Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kamfer takel temas van witheid tot geweld teen vroue

In haar vierde digbundel, Chinatown, deins die bekroonde digter Ronelda Kamfer nie terug vir temas soos patriargie, geweld teen vroue en wit oorheersing nie. Sy weet nie wie haar gedigte lees nie, maar sy hoop daar kom ’n dag dat alle Afrikaanse stories normaal en toeganklik is en mense nie van hul stoele sal afval as ’n bruin skrywer voor hulle staan nie. Sy het met AJ Opperman gesels.

Dit kwel die digter Ronelda Kamfer wanneer mense moeg raak vir stories oor verkragting en die #MeToo-veldtog.

“Daar is iets groot fout met jou as jy moeg raak van slagoffers, maar nie die oortreders nie,” sê Kamfer, wat geweld en seksuele geweld asook die gevolge daarvan in haar vierde digbundel, Chinatown, kaalvuis pak.

Chinatown
Ronelda Kamfer. Foto: Nathan Trantraal

Kamfer delf verder in die onderwerpe van patriargie, feminisme, wit vroue se feminisme en hul medepligtigheid aan patriargale stelsels wat voortbestaan.

“En witheid – nie wit mense nie, maar witheid as ’n tool vir oppression”.

Die spreker in die gedigte se eie selfvernietigende gedrag en negatiewe manier om iets te hanteer, word ook belig.

Chinatown is onlangs deur Kwela uitgereik.

“Ek het een keer ’n onderhoud met (die Amerikaanse skrywer) Maya Angelou gesien waarin sy praat oor haar verkragting as jong kind en hoe die verkragter doodgemaak is en sy verantwoordelikheid daarvoor geneem het. Dit het haar stom gemaak omdat sy geglo het dit is wat gebeur as jy praat, dat iemand doodgemaak word.”

Dit het ’n groot invloed op Kamfer gehad.

“Want die gedagte het by my ontstaan dat hierdie soort geweld in isolasie gebeur en die slagoffers dit net van hulself afstof en aangaan. Seksuele geweld oorweldig jou en seeps deur jou pores soos sweet, ongeag hoe goed jy dink jy funksioneer. Ek haat dit as sulke goed my beheer en ek haat dit om bang te wees. Elke dag is anders, sommige dae exist ek free van dit en ander dae is dit orals en in alles.”

"Ek ken baie lesers wat happen om wit te wees en my werk kan lees sonder om te voel ek attack hulle fragile ego’s."

Die woord “Chinatown” verwys na ’n winkelsentrum waarin baie van Kamfer se verse afspeel.

Dit vorm ook ’n sentrale ruimte vir die wanfunksie waarin ’n gesin hulle bevind.

Sy verwys wel in een gedig na die omstrede rolprentregisseur Roman Polanski, wat die fliek Chinatown gemaak het.

“Dit sinspeel op die feit dat hy ’n verkragter is. Ek het geen interest in Chinatown die fliek nie. Baie mense sal sê jy moet die kunstenaar skei van die kuns en dit fassineer my dat mense so ’n onderskeid tref tussen kunstenaars en ander mense. En ek glo regtig mense is vry om vir hulself te besluit, maar ek wonder waar jy die streep moet trek.

“Sê byvoorbeeld jy het die beste mechanic in die land, maar dit kom uit hy het sy dogter verkrag. Mag jy die mechanic ook skei van die voertuie wat hy regmaak?”

Chinatown
‘Chinatown’ deur Ronelda Kamfer.

Kamfer verwys na haar eie lewe as ’n gemarginaliseerde waarin alles wat ’n mens doen teen witheid gemeet word.

“So as ek die slimste kind in die klas was, het dit nie beteken dat dit genoeg is nie, daar is ’n wit maatstaf waarteen dit gemeet word. In Afrikaanse letterkunde was en is daar al die sterk vrouestemme waar – as ek hulle wou lees en verstaan – ek my eie ervarings opsy moes skuif en eers oor hulle gaan leer het voordat ek toegang tot daardie wêreld kry. Dit is frustrerend omdat dit oral is.”

Kamfer is onseker wie haar gedigte lees. Sy hoop en vertrou dat mense wat dit lees iets daarin sal raaksien waarmee hulle hulself vereenselwig.

“Ek hoop daar kom ’n tyd waar alle Afrikaanse stories normaal en toeganklik is en mense nie van hul stoele sal afval as daar ’n bruin skrywer voor hulle staan nie.

Ek ken baie lesers wat happen om wit te wees en my werk kan lees sonder om te voel ek attack hulle fragile egos.”

Kamfer en haar gesin woon die afgelope vier jaar in Makhanda in die Oos-Kaap.

Sy hou van die stilte daar en dit gee haar kans om oor goed te dink en dit te verwerk.

“Skryf is nie vir my terapie nie,” sê Kamfer wat in 2008 met Noudat slapende honde gedebuteer het.

“Skryf is my werk; ek skryf altyd net om die storie so suiwer as moontlik uit te kry. Ek vermy om te skryf oor goed waaroor ek nie kan praat nie, my ma se dood was terribly traumaties omdat dit so skielik was en omdat ek toe amper nege maande swanger was en ek moes dit lank eers verwerk voordat ek kon skryf daaroor. My eie struggles met anxiety en PTSD is maar ’n ongoing proses. Soos meeste mense wat sukkel met trauma en hul sielkundige gesondheid moet jy maar net jou eie pas volg en bewus wees dat elke dag nie dieselfde is nie.”

*Chinatown word deur Kwela uitgegee en kos R200.

Meer oor:  Makhanda  |  Gedigte  |  Boeke  |  Digter  |  Nathan Trantraal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.