Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Karsten dop krimi-reëls behoorlik op die kop

Misdaadfiksie

Die versoeking van Thomas Maas

Chris Karsten

HUMAN & ROUSSEAU, R300

Chris Karsten se nuutste Ella Neser-roman, Die versoeking van Thomas Maas, volg knáp op die hakke van Man uit die dode, wat oorspronklik as krimi-vervolgverhaal op Netwerk24 verskyn het.

In laasgenoemde roman word Ella se idilliese bootvaart om die Karibiese Eilande deur Covid-19 kortgeknip en bevind sy haar werkloos en platsak terug op eie bodem. Gelukkig oorreed Lou Pepler haar om ’n private ondersoek van stapel te stuur na die geheimsinnige verdwyning van drie jong mans in die dorpie Osspruit in Mpumalanga.

In Die versoeking van Thomas Maas is Ella nou amptelik ’n private speurder wat deur Donna Maas aangestel word om bewyse te vind dat haar man, die Thomas van die titel, ’n buite-egtelike verhouding het.

Die versoeking van Thomas Maas is ’n roman wat die leser se aandag nie net enduit behou nie, maar dit ook dubbel en dwars beloon.

Die openingsparagraaf is bykans net so sappig soos die geheime wat Ella moet ontbloot: “Die opdrag: My man se affair met daai bitch, kry die bewyse! Oukei dis maklik. Só het sy, die nuwe private speurdertjie, kloek gereken. Fornikasie en kopulasie. In die sakkie voor brekfis – vir ’n eens befaamde moordspeurder, nou afloerder van ander se kattemaai. ’n Raps té kloek, blyk dit toe. Want dinge is selde soos dit lyk” (bl. 11).

Die naatlose wyse waarop Karsten uiteenlopende registers hier integreer, is ’n vuishou-antwoord op enkele besware teen die taalgebruik in Anderman se vrou. Die aanslag is egter nie enduit so gevat en skunnig nie; dinge neem sommer vinnig ’n ontstellende wending.

Die roman, wat uit drie dele bestaan, begin aan die einde van die verhaal met Ella wat op die punt staan om haar verslag aan Donna te begin skryf. Ons vermoed reeds daar dryf iewers ’n kadawer in die water rond, maar weet aanvanklik nie wie die slagoffer en wie die skurk(e) is nie.

Dit word egter toenemend duidelik dat daar veral één karakter is van wie almal ontslae wil raak; verkieslik gewelddadig as dit kan. Nie eens Thomas se skoonpa, Rolf, wat die eerste tekens van alzheimersiekte toon (en hoe aangrypend is die uitbeelding van die karakter nie), skroom om sake in eie hande te neem nie.

Fornikasie en kopulasie. In die sakkie voor brekfis – vir ’n eens befaamde moordspeurder, nou afloerder van ander se kattemaai.

Dit is eers wanneer die moord aan die einde van die tweede verhaaldeel geopenbaar word, dat Ella direk by die geregtelike ondersoek betrokke raak. Van haar snuffelwerk oor Thomas se katelstreke hoor ons in die eerste twee dele slegs danksy die kantnotas wat Karsten vanuit haar perspektief by die roman insluit.

Die hoofintrige word gevorm deur die ontmoeting en uitrafelende verhouding tussen Thomas Maas, ’n sielkundige en pa van “drie talentvolle spruite”, en die aanvallige Amalia Rojas, eienares van die perdryskool waar Thomas sy jongste dogter, Florie, vir rylesse inskryf.

Adrenalienhonger lesers kan dalk vrees dat die eerste 200 bladsye slegs ’n uitgerekte, moeisame aanloop tot die aksie in deel 3 is, maar die spanningslyn is vanuit die staanspoor hoog.

In ’n aanlyn meesterklas oor kreatiewe skryfwerk sê die bekende Kanadese skrywer Margaret Atwood dat mense voortdurend met nuwe teorieë oor die skryf van geslaagde romans vorendag kom, maar dat daar volgens haar slegs één reël is: “Behou my aandag!” En dit is presies wat Karsten in Die versoeking van Thomas Maas regkry.

Karsten se roman daag die cliché uit dat vroue óf seksbehepte roofdiere óf gelukkige huisvroutjies is.

Hy dop nie net die reëls van die krimi-genre op die kop nie; maar waag dit ook in daardie lewensgevaarlike spergebied tussen literêre en genrefiksie. Die opvallendste wyse waarop hy dit doen, is deur ’n volgehoue gesprek met veral twee bekende intertekste te voer, naamlik Shakespeare se Hamlet, en dan spesifiek die rol wat die karakter Ophelia daarin speel, en die berugte 1987-rolprent Fatal Attraction (waarin Glen Close en Michael Douglas onderskeidelik die rolle van Alex Forrester en Dan Gallagher vertolk).

Ophelia – reeds treffend voorafgeskadu deur die buitebladfoto van ’n drywende hand tussen waterlelies – word in die meeste besprekings deur manlike kommentators as die toppunt van kinderlike onskuld óf vroulike listigheid beskou. Ongeag die interpretasie, word sy as randkarakter sonder eie agentskap, en ondergeskik aan die mans in die drama, gesien.

In Fatal Attraction is Alex die onstabiele femme fatale wat Dan weens haar erotomanie teister en dus ’n dodelike bedreiging vir sy gelukkige gesinsopset word. As tipiese “histeriese vrou” moet sy uiteindelik vir haar passie en obsessie boet.

Karsten se roman daag die cliché uit dat vroue óf seksbehepte roofdiere óf gelukkige huisvroutjies is en kan as ’n herinterpretasie van Amalia se literêre voorgangers én hul verhoudings met die manlike protagoniste in die onderskeie tekste beskou word.

Ten spyte van die suggestie in die titel (of dalk juis as gevolg van die dubbelsinnigheid daarvan) beeld Karsten Thomas nie as onskuldige slagoffer uit nie, maar as ’n berekende man wat presies weet wat hy alles op die spel plaas wanneer hy ’n verhouding met Amalia aanknoop. Alle gebeure word ook nie slegs uit sý perspektief waargeneem nie; Donna, Amalia, Ella én Thomas-hulle se dogters tree by geleentheid as fokalisators op.

Die gevolg is dat Die versoeking van Thomas Maas ’n veelkantige besinning oor verhoudings en verantwoordelikhede, die dun lyn tussen rasionaliteit en waansin, en die emosionele fasette van die huwelik word.

Chris Karsten se navorsing is omvattend en onberispelik, sy taalgebruik ’n vreugde en die vrae wat sy roman vra, uitdagend en interessant. Die versoeking van Thomas Maas is ’n roman wat die leser se aandag nie net enduit behou nie, maar dit ook dubbel en dwars beloon. Selfs Margaret Atwood sou beïndruk wees.

Thys Human is letterkundedosent aan die Noordwes-Universiteit.

Meer oor:  Chris Karsten  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.