Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kai-li en die kriek

‘Kai-li en die kriek’ is ’n verwerking en herverbeelding van Pu Songling se ou Chinese verhaal* oor ’n wonderwerk wat Lodewyk G. du Plessis (oudregter Andries Buys) spesiaal vir ‘Rapport’ geskryf het. Die illustrasies is deur Piet Grobler.

Lao Tsjeng en sy vrou het op ’n dorpie in die suide van China gewoon. Hy was ’n eerlike man, ’n kleinboer wat jare lank vergeefs probeer het om die staatsdienseksamen te slaag. ’n Treurige trek op sy jong vrou se gesig het ’n mens laat miskyk hoe mooi sy was.

Tsjeng se modderlandjie buite die dorp het jaarliks net genoeg rys gelewer vir een maaltyd per dag. Die gesin het darem ook ’n varksog onder hul huis aangehou. Haar werpsels is verkoop, behalwe een varkie wat hulle elke jaar uitgehou, vetgemaak en net voor die Nuwejaarsvieringe geslag het. Dan het die gesin kool, uie, pampoen, rys én vleis geëet.

Twee jaar voor die gebeure waarvan ek julle gaan vertel, het hul 15-jarige seun een oggend in ysige winterweer hout gekap, die byl het gegly en hy het sy been beseer. Die wond het ontsteek en die heuning wat hulle aangesmeer het, het nie gehelp nie. Tsjeng en sy vrou het drie weke later in wit rouklere langs hul kind se oop graf gestaan.

Nadat dié seun se ma daglank kniediep in die modderwater van hul ryslandjie geswoeg het, het hy saans vir haar die uie, wat haar oë laat traan het, geskil en ná ete die wok, stokkies en ryskommetjies by die waterput gaan was.

Snags het hy geluister hoe die kriek met sy maats gesels.

My storie gaan oor hul ander kind, die 12-jarige Kai-li, ’n bruinoogseun, ’n dromer. Sy ma was lief vir hom, maar sy pa het gefrons wanneer hy na hom kyk, en gebrom: “Lê dag en nag tussen graspolle op sy maag en luister hoe die krieke raas.”

Kai-li het ’n kriek in ’n bamboes-koutjie op sy slaapkamer se vensterbank aangehou. Snags het hy geluister hoe die kriek met sy maats buite die oop venster gesels. Bedags het hy op die dorpsplein sit en kyk hoe die ou mans mekaar met hul krieke uitdaag en hoe ’n kampioenvegter ’n sak vol geld vir sy eienaar kan wen.

Eendag het die hoofman van hul dorp sy waterbuffel – waarmee hy besig was om te ploeg – met ’n stuk hout geslaan toe die dier in die modder gaan lê. Die buffel het hom vererg, met moeite uit die modder opgestaan en die man met sy horings gegaffel. Met sy ingewande in sy hande het die man oor die dorpsplein huis toe gestrompel, verby die ou mans met hul vegtende krieke. Hulle het anderkant toe gekyk. Die einste hoofman het gereeld op hul krieke beslag gelê. Belasting vir die keiser, het hy gesê, maar hulle het geweet hy verkoop hul krieke en steek die geld in sy sak. ’n Week later moes sy vrou ook rouklere aantrek.

Die dorpsbewoners het die magistraat van sy heengaan laat weet, ook dat hulle Lao Tsjeng as die dorp se nuwe hoofman gekies het.

Die storie
Pu Songling (1640-1750) het meer as 500 bonatuurlike verhale op sy kerfstok en het die oorspronklike storie in 1670 voltooi. Vir hierdie Afrikaanse herverbeelding het die skrywer staatgemaak op Herbert A. Giles se Engelse vertaling, wat as “The Fighting Cricket” saam met 200 ander bonatuurlike verhale van die skrywer in die bundel Strange Stories from a Chinese Studio opgeneem is. Dit het in 1880 verskyn en kan gratis gelees word by bit.ly/SonglingStories.

