Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kinders teken prente vir Rowling se kinderboek

Die wêreldberoemde skrywer J.K. Rowling se nuwe boek verskyn amper in Afrikaans, en op die bladsye pronk illustrasies wat deur laerskoolkinders van Kaapstad en Wellington geteken is.

Rowling het ontluikende kunstenaars plaaslik en internasionaal tussen 7 en 12 jaar oud genooi om haar nuwe boek, Die Ickabog, te illustreer en die illustrasie v van Mialé Bindeman, ’n gr. 6-leerling van die Hugenote Laerskool, is een van die 34 wat gekies is om in die Afrikaanse boek te verskyn.

Die werk van vier leerlinge van die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, Elsabé Scholtz en Milla Joubert in gr. 5, asook Lara Pieterse en Kate Heyns in gr. 6, sal ook in die boek te sien wees.

Ander wenners kom van onder meer Bloemfontein en Pretoria. Hul sketse is uit ongeveer 300 inskrywings van kinders landwyd gekies.

Mialé Bindeman hou haar tekening vas. By haar staan Lara van Rooyen, onderwyseres van die Hugenote Laerskool in Wellington. Foto: Verskaf

Volgens die webtuiste van Lapa Uitgewers, wat Rowling se boek in Afrikaans uitgee, was die gehalte, veelsydigheid en vindingrykheid van die illustrasies van ’n baie hoë gehalte.

Die gedrukte boek sal na verwagting teen die einde van November op die rakke wees.

Mialé sê al het dié prestasie nog nie heeltemal by haar ingesink nie, was dit vir haar heerlik om aan die kompetisie deel te neem, lui ’n verklaring van die Hugenote Laerskool.

“Ons juffrou Lara van Rooyen het vir ons uit Die Ickabog voorgelees en ons moes ’n prent teken wat by elke hoofstuk pas.

“My prent van ’n koets en perd is uiteindelik vir die boek gekies. Ek kan dit regtig nie glo nie. Ek is so dankbaar vir ons skool en vir juffrou Lara wat vir ons die geleentheid gee om aan sulke goed deel te neem,” het sy gesê.

Dit was Van Rooyen, wat gr. 6 Afrikaans aanbied, se plan om haar leerlinge te laat deelneem aan die nasionale kompetisie gedurende die inperking, aangesien hulle met hul skoolwerk bygehou het.

“Om jou eie illustrasie in een van J.K. Rowling se boeke gepubliseer te kry, is ’n baie groot eer,” sê Van Rooyen. “Daarby kon ons R5 000 se leesboeke of kunsapparaat vir die skool wen.”

Die skets wat Milla Joubert, ’n gr. 5-leerling van die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, gemaak het. Foto: Verskaf
Dit is die skets wat Katie Heyns, ’n gr. 6-leerling van die Laerskool Jan van Riebeeck, gemaak het. Foto: Verskaf
Lara Pieterse, ook in gr. 6 in die Laerskool Jan van Riebeeck, het hierdie tekening gemaak. Foto: Verskaf
Elsabé Scholtz, gr. 5-leerling van die Laerskool Jan van Riebeeck, se skets. Foto: Verskaf

Die Hugenote Laerskool het ook dié groot prys met sy inskrywings losgeslaan.

“Ek was skoon in trane van trots. Ek is só opgewonde vir Mialé. Dink net, dit gaan vir ewig daar wees! Dit is natuurlik iets wat sy nooit sal vergeet nie,” sê sy in die verklaring.

Rentia van der Merwe, ’n kunsonderwyser van die Laerskool Jan van Riebeeck, sê sy bars ook van trots omdat vier van die skool se leerlinge wie se werk vir ewig in ’n boek vasgevang word.

Die skool sal ook sy eie kopie van die boek kry om ander kinders te inspireer, sê Van der Merwe.

Rowling skryf op die boek se webtuiste dat sy die inspirasie vir Die Ickabog lank gelede reeds gehad het en dit saans vir haar twee jonger kinders voorgelees het.

“Maar toe dit tyd word om dit te publiseer, het ek besluit om eerder boeke vir grootmense te skryf. Dit is hoe Die Ickabog bo in my solder beland het. Ek het met ander dinge besig geraak, al het ek baie van die storie gehou.

“Toe kom die inperking. Dit is veral vir kinders moeilik, daarom het ek Die Ickabog op die solder gaan haal en dit ná jare weer gelees, hier en daar stukkies oorgeskryf en dit toe van voor af vir my kinders gelees. Hulle het gesê ek moet van die stukkies waarvan hulle gehou het toe hulle klein was weer terugsit, en hier is dit nou!

“Dit is nie Harry Potter nie, en daar is geen towerkuns nie. Dis ’n heeltemal ander storie,” sê sy.

Die opwindendste deel van die projek vir Rowling was om al die wonderlike illustrasies te sien inkom. “Ek wil elke kind (en af ??en toe ’n volwassene) bedank wat tekeninge vir die illustrasiekompetisie ingestuur het. Om deur die kunswerke te kyk, was ’n vreugde.”

Rowling het nie persoonlik die wen-tekeninge gekies nie en het dit aan die uitgewers in die verskillende lande oorgelaat.

“Ek gaan my skrywersgeld skenk om mense wat deur die koronavirus geraak is te help,” sê Rowling.

• Kyk na die wen-tekeninge in Suid-Afrika en in Amerika.

Meer oor:  J.K. Rowling  |  Kinderboek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.