Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kinderskrywers gee leeswenke vir ouers
Die Bloemfonteinse kinderboekskrywer Jaco Jacobs lees ’n gedig voor gedurende Skemerstories, ’n geleentheid vir vroue, Vrydagaand by die Willem Postma Primêre Skool in Bloemfontein. Langs hom sit Antjie Krog, wat ook uit haar kinderboeke voorgelees het. Foto: Cheréne Pienaar

Jaco Jacobs en Antjie Krog het Vrydagaand by Skemerstories, ’n geleentheid vir vroue by die Willem Postma Primêre Skool in Bloemfontein, praktiese raad gedeel om kinders aan die lees te kry.

Ouers, maar veral pa’s, kan die sterkste voorbeeld stel om kinders aan die lees te kry, sê Jacobs, bekende kinderboekskrywer.

Hy is al oor dié stelling gekritiseer omdat dit “seksisties” is. Maar hy het juis ’n probleem daarmee dat lees gesien word as ’n vroulike aktiwiteit.

“En ons maak ons kinders so groot. Ons moet van hierdie stereotipering ontslae raak.”

Al is dit net ’n pa wat die koerant sit en lees – net die feit dat ’n man dit doen vir ontspanning is vir ’n seun die beste rolmodel wat daar is, sê hy.

Hy het dié wenke gegee na aanleiding van navorsing soos die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) wat bevind het Suid-Afrika se gr. 4-leerlinge se geletterdheid die swakste van 50 Afrikalande is.

78% van die Suid-Afrikaanse gr. 4’s in hierdie studie het onder die heel laagste geletterdheidsvlak gelê.

Dié soort navorsing, sê hy, is vir hom ’n persoonlike aanklag.

Kinders hoef nie net fiksie te lees nie en dit gaan nie oor dik storieboeke nie.

Jacobs sê raadop ouers moet hul kinders blootstel aan verskillende genres sodat die leesgogga kan byt.

“Partykeer is kinders net nie lief vir fiksie nie. As jy ’n seuntjie het wat nie lees nie, maar hy is mal oor trekkers, vaar die boekwinkels of biblioteek in en gaan soek Afrikaanse boeke oor trekkers!”

Kinders se skedules raak al hoe erger en digitale media kortwiek ook ’n liefde vir lees.

“Jy kan óf tou opgooi, óf jy kan besluit om daarby aan te sluit en kyk wat jy daarmee kan doen.”

Hy het die uitleg van sy boeke om dié rede begin aanpas om groot brokke teks op te breek. Suurlemoen! is so ’n boek met illustrasies tussen die teks om die leser se aandag te behou.

Krog, wat in Bloemfontein studeer het en in Kroonstad in die Vrystaat skoolgegee het, het voorgelees uit haar kinderboeke Fynbos Feetjies en Mankepank en ander verse.

“As ek net een ding kan neerlê vir jong mammas, is dit die absolute kernbelang vir ritme en rym vir ’n klein kind.”

Sy het na die voordele van die ritmiese proses verwys.

“Rudolf Steiner sê rym bring innerlike sterkte wat belangrik is vir die kind se ‘toekomstige siel’. Hy sê jy maak jou kind moreel sterk deur vir die kind te leer dat ritme binne hom- of haarself vibreer.

“Dit klink vreemd, want soms is die woorde wat rym nie maklik verstaanbaar nie. Maar die ritme en herhaling wat binne die liggaam begin plaasvind, bring ’n gesonde, sirkulerende ruimte van asemhaling wat die kind kalmeer en die immuunsisteem vestig.”

Marcia van der Merwe, Vrystaatse kunstenaar, se olieverfskilderye, waarvan talle geskoei is op Krog se poësie soos “Antjie Somers”, is later die aand opgeveil ten bate van die laerskool.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Jaco Jacobs  |  Boeke  |  Lees  |  Ouers  |  Leeswenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.