“Ek wil nie hoofman wees nie,” het hy vir die magistraat gaan sê. “Ek is my lewe lank ’n student en so arm soos ’n monnik met ’n bedelbak in sy hand.”

“Jy is gekies en basta,” het die magistraat geantwoord en bygevoeg: “Hoofman, die goewerneur het laat weet die keiser se jaarlikse kriekkampioenskap vind oor drie weke plaas. Bring vir my jou dorp se kampioenkriek en jy sal nooit weer arm wees nie. Ek ook nie. Jy het sewe dae.”

In daardie tyd was kriekgevegte baie gewild in China, veral onder die hoëlui in Beijing en die keiser se duisend verveelde konkubines in sy harem in die Verbode Stad. Skandelike bedrae geld is gedurende die kampioenkompetisie op die krieke verwed.

Tsjeng was skaars by die deur uit, toe roep die magistraat hom terug: “As daai kampioenkriek nie oor sewe dae hier op my tafel sing nie, slaan my polisie jou honderd houe met die rottang.”

Tsjeng skrik die eelte op sy hande weg. Die magistraat en sy strawwe is ’n verskrikking in hul distrik: Toe die 78ste hou op die rug van die hoofman op hul buurdorp val, het sy hart gebars.

Tuis sê Tsjeng vir sy vrou: “Hier’s g’n kampioenkrieke oor nie, die dobbelaars op die plein het almal gevang.”

“Pa . . .”

Een kyk van sy pa en Kai-li kom nie verder nie.

Later die dag, nadat hy die dorpsbewoners bymekaargeroep en hulle sewe dae gegee het om vir hom ’n kampioenkriek te bring, sê sy vrou vir Tsjeng waar hy by die tafel sit, besig om die tienduisendste keer vir die staatsdienseksamen te leer: “Hoekom gaan soek jy nie self ’n kam­pioenkriek nie. Dis só droog vanjaar, daar is nie genoeg rys op die land om aan die lewe te bly nie.”

“Ja, Pa, ek sal Pa help,” tjirp Kai-li.

“Help jou ma op die rysland.” Tsjeng onthou van die kriek in Kai-li se slaapkamer. “Bring jou kriek, la’k sien.”

“Pa . . . ?”

“Lao Tsjeng . . .” begin sy vrou waarsku, maar hy gee haar nie kans nie.

“Bring die vervlakste kriek, Kai-li.”

Die seun se hand bewe toe hy die bamboes-koutjie vir sy pa gee. “Dis net ’n ou singkriekie, Pa.”

Tsjeng beskou die insek: “Jy’t ’n week om hom vet te voer.”

En fluister in sy ma se oor: ‘Is Pappa nog kwaad, Mamma?’

SOGGENS is Tsjeng vroeg van die huis af weg met Kai-li se bamboeshouer en syedoek om te gaan krieke vang. Saans kom hy sleepstert by die huis aan. Snags sit sy vrou haar hand op sy skouer: “Kai-li kan jou help, Lao Tsjeng.”

“Die kind sal my tyd mors,” antwoord hy en draai op sy sy, met sy rug na haar toe.

Een nag word sy wakker. Die kooi is leeg langs haar. Teen sonsopkoms kom Tsjeng by die huis aan met drie krieke.

Kai-li spring uit sy bed om die vangs te beskou: “Daai een is dan ’n wyfie, Pa.”

“ ’n Kriek is ’n kriek.”

“Wyfies baklei nie.”

“As jy so slim is, haal haar uit.”

“Die ander twee,” Kai-li skud sy kop, “is te pieperig om te veg.”

“Ons sal sien.”

Tsjeng neem sy twee mannetjieskrieke na die markplein en daag die ou manne uit vir ’n geveg. ’n Halfuur later het altwee sy krieke flou in die hoek van die gevegsbak gaan wegkruip.

Die tyd raak min en Lao Tsjeng raak benoud. Dagbreek die volgende oggend sê hy vir Kai-li: “Waar sê jy moet ek gaan soek?”

