Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Katelknaap’ kom met die misreën

Dit word bemark as Leon van Nierop se ‘stomendste roman nóg’, maar hoewel ‘Katelknaap’ ’n sterk storie en sensuele sinne en beelde bevat, het dit die erotiekskrywer Annelise Erasmus ietwat onvervuld gelaat.

Katelknaap deur Leon van Nierop. Uitgewer: Umuzi. Prys: R220.

Leon van Nierop Foto: Joanne Olivier

Dit is ’n koel, bewolkte dag toe ek en Leon van Nierop se Katelknaap in die kooi klim. Die wolke hang al drie dae lank laag oor my dak sonder dat ’n enkele druppel reën val. Die belofte van vog wat eenvoudig nie ’n werklikheid word nie, laat ’n spanning opbou wat iewers in my lyf vassteek.

Dieselfde soort afwagting begin deur my sypel die oomblik toe ek die boek met die mooi jong man – Sean van Noordwyk van Getroud met rugby-faam het model gespeel – op sy balkon hoog bo Maboneng uit die pakkie haal. Woorde soos “stomendste roman nóg” skimp op klam blaaie en taai vingers, asof ek ’n tropiese sikloon in my hande hou en nie kan wag om daardeur weggevoer te word nie.

Ek was so oud soos Tristan, die beeldskone hoofkarakter in Katelknaap, toe ek ná skool so vinnig as moontlik by die huis wou kom om na Van Nierop se radiovervolgverhaal Wolwedans in die skemer te luister. Van toe af al is daar by my geen twyfel nie dat dié man kan skryf.

Ek fokus hier dus eerder op die beloofde “hitte” van die verhaal – voorspellings van reën, vog, dou, neerslag. Dit is presies in dié intieme, persoonlike, sensuele ruimte waar die skrywer én die leser vrygewig sowel as ontvanklik moet wees – dit is immers net wanneer dié twee partye se woordliggame een word dat die Katelknaap ’n orgasme uitgetoor kan kry. ’n Mens kan sê die skrywer en leser moet liefde maak, en dis hier waar dinge persoonlik en ingewikkeld raak.

Tristan, Johannesburg se suksesvolste gigolo, leer hoe om vroue te plesier. Om ’n vrou te bevredig wat nog nooit ’n orgasme ervaar het nie of wat sukkel om een te kry (die verhaal is vol van hulle), moet hy op háár fokus, want elke vrou se persoonlikheid, voorkeure, begeertes, probleme en liggaam verg ’n eiesoortige taktiek.

Terwyl die skrywer woorde soos ’n liggaam gebruik om sy lesers te verlei, maak die leser haarself daarvoor oop. Sy lê terug en gee haarself aan hom oor.

Net soos daar verskillende soorte reën is, is daar verskillende soorte seksuele prikkeling. Om kommentaar te lewer oor die “hittegraad” van ’n roman – iets wat intens subjektief is – verklap soms meer van die leser as van die skrywer.

Teen vieruur die middag is die wolke bo my huis byna swart. Elke nou en dan hoor jy donderweer dreun. Beloftes, beloftes. Ek is al halfpad met die boek. Wanneer gaan dit dan reën?

Vir hierdie leser val “seksuele skryfwerk” in drie kategorieë: Die eerste soort is ’n bui wat skielik uitsak uit ’n byna wolk­lose hemel – ’n jakkals-trou-met-wolf-se-vrou-soort ervaring, wat sommige pornografie sal noem. Die sekstoneel begin uit die bloute, sonder ’n duidelike aanloop, die leser gee nie eintlik om oor die karakters nie en die aksie is net so vinnig verby as wat dit begin het.

Veral aan die begin van Katelknaap is daar heelwat van hierdie soort tonele. Tristan dink byvoorbeeld terug aan seksuele ervarings wat hy in Positano gehad het of aan tonele saam met kliënte. Dalk lê die prikkelwaarde van hierdie soort tonele juis daarin dat hulle tussen die “normale” tonele verskyn, en dit is straks ook die rede waarom die effek van die toneel nie lank in jou liggaam talm nie.

Die tweede soort seksuele toneel is erotiek. Erotiek betrek al die sintuie én die intellek. Wanneer Tristan kaal op die mat lê om af te koel, en met sy vingers deur die bak vol albasters speel, is die toneel eroties. Die erotiese sekstoneel is soos ’n donderstorm wat opbou en jou oorweldig en deurdrenk. ’n Karakter in ’n erotiese toneel verander – en die leser saam met hom of haar. Erotiek maak van die sensuele en seksuele iets meer; dit gee seks as’t ware gees.

Katelknaap bevat beslis ook erotiese tonele. Wanneer Tristan uiteindelik gewys word wie hy is, word hy (en die vrou) vir daardie oomblik deur seks verander.

Die derde soort seksuele beskrywing is die romantiese toneel. Hierdie prikkeling is soos om in ’n mis­reëntjie te stap. Dis veilig, strelend, sag. Jy moet ver daarin stap voordat die vog jou vel bereik, en nóg verder om dit te deurdrenk.

Vir my slaag Katelknaap nie as ’n erotiese roman nie, al is die tema dikwels Tristan se lyf en ontwakende seksualiteit. Hy is te jonk om eroties te wees. Hy is vasgevang in kwessies wat eintlik min met die seksuele te doen het. Die roman bou wel op tot ’n klimaks, maar dis nie die soort klimaks waarna die leser sou uitsien wat ’n “stomendste nóg” boek gekoop het nie.

Die meeste vog kom in die vorm van misreën: Tristan gee vir die vroue romanse, woorde, vriendskap en orgasmes, maar dié wat die grootste indruk op hóm maak, is die vroue wat eerder vir hom iets gee.

Katelknaap handel oor ’n jong man wat homself probeer vind in ’n wêreld wat skoonheid wil besit asof dit ’n kommoditeit is, selfs wanneer dit ’n beeldskone man is. Dit is waar die krag van hierdie boek lê. Dit lê in Van Nierop se mooi sinne en beelde, dit lê in die donkerte waarteen Tristan veg en die hartseer wat hy moet verwerk. Katelknaap is ’n sensuele, intieme verhaal wat jou sal aangryp, maar nie noodwendig seksueel sal prikkel nie, want die liefde wat Tristan maak, is eintlik maar meestal met homself.

  • Annelise Erasmus is die skrywer van drie erotiese boeke en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.