Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kanker eis ’n koning van kindersketse

Die bekroonde illustreerder Alex van Houwelingen (35) is Sondagoggend dood.

’n Seldsame vorm van kanker is by hom gediagnoseer wat sy kakebeen aangetas het, het Izak de Vries van Lapa-uitgewers gesê.

Illustreerder
Alex van Houwelingen Foto: Izak de Vries

Van Houwelingen, wat saam met sy vrou, Ilze en hul twee jong kinders in Pretoria gewoon het, was ook ’n strokiesprentkunstenaar, grafiese kunstenaar en het die illustrasies van talle kinderboeke gedoen.

Hy was onder meer die illustreerder van die skrywer Jaco Jacobs se Zackie Mostert-kinderboekreeks.

“Ek kan my nie Zackie Mostert en die ander karakters sonder Alex se visie indink nie,” sê Jacobs.

“Hy was betrokke sedert die heel eerste boek.”

Van Houwelingen het gestalte gegee aan karakters soos Zackie, sy beste vriend, Vincent, en sy hond, Frankenstein.

“Ek kan dit nie glo nie,” sê Jacobs oor Van Houwelingen se dood.

“Ek het dit eintlik verwag, want dit het baie swaar met hom gegaan, maar dis nogtans ’n skok. Ek voel veral jammer vir sy kinders. Hy het hulle dikwels skelmpies in sy illustrasies ingewerk en hy sou vir my sê sy kinders werk saam met hom en hy sou vertel wat hulle doen.”

Van Houwelingen het voorheen herstel, maar die kanker het teruggekeer.

Jacobs en Van Houwelingen het jare lank per e-pos gekorrespondeer en saamgewerk.

“Dit was vir my ’n groot oomblik toe ek hom uiteindelik ontmoet by ’n privaat kunsskool in Pretoria waar hy klas gegee het.”

Van Houwelingen het onlangs die illustrasies van Lori-Ann Preston se boek Thabo the Space Dude geïllustreer. Hy het ook die skrywer Adeline Radloff se boeke geïllustreer.

Nandi Lessing-Venter, senior uitgewer: kinder- en jeugboeke by Lapa, sê Van Houweling sal met deernis deur die uitgewers en skrywers van Lapa se jeugboekafdeling onthou word.

“Dit was vir my ’n voorreg om saam met hom te werk. Hy was ’n gerespekteerde kunstenaar en sy werk was altyd van hoogstaande gehalte. Benewens ons gesprekke oor die illustrasies vir ons boeke, het ons ook graag gesels oor een van die dinge waarvoor Alex ’n groot passie gehad het – kuns vir kinders,” sê sy.

“Alex het sy illustrasies met besondere sorg en bedagsaamheid benader. Hy kon regtig enigiets teken en sy beheersing van illustrasiekuns het vaardigheid en ’n mate van beheer getoon wat min kan bereik. Ons is dankbaar vir die geleende tyd wat ons met Alex kon deel.”

Van Houwelingen het sy BA-graad in inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Hy het verlede jaar ’n ATKV-Woordveertjie gewen met sy illustrasies van Jacobs se boek Spaghetti tussen jou tone.

“Ek is so bly Alex het daardie erkenning gekry,” sê Jacobs.

“Illustreerders speel ’n groot rol in ’n boek. Ek het vir hom gesê hy moet dinge dophou, dit sal nie sy laaste prys wees nie. En toe was dit so.”

Van Houwelingen word oorleef deur sy vrou, Ilze, en hul twee kinders, Madelein (6) en Robin (4).

Meer oor:  Atkv  |  Lapa-Uitgewers  |  Jaco Jacobs  |  Pretoria  |  Kinderboeke  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.