Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kat en muis met die aard van spanning

Voëlvry deur Piet van Rooyen. Uitgewer: Penguin Random ­House. Prys: R180. Resensent: ­Deborah Steinmair

Voëlvry laat hierdie leser ongemaklik, met gemengde gevoelens. Bewondering is darem een van hulle.

Piet van Rooyen kán skryf. Daarvan getuig die pryse wat hy reeds gewen het. Maar ’n mens wil soms “hokaai!” roep. Daar is iets bombasties aan sy ongebreidelde verbositeit, iets gedateer. Dit, gemeng met ’n satiriese inslag, vervreem die leser, herinner aan Etienne Leroux op ’n afdag.

Daar is heelwat sprake van relaas, van narratief. Die skrywer konstateer feite en geskiedenis eerder as om die leser toe te laat om in die oomblik te wees en haar eie afleidings te maak. Hy vertel jou hóé iemand is.

Die roman speel grotendeels in Namibië af, ’n land wat aan die meeste van ons redelik onbekend is en wat vir ons ’n bekoring inhou. Die hoofkarakter, die Duitse swendelaar Hans Kramer, is die soort vent wat heerlik is om te haat, blinkstefaans, windmaker, gladdebek, grootwildjagter, rokjagter, dopsteker, manneman. Dis eers wanneer sy hellevaart begin, dat die leser wel simpatie ervaar vir die lang, skraal en blas krullebol in die sel van ’n kliptronk.

Hy het Afrika liefgekry en beskou dit as sy geestelike heimat, hy vereenselwig hom met die mense en loop later net so verflenter soos sy plaasarbeiders rond. Hy is die voëlvrye waarna die titel verwys. Hy skuil in Namibië nadat hy grootskaals bedrog in Duitsland gepleeg het. Almal eis sy kop.

Hans se eerste vrou, Gabriella, is lankmoedig en trots en sy bly hunker na Europa. Maar die eintlike held van die verhaal is ’n sterk vrou: Rachel da Silva. Sy is ’n selfgemaakte vrou wat haar uit armoede opgehef en in die regte gestudeer het.

Haar pa, ’n rebelleleier, is saam met Hans in die gevangenis. Sy besoek en versorg daagliks gevangenes en leer Hans só ken. Sy sien uiteindelik, raaiselagtig, kans om die afgetakelde Hans te red, selfs lief te hê. Sy is die ware verpersoonliking van die sterk land wat Hans liefkry.

Daar is lieflike gedeeltes wat die landskap helder voor die ­leser laat opspring. Wanneer ­Rachel in die tronkgang afstap te midde van die gekreun van terminale siekes: “Sy hoor hulle weeklag en haar gemoed raak vol deernis, vol heimwee. ’n Versugting namens hulle na die vroeër, ongekompliseerde jagtersbestaan op die vloedvlaktes van die Zambezi – riete wat wuif in die somerwind, astrant snuiwende buffels, lechwes in hul honderdtalle. Die sagte geruis van die magtige Zambezirivier, snags die sterre helder in die lugruim. Dis ’n tyd wat verby is. Die lewe is nou blote vierkant en beton.”

Die kat-en-muis-speletjie tussen die Namibiese en Duitse owerhede oor die skaakstuk Hans sorg vir spanning en ’n moord of wat word gepleeg. Daar is misdaad, persoonlike agendas, gekonkel, komplotte en skelmstreke. Daar is wraak, vergelding en wilde diere wat verskeur. Maar is dit ’n spanningsverhaal? Waar sal ’n mens dit indeel, wonder ek soos ’n vervaarde boekwinkelassistent. Daar is eggo’s van Die pelgrim se reis na die ewigheid en van Fanie se veldskooldae. Dis ’n spanningsverhaal wat mik na Groot Afrikaanse Roman. Daarom is Voëlvry myns insiens soms te groot vir sy skoene. Tussen die boom en die bas mag dit moontlik lesers van verskillende genres louwarm laat.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en vryskuttaalpraktisyn.

Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.