Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kemp betree binnekamer van geweld in jongste roman
Theo Kemp

In die wagarea van die Pollsmoor-tronk staan ’n wit, middeljarige man met sy Wooliessakkie waarin ’n Griekse slaai is. Hy wag sy besoekbeurt af.

Só begin Theo Kemp se roman Strafjaart, wat die leser midde die verskrikking en vervreemding van ’n tronklewe plaas. Laetitia Pople het met hom gesels.

Vroeg in 2015 het ’n familielid van die skrywer Theo Kemp in die Pollsmoor-tronk in Kaapstad beland. Sy besoeke aan haar het hom so oorweldig dat hy die pen opgeneem het.

In Strafjaart belig hy die lewe in die tronk – van die gevangenes en hul families. Die stories kring verder uit as die tronkmure waar die gevangenes hul straf uitdien. Van dié geweldstories ontspoor en kruis paaie met die hoofkarakter se lewe op ’n dorpie in die Swartland waar hy en sy vrou wag op die geboorte van hul eerste kind.

Sy gereelde besoeke het tot ’n herontdekking van hierdie familielid gelei – iemand wat op ’n tyd na aan hom was, maar dit het ook tot groot selfkonflik gelei, vertel hy.

“Jy het soveel verwikkelde vrae rondom jou herkoms; jou gevoel van meerderwaardigheid – die idee dat ‘ons familie hoort nie in Pollsmoor nie, dat ons verhewe is bo dié tipe straf’.”

Geen diktafoon of notaboek is in die tronk toegelaat nie. Hy moes sy waarnemings verskerp en het als neergeskryf in die gevangenis se parkeerarea ná die besoek.

“Dit het ’n dagboek van my ervaring en selfrefleksies geword – die ervaringe het my emosioneel aan die gorrel beetgehad. Daar was geen omdraaikans nie, ek moes hierdie onverklaarbaarheid neerskryf.”

Pollsmoor was vir hom ’n plek van vervreemding, vreemd weggesteek in Tokai, ’n gegoede buurt naby aan ryk wynplase, asof dit ’n nare geheim is.

“Jy gaan met gespitste sintuie in. Dit het my gehelp om met ingeprente beelde die omgewing te kon beskryf. Mense het my vinnig herken omdat ek so uitstaan – ’n wit, middeljarige man met sy Wooliessakkie. Jy leer baie mense ken in die wagtyd – ure der ure – voor die tronk, voor jy jou 30 minute kry. Dit is asof jy deel word van ’n subkultuur – die mense wat met moeite die gestrafdes kom besoek.”

Die omslag van Theo Kemp se roman Strafjaart.

Die kinders op die besoekers se knieë of aan hul sy, wat vir hul mense in die tronk kom kuier het, het hom diep ontroer.

“Ek het getuie geword van ontbering en trauma. Mense reik uit na jou in sulke omstandighede van totale ontwrigting.”

In die roman word die navorser met geweld gedreig deur ’n karakter wat glo dit is nie sy plek of sy reg om hul stories te vertel nie. “Ek wou die problematiek rondom kulturele toeëiening takel, juis omdat ek dit so aan my eie bas gevoel het. Die lewens van mense, ver buite jou dorpsmure, word jou storie. Ons het eintlik ’n plig om mekaar se stories te vertel om deur die grense te breek. Dit is al hoe ons mekaar gaan leer ken.”

Hy het die navorsing anders aangepak as met Skool, sy eerste roman. Hy wou nie korrektiewe dienste aanvat nie, maar hom eerder ingooi in die rou ervaringe. Eers later het hy opgelees oor konsepte soos rehabilitasie en straf.

“Die moeilike ding is dat jy mense ontmoet wat hulle stories met jou deel, maar dan sien jy hulle nie weer nie. Dit was goeie kompos vir my verbeelding, so het ek begin stories opmaak. Wat sal gebeur as ek in hierdie en daardie se huis beland? As iemand, wie se verwysingsraam so verskil van myne, skielik in my beskermde omgewing geplaas word?”

