie. Gegewe die drakoniese en gemilitariseerde aard van apartheid was die verdraagsaamheid jeens onderlinge teenstrydighede in die NEF eintlik verstommend.

Maar Soudien se kritiese introspeksie verklaar ook hoe en hoekom die NEF nie die verlede kon oorleef nie. Die onaanpasbaarheid wat ’n Darwinistiese verganklikheid meegebring het. “Organiese intellektuele” soos Richard van der Ross en Baruch Hirson wat nie die Kaapse radikales kon plaas in digotomiese kompleksiteit tussen die lokale en die universele nie. ’n Vorm van ontkenning wat uiteindelik daartoe gelei het dat Kaapse radikale aktivisme uiters ontoereikend gekodifiseer sou word.

Maar die verskraling van die waarde en impak van ’n komplekse sosiologiese verskynsel soos die NEF was dalk ook te wyte aan interne teenstrydighede en intellektuele oorsigte. Soudien betreur die nalating om gewag te maak van patriargie as ’n destruktiewe vererwing. So ook om die lokale diskoers met die universele metanarratiewe te verbind.

Die geskiedenis word egter deur die oorwinnaars geskryf en dalk word bruin Suid-Afrikaners – of dalk meer spesifiek Kaapse bruin intellektueles – se bydrae tot die teoretisering van politieke bevryding op die slagveld agtergelaat.

Soudien maak ’n onmeetbare bydrae om die kartering van die intellektuele motiverings vir sosiologiese aktivisme teoreties vas te lê.

The Cape Radicals bevestig egter ook dat die geskiedenis van die stryd om menswees in hierdie land nog nie naastenby klaar geskryf is nie.

Piet Croucamp doseer politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Meer oor:  Crain Soudien  |  The Cape Radicals  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.