“By die ou dorp se murasies sing die krieke baie mooi.”

“Ek soek g’n sanger nie, Kind.” Hy gryp die syedoek en bamboeshouer en stap vort.

Vroegmiddag kom hy bekaf tuis. “Môre kom jy saam, Seun.”

“Krieke sing laatmiddag mooi. Ek sal Pa gaan wys waar ek my kriekie by die murasies gevang het.”

“Hoeveel maal het ek jou nie gewaarsku om nie alleen soontoe te gaan nie; dit spook daar,” ontplof sy pa.

Maar toe die bome daardie middag lang skaduwees gooi, loop pa en seun verby die ou dorp se droë put tussen die murasies in. Kai-li vat sy pa se hand en lei hom na ’n muur wat omgeval het. Hy wys hulle moet daar sit.

“Sjjjuuuut,” sê hy.

Stil soos paddas op ’n lotusblaar sit hulle. ’n Kriek begin tjilp. Kai-li kyk in die rigting van waar die geluid kom en sien ’n bul van ’n kriek op ’n takkie onder ’n bos. Hy wys vir sy pa om te bly sit, bekruip die kriek, gryp blitsvinnig na hom. Maar dis mis. Die kriek gee twee lang spronge, beland tussen droë gras langs sy gat in die grond en verdwyn daar in.

“Onbeholpe kind, jy kan mos nie met kaal hande die ding wil loop staan en vang nie.” Hy kom orent, pluk sy pyp uit sy broeksak, steek dit aan die brand, suig hard, buk af en blaas rook in die gat. Die kriek roer nie. Kai-li probeer by die gat inloer en begin nies van die rook.

“Ons moet water in die gat gooi,” sê hy.

“Die waterput is ’n uur se loop van hier af.”

Kai-li pluk ’n grasstingel: “Kielie hom, Pa.”

Tsjeng karring met die grasspriet in die gat en Kai-li hou die syedoek reg.

Niks.

Hy karring weer.

Niks.

Tsjeng vee die sweet wat in sy oë loop, met sy hand af.

“Draf jy gou waterput toe. Ek sal hier wag.”

Die seun gee die syedoek en die bamboeshouer vir sy pa.

“Waarin gooi ek die water? Eers nog huis toe gaan ook om ’n beker te kry. Pikdonker as ek terugkom.”

“Het jy ’n beter plan?”

“Pie in die gat, Pa.”

“Het jy nie respek vir jou pa nie?”

Die nood leer bid en Tsjeng vee weer die sweet uit sy oë. Soos ’n heksemeester staar hy die hemele in. Geluidloos beweeg sy lippe en toe sê hy vir sy seun: “Toe, jy! Jou plan. Jy kan pie.”

Die seun gaan staan so ’n kort treetjie weg van die gat af.

“Kniel liewers, dan’s jy nader aan die kriek,” gee sy pa raad, “en jy moet mooi korrel.”

Kai-li draai sy rug op sy pa, kniel, en voor hy nog behoorlik klaar is, kruip die sopnat insek uit deur die skuim. ’n Bielie van ’n kriek, groen nek, kastaiingbruin rug, goue vlerke en die lang voelers van ’n vurige vegter. Tsjeng gooi die doek oor die kampioen, tel hom versigtig op, plaas hom in die bamboeskissie en vee sy hande aan sy broek af.

’n Toeloop van bewonderaars en dromers oor groot pryse het gou by Lao Tsjeng se huis begin saamdrom. Kopknikkend beskou hulle die kriek en klop Tsjeng op die rug.

Voordat hy gaan slaap, haal hy die kriek uit die bamboeskissie en plaas hom in ’n kruik wat op ’n rak in die voorkamer staan. Hy sweer die wraak van die oorlogsgod sal sy vrou en seun tref as hulle net daaraan dink om aan die kruik te raak.

