Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kalmer se voëls g’n ligte fladdering nie

In ’n land sonder voëls

Harry Kalmer

PENGUIN, R280 

Toekomsfiksie 

In ’n land sonder voëls.
In ’n land sonder voëls.

Op die vraag vir wie hy dan skryf, het Harry Kalmer ’n ruk gelede in ’n onderhoud gesê ná nege (intussen meer) boeke het hy ’n goeie idee wie sy lesers is. “Hulle is nuuskierig, geniet goeie stories en waardeer dit dat ’n nuwe boek nie noodwendig soos ’n vorige een lees nie.”

Takseer jy sy jongste boek aan die hand van die laaste opmerking gee jy hom inderdaad gelyk. Ten opsigte van sy verhalende werk het Kalmer onder meer kortverhale gebundel (Die waarheid en ander stories) en Groceries – 56 stories oor huishoudelike produkte, verhale met speur- en spanningslyne gepubliseer (X-Ray Visagie en die Vingers van God en Kniediep) en ’n stewige literêre prys verwerf met die vertaalde weergawe van sy stadsroman ’n Duisend stories oor Johannesburg. Vroeër vanjaar het hy saam met die visuele kunstenaar Hannelie Coetzee Die agste plaag die lig laat sien, ’n boek wat die grens na die kunstenaarsboek gemaklik oorsteek.

Dit beteken nie dat die nuwe boek, In ’n land sonder voëls, só anders is dat die nuuskierige (of eerder wakker) leser nie die spore van vorige karakters gaan teëkom nie. Die eggo’s is daar, hoewel Kalmer die leser ’n nuwe rigting stuur – dié van die toekoms.

“Dit was die vyftiende jaar van ekonokrasie. Vyftien jaar nadat ons ons demokrasie vir die Korporasie verruil het. Die politiek is geprivatiseer. Nes ons polisiediens en hospitale, dekades vroeër. Danksy tegnologie, die stygende reënval, die veranderende klimaat, kon die land aan derduisende yskoue, dankbare Amerikaners en Kanadese blyplek bied. Vir beide die aankomelinge én die gevestigde inwoners het voorspoed en ’n beter lewe aangebreek.”

Maar as jy dink Kalmer het nou ’n blik op die utopie gekry, sal hy soos Bart Nel jou daarop wys: “Ek is nog hy.”

Ná die Chaos (min of meer die tyd waarin ons tans leef) was die Korporasie (’n totalitêre bestel) toe nie beter nie. Vergrype het nie verdwyn nie. Sonskyn het skynson geword. In ’n land sonder voëls kan ’n mens kwalik ’n utopie verwag. En getrou skryf Kalmer steeds sy teruggehoue sinne wat in die gestrooptheid daarvan juis so sidder van moontlikhede. As voorbeeld dialoog met vier sinne: “Hoe noem ek jou?” “Adam. Adam Burger.” “Kom jy met tjips?” “Een op elke skouer.”

Die “beter lewe” wat aangebreek het, is die soort toekomsbestaan wat Aldous Huxley beskryf het in sy Brave New World van 1932, ’n boek waarvan hy self die aard bevraagteken het: Is dit satire, ’n profesie of ’n bloudruk? Kalmer se jongste roman laat ’n mens fladder tussen dié moontlikhede en laat jou heimlik hoop op satire. Wat jou laat twyfel, is ’n opmerking soos: “Dalk is dit in die aard van beskawings om onbeskaafd te wees.”

Ná hoeveel boeke weet Kalmer nie net wie sy lesers is nie, maar ook waar sy meesterskap lê.

Aan die woord is Adam Burger, soos Huxley se hoofkarakter ’n soort alfa-man met inherente gebreke, wat as hy vir hom ’n nom de guerre moet kies, terugval op die naam Siener van Rensburg (hy kon net sowel X-Ray Visagie gekies het). Hoewel Burger nie meer vandag se kind is nie – hy het sy kwota mankemente, onder meer swak oë – het hy die visage van James Bond, Mick Jagger en straks Peter Pan.

“Ek praat dalk die taal van onthou, maar ek het my leesbril vergeet,” sê Burger vroeg in die boek en kom later mank en met ’n kierie oor die weg. Dat hy verliese gely het, soos die Bybelse Job, blyk uit die naam van sy dogter, Jemima (wat terloops tortelduif beteken).

Hy is alleen – sy mense het hy verloor, nee, hulle is van hom weggeneem – en hy raak betrokke in ’n newelwêreld, ’n nagmerriewêreld waartoe hy toegang kry soos Alice na haar Wonderland deur ’n tonnel, kompleet met ’n sakkie “drink my”-poeier, in sy geval gemerk “vir die ouer ultrasportman”.

Maar dan is hy ook Faustus en les bes, gered deur ’n man met die naam Moses, sélf Moses in sy hangmatbedjie. Name en die betekeniswêreld van name in dié roman rakel ’n parallelle bestaan van sy eie op, maar so ook die magdom multi-betekenisse wat dikwels gewoon tersluiks genoem word.

Hoewel die verhaal in die toekoms afspeel, is die roman geanker in ’n herkenbare (Suid-Afrikaanse) landskap met ruim beskrywings van ’n hinterland met fauna en flora en hedendaagse produkte, wat nogal dikwels as “outyds” beskryf word. Daarmee saam betree jy tegelyk die onbekende, wat jou versigtiger laat lees en twee maal laat dink voor jy aanvaar jy snap volledig.

In wese is die boek veel lywiger as wat ’n mens kry tussen voor- en agterblad. Reken jy die wêrelde van die verwysings in, veral na musiek (moontlik ook as ’n soort klankbaan) én godsdiensbeskouings en godsdienstige dokumente, kom jy onder die indruk van die verwikkelde aard van dié roman, van die gelaagdheid en die onderbeklemtoonde maar sekure hand waarmee Kalmer skryf. Ná hoeveel boeke weet hy nie net wie sy lesers is nie, maar ook waar sy meesterskap lê.

Kalmer bied ’n rykdom dis- of eerder anti-utopie waarin die leser nuuskierig haar of hom kan verlustig. Bo en behalwe die goeie storie wat Kalmer vertel. Die boek het immers die opdrag: “Vir my lesers”.

Johan Myburg is ’n digter en kunsskrywer van Johannesburg.

Meer oor:  Boekresensie  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.