Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Katvoet in die kuberruim

Die kuberruim is ’n mynveld waar digitale voetspore nooit uitgewis word nie, skryf Magdel Vorster na aanleiding van ’n nuwe selfhelpboek en ’n onlangse jeugroman.

Selfies, seksklets & slimfone: ’n Internet-oorlewingsgids vir tieners deur Emma Sadleir en Lizzie Harrison. Uitgewer: Lapa. Prys: R200.

Emma Sadleir, medeskrywer, meen Selfies, seksklets en slimfone moet as “die K53 van slimfoongebruik” beskou word – hiermee stem ek volmondig saam, veral nadat ek Jaco Jacobs se Afrikaanse vertaling gelees het.

Die boek is allesbehalwe ’n sedepreek en lees eerder soos ’n gemoedelike, maar ernstige gesprek tussen ’n tiener en ’n koel oom of tannie.

Sonder om doekies om te draai word jong lesers ingelig oor hul digitale voetspoor en die wetlike aspekte daaraan verbonde. Hulle word gewaarsku jy moet niks aanlyn plaas wat jy nie op ’n groot advertensiebord wil sien nie. Daar word verduidelik skermgrepe is gevaarlik en dieselfde wette wat in die alledaagse lewe geld, is ook op aanlyn aktiwiteite van toepassing. Met enige twiet of inskrywing wat geplaas word, word dus aangeneem die afsender het dit gelees en besluit om dit aan te stuur. Wanneer dit dan deur die volgende leser gedeel word, kan die deler ook verantwoordelik gehou word indien dit laster, teistering, haatspraak of fopnuus bevat.

Daar word ook uitvoerig aandag geskenk aan die invloed wat die internet op die geestesgesondheid van tieners kan hê met enigiets van kuberboelies, aanlyn peste en haatspraak tot fop­nuus en intellektuele eiendom wat bespreek word.

Dr. Lizzie Harrison, die ander skrywer wat in neuro-wetenskap spesialiseer, skryf insiggewend oor breinontwikkeling en geestesgesondheid. Benewens waarskuwings oor ’n oordosis blou lig word aktuele kwessies soos angs, selfskending, emosionele intelligensie en pornografie aangeraak.

Voor jy dus ’n slimfoon aan tieners oorhandig en hulle goedsmoeds begin foto’s neem en klets, moet jy hulle vra om tog eers dié boek te lees. Dit is beslis verpligte leesstof vir ouers – ek het baie geleer.

Veldiep deur Fanie Viljoen. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R175.

Fanie Viljoen se jeugroman Veldiep het verlede jaar verskyn, en betrek heelwat van Selfies, seksklets en slimfone se onderwerpe.

Tim is pas deur sy meisie afgesê en begin verwoed oefen en perdry om sy seer te verwerk. ’n Paar hoofstukke later ontmoet die leser (en Tim) vir Amber. Sy laai ’n “Is ek mooi?”-video op YouTube wat, voordat sy dit besef, ook na haar Facebook-blad en Twitter-profiel gedeel word.

Sy word met beledigings gebombardeer en onttrek haar van die samelewing.

Viljoen vertel ’n grootwordverhaal met tipiese tienerlewens, -verhoudings en ’n suggestie van romanse, maar betrek ook die slaggate van die sosiale media.

Tieners gebruik die sosiale media dikwels as ’n manier om êrens in te pas, maar weens die tipiese vergelykingskultuur daarvan kan hulle, soos Amber, die slagoffer van kuberboelies word wat hul gesonde selfbeeld kan verwoes. Kuberboelies kan ook iemand se reputasie vernietig en die daaropvolgende sosiale verwerping kan slagoffers tot afsondering, depressie of erger dinge dryf.

Soos in Vlerke vir almal waarmee Marion Erskine verlede jaar met ’n ATKV-Woordveertjie beloon is, fokus Viljoen nie net op kuberboelies nie. Tradisionele boelies kom ook onder die vergrootglas. Chantel, wat ook perdry en by Tim aanlê, speel soos Aldi in Erskine se verhaal ’n meer tradisionele boelierol.

Ondanks die ernstige onderwerpe is Veldiep toeganklike leesstof wat belangrike boodskappe oordra sonder om te wroeg of moraliseer. Die storie word in 39 kort hoofstukke vertel met slim titels soos “Moenie nader kom nie” en “Iewers in die wêreld breek ’n hart flenters”.

Die karakters is geloofwaardig. Tieners van 14 en ouer sal met hulle identifiseer. Soos Tim in een van sy aandkuiers met Amber sê: “Almal het ’n storie.”

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinder-bibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Fanie Viljoen  |  Resensies  |  Selfies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.