Sy pa het al gelê en snork toe Kai-li nog luister hoe die kriek nesskop in die kruik. Die volgende oggend gaan sy pa na die magistraat om te gaan spog, en sy ma gaan soos gewoonlik rysland toe. Kai-li gaan sit by die kruik en soos sy ma luister na die hartseer klank van ’n tweesnaar-erhu, luister hy betowerd na die kriek se lied.

En toe . . .

Toe raak die kriek stil. Die son klim teen die hemel op en staan later loodreg bo die aarde, en nog swyg die kampioen. Kai-li se nek word lam soos hy sy kop draai om beter te kan hoor. Stadig tel hy die kruik op en skud dit liggies.

Sy ma kom by die voordeur in om te kyk of alles nog reg is by die huis en sien hoe Kai-li die deksel effens lig en by die kruik inloer.

“Kai-li!” skree sy.

Die kruik glip uit sy hande en spat uitmekaar op die vloer. Die kriek lê en skop tussen die skerwe, sy voelers soos riete geknak, sy een agterbeen middeldeur gebreek.

“Jou pa trek die velle van jou harspan af, my kind.”

Die seun staar na die droewe toneel voor sy voete, draai sy groot bruin oë na sy ma, snak een keer na sy asem en hardloop by die voordeur uit.

Negeuur die aand is hy nog nie terug by die huis nie. Tsjeng se woede maak plek vir bekommernis. “Kai-li!” roep hy straataf. “Kai-li!” Mans kom uit hul huise. Hy vertel hulle van die gebreekte kruik en Kai-li se verdwyning. Lantern in die hand begin hulle saam met hom soek. Vroue klop aan die voordeur met ’n pot tee vir die ma.

“Dalk soek hy krieke in die ou dorp,” sê sy.

“Die mans is op pad daarheen,” sê haar buurvrou.

“Heeldag niks geëet nie, arme kind.”

Kort voor middernag kom die soekgeselskap af op Kai-li se sandale langs die droë put buite die ou dorp. Hulle laat ’n jong man aan ’n tou in die put afsak.

“Dis hy, Lao Tsjeng. Jou seuntjie,” roep hy. Hy maak Kai-li aan die tou vas. Die mans katrol hom boontoe.

Tsjeng tel die kind se slap liggaam op en vat koers huis toe. Halfpad kom hy sy vrou tee. Hy skud sy kop. By die huis lê hy Kai-li in sy kamer op sy bed neer.

“Bring die lamp,” sê sy vrou.

Sy maak sy hemp los, druk haar oor teen sy bors en luister.

“Sy hartjie klop dan nog, Lao Tsjeng.”

Sy tel hom op en dra hom na hul slaapkamer toe. Sy gee hom vir sy pa, pluk haar rok oor haar kop en klim in die bed, vat dan die kind en vou sy koue liggaam in haar arms toe. Tsjeng gooi ’n kombers oor hulle.

’n Uur of so voor hanekraai maak Kai-li sy oë oop en fluister in sy ma se oor: “Is Pappa nog kwaad, Mamma?”

Waar hy teen die slaapkamermuur hurk, hoor Tsjeng die stemmetjie. Hy kom nader en sit sy hand op sy seun se voorkop. “Ek gaan vir jou warm tee maak, Boetie,” maar hy slaap al weer toe sy pa die tee bring.

Later die oggend word Kai-li wakker. “Waar is Pappa?” vra hy en drink ’n slukkie groentee.

“Na die ou murasies toe.”

Sy ma neem die koppie by hom en hy sak terug op die bed en raak weg in ’n beswyming.

Tsjeng het sonder ’n enkele kriek van die ou murasies af teruggekeer en op die kant van die bed langs sy seun gaan sit en sy hand vasgehou toe hy ’n klein kriekie langs Kai-li se kop op die kussing sien. Hy vang die kriekie en sit hom in die bamboeshouer waarin die nat kam­pioenkriek die vorige dag was. Die kriekie skuur sy vlerkies teen mekaar in ’n vrolike lied.

