Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Kansvatter’: Dís mos navorsing

Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R350. Resensent: Floris van der Merwe.

Almal wat onbekend is met die wonderbaarlike verhaal van Ben Viljoen (1869-1917), kan gerus Carel van der Merwe se boeiende biografie oor dié “Boeregeneraal en politikus, koeranteienaar en skrywer, avonturier en pierewaaier, sirkusboer en showman, Mexikaanse revolusionêr en Indiane-vredemaker, veelwywer en vrybuiter, Hollywood-draaiboekskrywer en burger van vier lande” aanskaf.

Van der Merwe neem die leser op ’n lewenstoer wat begin by Viljoen se geboorte in ’n grot aan die voet van die Drakensberg. Wanneer goud in 1886 ontdek word, sak die 18-jarige Viljoen saam met duisende fortuinsoekers van oor die wêreld op die Rand toe. Hy misluk in die vendusie-afslaersbesigheid en probeer dan die polisiediens, maar sy loopbaan kry eers koers toe hy by Eugène Marais se koerant, Land en Volk, betrokke raak en sy politieke, joernalistieke en skryftalente na vore kom.

Binne 12 jaar ná sy aankoms in Krugersdorp vorder dié inkommer van polisieman tot bevelvoerder van die Johannesburgse kommando en volksraadslid vir Johannesburg, maar die Anglo-Boereoorlog stuur hom op ’n ander paadjie as wat hy beplan het. ’n Jaar ná sy toetrede tot die stryd word hy tot veggeneraal bevorder. Van der Merwe bespreek sy gemengde welslae as “teensinnige bittereinder” in detail. Dit het uitgeloop op sy inhegtenisname en verbanning na St. Helena-eiland.

Ná die oorlog het Viljoen ’n lesingtoer na Brittanje onderneem en wyd verkondig hy wil graag ’n versoenende tweetalige koerant in Suid-Afrika vestig. Maar toe hy terug was in die land, kon hy en lord Milner nie hieroor ’n ooreenkoms bereik nie. In dié tyd het sy pad gekruis met dié van Arthur Waldo Lewis, wat die moontlikheid van ’n Anglo-Boereoorlogskouspel tydens die World’s Fair van St. Louis in 1904 gepropageer het. Viljoen se avontuurlus was geprikkel en weldra het hy hom in Amerika bevind as een van die sleutelfigure in Frank Fillis se Boeresirkus. Die ander Boeregeneraal was natuurlik Piet Cronjé.

'Boeregeneraal en politikus, koeranteienaar en skrywer, avonturier en pierewaaier, sirkusboer en showman, Mexikaanse revolusionêr en Indiane-vredemaker, veelwywer en vrybuiter, Hollywood-draaiboekskrywer en burger van vier lande'

Persoonlik sou ek wou hê die skrywer moes meer aandag gee aan die Olimpiese Spele van St. Louis, maar dis nou maar eenmaal my belangstelling. Daar was uit die sirkusgeledere nóg ’n marathondeelnemer asook ’n Boere-toutrekspan. Ek het in my boek Die Boere-sirkus van St. Louis (1904) (1998) ook nie vir Len Tau as Len Taunyane voorgehou nie, maar dit kan Wikipedia se skuld wees. Uit my navorsing blyk dit verder dit was eerder Mashiani wat deur die hond gejaag is.

Ná afloop van die Boeresirkus was Viljoen betrokke by ’n Boere-nedersetting in Nieu-Mexiko. Hy het ook sy ouers, broers en susters laat kom, maar hulle het gemengde welslae behaal. Afgesien van sy boerderybelange het hy ook by die politiek betrokke geraak. Sy betrokkenheid as militêre adviseur by die Mexikaanse Revolusie van Francisco Madero was beskeie en sy rol as vredeskommissaris onder die Yaqui-Indiane vrugteloos. Ná die moord op Madero het Viljoen vir ’n ruk sy toekoms in Amerika gaan soek, maar uiteindelik het die asma en brongitis wat hom in sy laaste jare geteister het, gelei tot sy dood op 48-jarige ouderdom in sy huis in El Paso.

Kansvatter is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n navorser – dié boek is ’n verwerking van sy doktorale proefskrif – soms berge moet versit om by sy nodige bewaarplekke en bronne uit te kom. Met die uitsondering van prof. Christo Viljoen wat nie sy persoonlike versameling dokumente rakende die onderwerp met die skrywer wou deel nie, het hy letterlik in Ben Viljoen se voetspore gaan stap om al die plaaslike en internasionale bronne te tap. Geen moeite is ontsien nie en dit moet hom ’n klein fortuin gekos het. Soos ’n mens van ’n proefskrif verwag, is sy bronnelys omvattend. Jou mond hang oop as jy net kyk na al die koerante wat hy geraadpleeg het. Ek het nie soos ’n eksaminator elke endnoot met sy bronnelys vergelyk nie, maar het tog op twee kopkrappers afgekom.

As jy endnoot ses op bl. 474 gemis het, sal jy nie geweet het BOI staan vir Bureau of Investigation (die huidige FBI) nie en dat dit in die bronnelys onder NARA gelys word nie.

Die ander kopkrapper was sy verwysing na dr. Elizabeth van Heyningen se databasis oor die konsentrasiekampe in Suid-Afrika. Ek kon haar naam nie in die bronnelys vind nie, maar lei af dat dit onder die internetbronne as “British Concentration Camps of the South African War” gelys is.

Maar eerlikwaar, die navorsing kon nie deegliker nie. Vergelyk byvoorbeeld sy verifiëring van Ben Viljoen se storie dat sy huis (Myrtle Grove) op St. Helena 400 treë van die Broadbottom-krygsgevangekamp af was. Van der Merwe het dit self gaan afmeet en dit as ongeveer 700 treë bevind.

Die skrywer vermoed Ben (gebore Barend Johannes Viljoen) het in Amerika self sy middelnaam van Johannes na Johannis/Johanis verander, terwyl ek dink die fonetiese spelling van die een of ander burokraat was hiervoor verantwoordelik.

Soos Van der Merwe dit opsom: “Ben het ’n komplekse persoonlikheid gehad. Hy was gedrewe in die navolging van sy ambisies en vir nuwe uitdagings het hy nie teruggedeins nie. Hy kon ook vinnig by nuwe situasies en omgewings aanpas. Sy dapperheid het hy telkemale bewys. Ten spyte daarvan dat hy slegs ’n paar jaar se formele skoolopvoeding gehad het, het hy wyd gelees en was hy welsprekend en vaardig met die pen. In Mexiko en die VSA het hy invloedryke mense oortuig om hom te ondersteun. Sy lewe is egter ook gekenmerk deur vlietende lojaliteite, impulsiewe besluite, bittere jaloesieë, onbestendige verhoudings, gewetenlose optrede en die pragmatiese navolging van sy eie belange bo groter ideale.”

Kort nadat Sonja Loots se roman Sirkusboere (2011) verskyn het, is sy en ek gevra om aan ’n boekbespreking in die J.S. Gericke-biblioteek op Stellenbosch deel te neem. Aan die einde van die verrigtinge is ons gevra om Ben Viljoen met een woord op te som. Sy het “flambojant” gekies en ek “bullshitter” (verskoon my taal).

Ek het lank daarna skuldig gevoel oor my krasse opsomming, maar ná ek Kansvatter gelees het, is ek verlig want ek het hom pynlik akkuraat beskryf. Die boek wemel van voorbeelde wat dit staaf.

  • Prof. Floris van der Merwe is ’n sporthistorikus wat verbonde was aan die departement sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Biografie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.