Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Karoo’ betrek al die sintuie

Niefiksie

Ons Karoo

Deon Meyer & Coenie de Villiers

MARKET IDEATION, R385

Deon Meyer en Coenie de Villiers se jongste publikasie wat hul gewilde verhoogproduksies vergesel, is in die eerste plek ’n nagsafari met die hemelkoepel in die Karoo as inspirasie: Die Melkweg, die Carina-newel, die Kolesak, die Suidelike Pleiade en die Omega Centauri. Die nagtelike Karoo in al sy glorie.

Daar is twee tipes reisigers wat hul weg deur die Karoo vind. Diesulkes met hul oë stip op die horison, haastig op pad iewers heen. Vir ander reisigers word die Karoo die bestemming opsigself. Dan word die reis, soos dit in die voorwoord gestel word, inwaarts.

Ons Karoo boekstaaf Meyer en De Villiers se tweede verhoogproduksie, Karoo Suite 2. ’n Publikasie wat al die sintuie betrek. Met hierdie boek sien, ruik, hoor en proe jy die Karoo. Die bydraes van kundige medewerkers voeg besondere waarde by tot die bundel.

Dit is juis die Karoo se unieke ligging en omstandighede wat dit die ideale plek maak om die sterrehemel te bewonder. Droog, dikwels wolkloos en ylbevolk.

Veral twee artikels verleen besondere substansie aan hierdie versamelboek. “Hemel – Karoonagte” deur die sterrekundige prof. Matie Hoffman is ’n fassinerende bydrae wat verwondering en bewondering ontlok. Nuttig is die skakels vir die nuuskierige leser wat verder oor die onderwerp wil lees. Prof. Johann Kirsten neem in sy artikel “Karoo Aarde” die fauna en flora asook die ekonomiese karakter van die Karoo onder die loep.

Liplekker resepte, oftewel “Kontreikos vir die siel”, laat die mond water. Selfs die Michelin-bekroonde sjef Jan Hendrik van der Westhuizen lewer ’n bydrae.

Wat die Karoo Suite 2 Karoonagte-verhoogproduksie asook hierdie koffietafelboek visueel komplementeer, is die asemrowend mooi foto’s van die sterrehemel bo die Karoo. Nie net is die fotografie-duo Sarel van Staden en Maryna Cotton ook passievol oor die Karoo nie, hierdie knap fotograwe het internasionaal naam gemaak met ’n voorbladfoto vir ’n internasionale uitgawe van die National Geographic.

Lesers wat die verhoogproduksie gesien het, sal De Villiers se musiek en die diep rasperstem van Meyer hoor as hulle die lirieke en stories lees. Stories oor sterre en mense met begeertes, drome en hul liefde vir hierdie stukkie aarde op die blou planeet. Die kontoere van die hart is opsigself ’n mistieke landskap. Virtuose kunstenaars vir wie die Karoo ’n nimmereindigende muse is. Susan Smith se Karoo-gedigte is ’n bonus.

Dié mooi boek is ’n eklektiese ode aan die “land van die groot dors” – of om die Khoi-woord te gebruik – die Karoo.

  • Rig bestellings en navrae aan: navrae@karoosuite.co.za.
  • Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.
Meer oor:  Deon Meyer  |  Coenie De Villiers  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.