Jare later sou Lao Tsjeng vir sy kleinkinders vertel hy kan sweer hy het ’n effense glimlag om Kai-li se mond gesien toe die kriekie begin sing. Maar ek moenie die storie vooruitloop nie.

DIE VOLGENDE DAG klop ’n man van die buurdorp aan Tsjeng se voordeur. “Jy het ’n kampioenkriek hier, hoor ek. Bring hom. My kriek is reg vir hom.”

Tsjeng wou nie verklap dat sy kriek verongeluk het nie en gaan haal die houer met die klein kriekie.

“Jy noem dié rysmier ’n kampioenkriek?” Die man lag só dat die buurvrou uit haar huis kom. “Hou op raas,” sê sy, “die mense se kind lê op sterwe na dood.”

Tsjeng leen haar man se gevegsbak by haar en sit die kriekie daarin. “Bring jou kampioen.”

Die buurmense drom saam. Hulle loer oor Tsjeng se skouer, vryf hul neuse en skud hul koppe. Vandag gaan jy ’n ding sien.

Die man sit sy kriek in die gevegsbak. Hy wikkel sy voelers, gee ’n paar treetjies vorentoe en storm op die kleintjie af. Net voor die grote hom kan byt, spring hy bo-oor hom. Die man grinnik en gee ’n swart varkhaar vir sy opponent: “Kielie jou dwergie, Lao Tsjeng.”

Tsjeng vat die haar en stimuleer sy kriekie se voelers. Die voelers begin bewe, beweeg op en af, op en af, en toe skop die kriekie vas teen die kant van die bak en spring op die kampioen se rug. Hy byt hom in die sagte nekvleis tussen die skouerharnas en die kop. Die kampioen probeer hom met sy pote van sy nek af krap, maar die kriekie klou en hy byt.

“Stop! Stop die geveg,” skree die man. “Hy’s kapabel en byt my kampioen se kop af. Van wanneer af spring ’n kriek op ’n ander een se rug?”

Die nuus van die kriekie se oorwinning versprei vinnig, en dieselfde dag nog wen hy nóg twee gevegte. Die dag daarna nog ’n paar?.?.?. en die dag daarop klop die magistraat se verteenwoordiger aan hul voordeur.

“As ek met dié dingetjie van jou by die magistraat aankom,” sê hy toe hy die kriekie sien, “sny sy polisie meer as net my neus af.”
Tsjeng roep sy buurman en dié oortuig die magistraat se verteenwoordiger die kriekie is hul dorp se kampioenvegter.

“Jy kom saam, Lao Tsjeng,” sê die verteenwoordiger.

By die magistraat wen die kriekie vyf gevegte teen kampioene van ander dorpe in die distrik. Die regsman stuur hom na die goewerneur, wat ná een geveg die kriekie na die keiser se paleis neem.

Die keiser verkyk hom aan die mooi ou kriekie en gee opdrag dat hy in ’n houer van suiwer goud geplaas word. Daardie aand toe Sy Hoogheid sy keuse vir die nag in sy harem gaan maak, skenk hy die kriekie aan sy konkubines en beveel die harem se hoof-eunug om hom te versorg. Die eunug vertel die meisies van die kriekie se reputasie. Hulle verwed goudstukke en juwele op hom en hy wen elke keer. Die eunug neem ’n deel van hul winste vir veilige bewaring.

Op die dorp sit Tsjeng heeldag by Kai-li se bed en hou sy bewustelose seun se koue handjie vas. Wanneer sy vrou soggens op die rysland werk, gesels hy saggies met hom. Net ingeval hy kan hoor. Laat smiddae loop hy na die tempel, steek ’n hand vol wierookstokkies aan die brand, swaai hulle voor die Boedd­ha en vra hom om hulp. Hy en sy vrou weet hoe dit voel om langs die oop graf van jou kind te staan. Die Boeddha glimlag net sy wyse glimlag. Tuis beweeg die kind se borskas skaars. Sy ma moet ’n stukkie glas voor sy neus hou om te sien of hy nog asemhaal.

