Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kinderboek breek lansie vir nuuskierige kinders

’n Kinderboek oor ’n weetgierige meisie wat dag in en dag uit vrae vra, hoop om kritiese denke onder kinders aan te wakker – en ouer lesers daaraan te herinner om nie nuuskierige woelwaters stil te maak nie.

Die meisie met 21 vrae deur Boitumelo Mothupi fokus op die jong Mathelane wat pal wil weet hoekom daar kolle op die maan is, of voëls ore het, en waarom sy ’n skaduwee het.

Sy irriteer haar familie en vriende só met dié vrae dat hulle begin om hulle van haar af te sluit en sy gedwing word om haarself in boeke te verdiep om die antwoorde op haar vrae te kry.

Dít baan dan die weg tot ’n toekoms wat nie eens sy kon voorspel nie – en tot voordeel is van almal wat haar voorheen verstoot het.

Mothupi, ’n heeltydse onderwyseres vir gr. 9-, 10- en 11-leerlinge aan die N.R. Mandela Commercial Secondary School in Lehurutshe in Noordwes, sê haar debuut is losweg gegrond op die pad wat sy self van ywerige leser tot opvoeder en skrywer moes stap.

“Ek het as kind alles van kinderboeke en romans tot tydskrifte en godsdiensboeke gelees – enigiets waarop ek my hande kon kry. Lees was nog altyd natuurlik vir my en ek sou eerder lees as om met my vriende te kuier. Ek sou myself selfs in ’n kamer toesluit sodat ek sonder steurnisse kon lees.

“Hoe meer ek gelees het, hoe groter het my belangstelling in skryf geword. My leeswerk het my skryfwerk geïnspireer, en ek het navorsing gedoen om die basiese aspekte van skryf baas te raak.”

Hoewel sy ’n liefde vir lees en skryf gehad het, het sy ’n loopbaan as onderwyseres nagejaag sodat sy self ’n hand in die ontwikkeling van kinders se lees- en skryfvaardighede, asook hul kritiese denke, kan hê. Dít probeer sy ook nou met Die meisie met 21 vrae doen.

“Ek het die storie geskryf om die gebrek aan kritiese denkvaardighede aan te spreek wat so volop in gemeenskappe, skole en kerke is,” sê sy.

“Ons kry in alledaagse sosiale kontekste kennis en inligting wat ons gereeld nie mag bevraagteken of kritiseer nie. Wanneer ’n kind nuuskierig en dapper genoeg is om kennis en idees wat normaalweg as die waarheid aanvaar word, te bevraagteken, word die kind deur die samelewing aangeval en stilgemaak in ’n poging om hulle as ‘normaal’ te brandmerk.

“Ek wou daarom ’n storie skryf wat ’n lig skyn op nuuskierige jongelinge – ek was eens een – sodat ouers hulle beter kan verstaan en hulle hul kinders hopelik kan help om met onafhanklike lees en navorsing te groei en daardeur hul volle potensiaal kan bereik.”

Boitumelo Mothupi Foto: Verskaf

Dit is egter nie maklik om ’n liefde vir lees by kinders te kweek nie.

“Dit is belangrik om opsetlik ’n gewoonte van lees by die huis te maak,” raai Mothupi aan.

“Lees vir jou kinders – en hulle moet ook sien dat jy as ouer lees. Koop ook lukraak boeke, ook vir spesiale geleenthede.

“Ek maak met my kinders ’n punt daarvan om daagliks vir hulle te lees en dit ’n norm te maak – hulle bring vir my ’n boek om te lees, al is ek moeg.

“Maak dit (lees) ook pret: Vra vir hulle vrae, praat oor die prentjies in die boek, laat hulle toe om prentjies uit te wys sodat hulle nie net luister nie maar ook in die storie betrokke raak.”

Die meisie met 21 vrae is in vier tale uitgereik – Afrikaans, Engels, Setswana en Zoeloe – sodat dit kinders oor talle kulture, rasse en tale heen ’n perspektief anders as hul eie kan gee, sê Mothupi.

“Dit gee kinders die geleentheid om te leer hoe verskillende kulture en agtergronde geïntegreer is om die wêreld te skep waarin ons woon.

“Die boek benadruk ook die belang van harde werk, om te glo in jouself, en om nooit op te gee nie, wat ek hoop ’n groot les is wat jongelinge sal onthou wanneer hulle ouer word.”

  • Die meisie met 21 vrae is deur Pan Macmillan Suid-Afrika uitgegee. Subi Bosa het die illustrasies geteken en Jaco Jacobs die Afrikaanse vertaling behartig. Dit word in Mothupi se woorde aanbeveel aan kinders “van drie tot 88 jaar oud”.
Meer oor:  Jaco Jacobs  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.