Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kinders kan aanlyn stories, aktiwiteite geniet

Kinders van vyf tot agt jaar kan die volgende twee weke soggens na aanlyn boekvoorlesings luister wat deur die Centurion Hospice en NB-Uitgewers aangebied word.

Dit begin Dinsdag op die Centurion Hospice se Facebook-blad en kinders van oor die land kan hieraan deelneem.

Dit word gratis aangebied, maar donasies is welkom.

Bennie Boekwurm se mooiste sprokies deur Louise Smit.

Mense kan ook een van die boeke wat voorgelees word, by die Centurion Hospice se boekwinkel koop. ’n Deel van die boekverkope gaan ook aan die Hospice geskenk word.

NB-Uitgewers, wat dié jaar verskeie nuwe kinderboeke uitreik, snoer met die Centurion Hospice kragte saam.

Lees is beslis ’n tydverdryf wat meer aandag van ouers en kinders in die staat van inperking geniet, sê Henk Viljoen, streekverkoopsbestuurder van NB-skole.

“Ouers besef die waarde van lees en die genot wat leersame stories aan kinders verskaf. Selfs al kon nuwe boeke nie aangekoop word nie, is beskikbare boeke afgestof en weer gelees. Nou skep ons egter die geleentheid vir kinders om met nuwe stories vermaak te word.”

Die boeke wat voorgelees word, sluit in Ouma Hester en die getaway kar deur Janie Oosthuizen, Liewe Heksie deur Verna Vels, It’s Jamela deur Niki Daly en Speurhond Willem in New York deur Elizabeth Wasserman.

“Klassieke en hedendaagse titels waarby oud en jonk van enige geslag aanklink sal vind, is vir hierdie opwindende projek gekies. Storievertel is beslis ’n feestelike familie-aktiwiteit,” sê Viljoen.

Ouma Hester en die getaway-kar deur Janie Oosthuizen.

Die boekvoorlesings gaan op ’n kreatiewe, opvoedkundige en vermaaklike manier aangebied word. Elke boekvoorlesing gaan gepaard met ’n aktiwiteit.

Die voorlesings word om die beurt in Engels en Afrikaans gedoen.

“Eerstens gaan ons die boekomslag bekyk en bespreek deur te probeer voorspel wat alles in die storie kan gebeur. Dan gaan ons gedeeltes lees, bespreek en selfs woordeskat uitbrei. Natuurlik sal ’n mens ook dink oor wat die skrywer eintlik wil sê . . . Ons vertrou hierdie boekvoorlesings sal ouers en kinders se liefde vir lees opnuut aanwakker,” sê Viljoen.

Die voorlesers sluit in die sanger en omroeper Riaan Grobler en Viljoen, ook ’n skrywer van skoolhandboeke.

“Ons gaan ook ons kreatiewe personeel inspan om van die voorlesings te doen,” sê Annette Reed, die algemene bestuurder van die Centurion Hospice.

Volgens Reed is die Centurion Hospice se Legacy-boekwinkel bekend vir sy wye verskeidenheid boeke.

“Ons is die enigste nie-regeringsorganisasie in die land wat kinderweek op dié manier vier. NB-Uitgewers en die Centurion Hospice is die perfekte vennote omdat ons geesdriftig daaroor voel om kinders te laat lees. My filosofie is dat verbeelding nie ingeperk kan word nie,” sê Reed.

Hou elke dag die Centurion Hospice se Facebook-blad dop waar die storie en die aktiwiteite van die dag bekend gemaak word. Daar gaan ook interessante feite oor die skrywers en die boeke geplaas word. Die aktiwiteite wat die boek vergesel en die benodigdhede word ’n dag voor die tyd op die blad geplaas.

* Die voorlesings word elke dag van 10:30 tot 11:00 op die Centurion Hospice se Facebook-blad aangebied.

Meer oor:  Nb-Uitgewers  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.