Kwaai krieke
Kriekgevegte is al 1 500 jaar ’n tradisie in China, maar die ouer geslag is bang die sport sal doodloop omdat belangstelling daarin taan.
Dis nie ’n bloedsport nie: Die krieke val mekaar aan met hul groot kake, en die een wat weghardloop, is die verloorder. Soek op YouTube vir video’s.

DIE DAG van die groot kampioenskap breek aan. Van oor die hele Middel-Koninkryk het die goewerneurs hul kampioenkrieke Beijing toe gebring. Die konkubines skryf die kriekie ook in. Hulle mag natuurlik nie die gevegte bywoon nie.

Die hoof-eunug bring elke uur vir die meisies die goeie nuus dat hul kriekie met mening veg en baie geld wen. Teen skemerdonker word hul kriekie gekroon as die Kampioenkriek van Alles Onder die Hemele. Die keiser se gesig straal toe hy daardie aand sy keuse gaan maak. Al die meisies, en selfs die ouer vroue, glimlag nog breër as gewoonlik vir Sy Hoogheid.

Die volgende dag gelas die keiser dat drie kiste vol goue geskenke en kosbare juwele op ’n strydwa gelaai word: een vir die goewerneur, een vir die magistraat en een vir die kriekie se eienaar. “Die kiste moet gesluit word,” beveel hy.

Die dag nadat die strydwa vertrek het, sien die hoof-eunug die kriekie se houer is leeg. Die houer is nog gesluit en die sleutel in sy sak, maar die kriekie is skoonveld. Daardie aand vertel die uitverkore konkubine vir die keiser van die kriekie se verdwyning en dat die hoof-eunug weier om hul winste vir hulle te gee. Die keiser word smoorkwaad. Hy wou met die kriekie teel. Hy laat roep die hoof van die Geheime Polisie en beveel dat die hoof-eunug dieselfde nag nog in ’n drom olie gekook word.

SOWAT ’N WEEK later sit Tsjeng en sy vrou steeds langs Kai-li se bed. Daar is geen wasempie meer op die stukkie glas voor sy neus nie. Hul seun is sterwend.

’n Rumoer buite hul huis laat hulle opspring en by venster uitloer. Drie mans is besig om ’n tamaai groot kis voor hul deur af te laai. Tsjeng gaan uit buitentoe, sy vrou agter hom aan. Die mans kom dadelik op aandag. Een van hulle haal ’n stuk papier uit sy sak, gee ’n tree vorentoe en begin lees: “Hooggeagte Lao Tsjeng, Sy Hoogheid, die Keiser, die Seun van die Hemel, skenk hierdie kis en sy inhoud aan jou. Neem die sleutel, sluit oop die kis en vergewis jou dat dit vol goud en juwele is.”

Tsjeng sluit die kis oop en hy en sy vrou staan só verslae na hul aardse skatte en kyk dat hulle nie die kriekie sien wat uit die kis spring en by die voordeur in verdwyn nie. Tsjeng haal ’n goue beker uit die kis en gee dit vir sy vrou. Voor sy die beker na behore kan bewonder, hoor sy iets agter haar.

“Daar is iemand in die huis,” fluister sy vir Tsjeng.

“Sit terug,” sê hy. Sy druk die beker tussen die ander geskenke in. Tsjeng klap die deksel toe en sluit die kis. Hulle kom orent, en toe hulle omdraai om te gaan kyk wie in hul huis is, kom Kai-li by die voordeur uit. Sy ma sien hy dra dieselfde kortbroek en hemp wat hy aangehad het die nag toe hy in die put geval het.

“Ma,” sê die bruinoogseun, “wanneer eet ons, Ma? Ek sal gou vir Ma die uie skil. Ek en Pa is honger, nè, Pa.”

Meer oor:  China  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.