Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kapp se ‘Kantelpunt’ klim onder jou vel in
Die omslag van Kantelpunt deur Sophia Kapp.

Die roman Kantelpunt het ’n aar vir baie vroue raakgeboor. Die boek het einde verlede jaar verskyn, maar is nog op talle mense se lippe. Erla-Mari Diedericks het met die skrywer Sophia Kapp daaroor gepraat.

Wat gebeur die dag as ’n liefdesromanskrywer ’n boek skryf oor die werklikheid rondom haar?

Volstruisvroue se kop word uit die gat geruk. Ander lees hulself tussen die reëls raak. Party is woedend. Ander verlig.

Maar een ding is duidelik oor Sophia Kapp se Kantelpunt: Die boek klim onder jou vel in.

Kantelpunt, wat einde verlede jaar verskyn het, gee ’n stem aan die konvensionele, middeljarige, wit Afrikaanse tante – soos Kapp haarself en die hoofkarakter, Nellie van der Merwe, beskryf.

Nellie het by Kapp aangeklop terwyl sy besig was met haar liefdesroman Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva.

“Nellie het my tydens die skryf van Diva daarvan beskuldig dat ek vroue vlak skryf. Dat ek die probleme wat vroue ervaar, uitbuit vir my storie, en dat ek my karakters laat swaarkry net sodat ek vir hulle ’n held kan gee en my lesers kan laat goed voel.

“Dis natuurlik waar, maar dit het nie beteken dat ek Nellie se storie wou skryf nie. Ek het uiteindelik begin, maar wou dit eerder ’n realistiese liefdesroman maak. Maar Nellie wou niks weet nie. Sy sou wees wie sy wou wees, nie wie ek wou skryf nie.”

Kapp beskryf Kantelpunt as hipomnemata – ’n versameling van waarnemings, aanhalings, beelde ens. wat bymekaargemaak word en kan dien as bron van nabetragting en meditasie.

“Dis eintlik maar rou materiaal wat ? gewone, wit, Afrikaanse tante oor haar lewe bymekaargemaak het.”

Maar waaroor gaan Kantelpunt?

“Dit gaan oor Nellie wat haar in die tipiese situasies van ’n wit Afrikaanse vrou bevind. In die eerste helfte van die boek word sy gekonfronteer deur doodgewone, klein irritasies – onbedagsame kinders, eiegeregtige familielede, bevooroordeelde landgenote.

“In die tweede helfte plaas ek haar in dieselfde posisies, maar hierdie keer bly sy nie stil nie. Sy klim uit haar slagofferskap uit en práát ook met haarself. Uiteindelik moet sy ook aan haarself erken wat haar eie aandeel is in die stelsel wat haar so gemuilband het.”

Lesers se reaksie op die middeljarige Nellie is interessant. Sy is ’n snaar wat alle vroue aanraak.

“Ek het nou al ? paar resensies en opmerkings raakgelees waarin vroue sê Nellie het hulle geïrriteer, veral in die eerste deel. In baie gevalle het ek die kommentaar so gekyk en gedink dit sê meer van die een wat dit uitgespreek het as die boek self. Want as jy die tweede deel lees en besef wat die prys is wat Nellie vir haar opstand betaal, is haar stilte in die eerste deel ook nie meer so irriterend nie.”

En die prys kan duur wees.

“Ek het dit aan my eie lyf ervaar, en ek sien dit met vroue wat hul menings durf lug of dit waag om hul eie teikens vir hul vrouwees te stel – hulle word uitgestoot. ’n Vrou wat ’n slagoffer is, is om een of ander rede vir die samelewing makliker om te hanteer as ’n vrou wat terugpraat.”

Veral in ’n patriargale samelewing.

Kapp meen dat patriargie mans bevoordeel, maar dat vroue dit aan die gang hou.

Een voorbeeld wat sy noem, is dat sy al op die vingers getik is as haar karakters soms vloek. Darem net deur drie brieweskrywers in 12 jaar, maar nogtans.

Hul mening? ’n Dame skryf nie so nie.

Sophia Kapp

“Hierdie lesers het egter nie ’n probleem daarmee dat my heldin in die bed spring met ’n man met wie sy nie getroud is nie, of met ’n jonger man nie, maar sy moet net nie vloek nie. Dan is sy persona non grata.

“Daardie ding dat vroue ander vroue as waardig of onwaardig wil verklaar, is vir my die grootste euwel van die hele patriargale siekte. Want hierdeur leer hulle hul kinders hoe om in dié stelsel te oorleef, en daardeur sit hulle die onbillikheid voort.”

In Kantelpunt worstel Nellie ook met haar narsistiese man, Hendrik – ’n gewelddadige produk van patriargie. Die karakters is op verskillende mense en hul ervarings van geweld gegrond. Dié dat so baie vroue hulself daarin kan herken, sê Kapp.

En dan ook – ons almal ervaar die een of ander tyd ’n kantelpunt. Kapp het self al ’n paar gehad.

“Vir my was die bevrydendste oomblik toe ek besef het ek hoef nie te kan pannekoek bak om ? goeie huisvrou/ma/vrou te wees nie. Daar is goed in hierdie lewe wat ek nie kan doen nie, en al kan elke ander vrou op die planeet dit doen, hoef ek nie ook nie. Dit maak my nie minderwaardig nie. Ek kan skryf, en met die geld wat ek verdien, kan ek dit bekostig om ’n pannekoek by die kerktannies te koop. “

Nellie is iemand wat lesers nie gou sal vergeet nie. Maar Kapp voel haar storie se fluit is uit.

“Nellie het haar sê gesê. Ek wil nou ? ander vrou se storie vertel. Ek het ná Kantelpunt ’n romanse geskryf, net om weer die vreugde in my eie kop terug te kry. Tans is ek besig met ? historiese liefdesroman. Ek hou daarvan om nuwe goed aan te pak, net om te sien of ek dit kan doen.

“Maar romantiese fiksie gaan altyd, altyd my eerste liefde bly.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.