Hy is nog nie bereid om blote fiksie te skryf nie, en weet nie of hy ooit sal kan nie. “Ek het hierdie ding oor die waarheid, oor die werklikheid soos ek dit afgeloer kan kry. Ek wil die leser ook hou by hierdie greep werklikheid waarvan ons nie kan of moet wegskram nie. Maar ek het die vernislaag van fiksie dikker geverf oor die niefiksie. Ek het my verbeelding vrye teuels gegee om daardie donker kolle in te kleur wat ek nie gesien kon kry nie.”

Die hoofkarakter is ’n navorser wat nalees oor skepe wat vergaan het aan die Suid-Afrikaanse kus, die belofte van ontdekkings, ’n nuwe wêreld, is dié seevaarders nie gegun nie. M, die navorser se vrou sukkel met ’n moeilike swangerskap – daar is die angs en vreugde wat die koms van nuwe lewe bring.

“Ons leef in ’n land waar die diskoers oorheers word deur die enkele vraag oor wie tot hierdie stuk aarde behoort en wie nie. Wat sou gebeur het as die oseaan sy sin gekry het en al die skepe laat sink het, ’n paar seemyle van die kus? Sou Suid-Afrika dan gespaar gewees het van hierdie voortdurende konflik tussen wit en swart, die wat reeds hier was en die wat van buite ingekom het? Hierdie land laat haar nie heeltemal ontdek nie. Dit bly moeilik om heeltemal voet aan wal te sit.”

As Suid-Afrikaners probeer ons die geskiedenis oor en oor verstaan, maar ons het ook ’n swanger hoop op vryheid wat ons onsself wysgemaak het, sal gebeur, meen Kemp.

“Ons het hierdie een ding wat ons almal bind: ons hoop. Niemand het nog die argument verloor nie, en niemand het nog heeltemal moed verloor nie. Ons kyk nog uit vir daardie skip wat vir ons almal gaan inkom.”

Die grootste vraag waarmee hy in die skryfproses geworstel het, is of mense meer as een kans verdien as hulle aan ander onherroeplike leed aangedoen het.

“Terwyl ek besig was om rehabilitasie-groepe met geharde misdadigers in Pollsmoor by te woon, terwyl ek niewinsgewende organisasies leer ken het wat uitnemende werk doen in die veld van ‘restorative justice’, het iets skrikwekkend gebeur in die dorp waar ek en my gesin gewoon het. Dit het noodwendig die boek ’n draai laat neem wat ek nie voorsien het nie.”

Hy het dit uitgespeel in die hoopvolle ouerpaar, Edith en Charlie, se lewens. “Moes hulle eerder moed opgegee het op hulle skuldige seun? Moes Esmarie, die biblioteektannie op die dorp, dan nooit kwesbare mense gehelp het nie? Hoe genees ons dan ooit van verlies? Ek ken nie die antwoorde hierop nie, deur die karakters het ek die binnekamers van geweld geskets. Dit is ontsettend om eerstehands te kon beleef wat ’n stryd dit is vir geweldenaars wat probeer om die ketting van geweld te breek. Dit stel die vraag na slagofferskap voorop.”

Nelson Mandela se woorde in sy outobiografie Long Walk to Freedom was deurentyd vir hom ’n soort kompas: “A nation should not be judged by how it treats its highest citizens but its lowest ones.”

“Ek het besef dat ek die boek skryf om nogmaals te besef wat aangaan in ons land. Ek het Pollsmoor beloer soos ’n mens ’n visbak ondersoek om te verstaan wat aan die gang is in die oseaan. Ons gaan veel later eers die impak besef wat iets soos die oopvlekking van korrupsie deur die Zondo-kommissie op ons het. Ons is verlam oor die verrotting van ons regering. Hoe moet skrywers en kunstenaars, wie se werk dit is om ’n spieël op te hou, dit uithou? Ons het nie behoorlik tyd vir interpretasie nie, die branders bly onverpoos breek. Tog sal die land my aan die skryf hou om so tot verhaal te kom.”

*Strafjaart word uitgegee deur Penguin.

Meer oor:  Pollsmoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.