Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Karoo-intriges met 1890’s se ‘rusiemakers’

Elim deur Helena Hugo. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R195. Resensent: Jeanne Henning Els

Elim is die eerste boek van Helena Hugo wat ek gelees het, maar nie die laaste nie. Dis ’n opvolg op haar Christelike roman Mispa.

Hugo kén haar karakters en met besonderse vaardigheid ontwikkel sy hul gedagtes, emosies en doen en late. Soos die lewe is, word sowel die sterk as swakker karakters nie trauma en hartseer gespaar nie. Mettertyd kom hulle tot meer positiewe insigte.

Die verhaal speel hom af in 1896 onder hoofsaaklik Karooboere in ’n era toe dit nie vreemd was dat mense tien kinders gehad het nie, toe mense van net 16 jaar oud getrou het, en ’n vryer eers toestemming by ’n meisie se ouers moes kry voordat hy haar om haar hand kon vra. Dikwels het neefs met niggies getrou al was die moontlikheid daar dat hulle erge siektes en gebreke aan hul kinders kon oordra. Mense het nog ver gereis met perdewaens en op stofpaaie met ’n klomp dae se proviand en dan uitgekamp om te katkiseer of Nagmaal te hou. Soms laat Hugo haar karakters in Hooghollands bid en sing, wat tot ’n outentieke atmos­feer bydra.

Die plaas Mispa tussen Barkly-Wes en Kimberley speel ’n groot rol in die storie. Die perdeteler en skaapboer Willem Basson en sy gesin woon hier, maar hy en sy vrou, Caroline, het nie ’n stabiele huwelik nie. Boonop heers droogte en dreig ’n oorlog.

Willem gee die plaas Elim vir sy seun Daniël omdat dié weet van sy pa se geheim wat hy nie op die lappe wil laat kom nie. Daniël, weer, is die slagoffer van ’n liefdesteleurstelling en hy sukkel om dit te verwerk.

Dis in die besonder ’n verhaal oor mense wat nie met mekaar klaarkom nie. Hulle is “kampioen-rusiemakers”. Owerspel word gepleeg, die drankduiwel is los en ’n witseerkeelepidemie saai vrees en bring verlies. Boonop broei ’n geskinder oor ’n onverwagte verlowing tussen ’n onwaarskynlike paartjie. Een van die karakters kan weens ’n moeilike geboorte en erge depressie nie voldoende na haar babadogtertjie omsien nie, daarom maak ’n plaaswerker die kind groot.

Hugo het ’n besonderse vermoë om met oorspronklike beskrywings helder prentjies op te roep. Iemand se oë is so groot soos “sopkomme”. Kinders in ’n koor se stemme “klim op en af en meng soos lemoenstroop en water” en ’n kerk se vensters gaan oop “soos uitnodigings na die hemel”.

Die boeiende intrige van die verhaal het my tot die laaste sin aan die lees gehou en die goed beplande struktuur laat ruimte vir ’n opvolgroman.

  • Jeanne Henning Els is ’n rubriekskrywer en vryskut-resensent.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.