Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Karin Brynard klim nóg hoër op lys van internasionale prys

Die skrywer Karin Brynard is verbyster deur die nuus dat sy die kortlys van die gesogte CWA International Dagger-letterkundeprys gehaal het.

Toe sy twee maande gelede verneem het dat sy die langlys van dié prys vir Weeping Waters, die Engelse vertaling van haar debuutroman Plaasmoord, gehaal het, het sy gedink “this is as good as it gets”.

Die skrywer Karin Brynard.

“Orrááit, dis goed genoeg, het ek gedink,” sê Brynard, ook skrywer van die romans Onse Vaders en Tuisland.

“Maar toe kry ek gister ’n boodskap van (die misdaadskrywer) Irma Venter waarin sy my gelukwens met die kortlys, en ek stuur ewe vir haar terug: ‘Ag skapie, dis vir die langlys . . .’.”

Venter het haar egter verseker dat sy wel op die kortlys is.

“Dit was toe eintlik lekker om dit op so ’n manier uit te vind. Jy weet, as kind het ek altyd gekyk wie is die wenners van die CWA Dagger-prys en ek het hul boeke gekoop.”

Weeping Waters, Engelse vertaling van Plaasmoord deur Karin Brynard.
Weeping Waters deur Karin Brynard.

Brynard het groot bewondering vir Britse misdaadskrywers.

Nou pryk haar naam op die einste prys se kortlys.

“En dit verbaas my dat ’n boek wat in die geweste van my grootwordwêreld (die Noord-Kaap) afspeel, die kortlys gehaal het.”

Die digter Isobel Dixon en Maya Fowler het die Engelse vertaling van Plaasmoord behartig en Linda Gilfillan was die eindredakteur. Plaasmoord is in 2009 deur Human & Rousseau uitgereik en Weeping Waters het in 2014 by Penguin Random House verskyn.

Die CWA Dagger-prys word jaarliks deur die misdaadskrywersvereniging aan die beste vertaalde roman toegeken.

“Ek is net spyt dat my ou Hollie dit nie kan ervaar nie,” sê Brynard oor haar Nederlandse man, Rien van Gils, wat in 2018 dood is.

“Hy het my baie aangespoor. Hy het gesê ek moet in myself glo. En hy het Plaasmoord saam met my gevier. Ons het om die tafel gedans. Ek sou net graag daardie glimlag op sy bakkies wou sien.”

Die toekenningseremonie word op 24 Oktober in Londen gehou.

Meer oor:  Human & Rousseau  |  Penguin Random House  |  Boeke  |  Plaasmoord  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.