Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Kinnes’ vat Small se fakkel verder

Kaapse Afrikaans was dekades lank in ’n benoude ‘taalboksie’ vasgedruk, maar Chase Rhys skop dit met sy novelle ‘Kinnes’ met mening oop, skryf Valda Jansen.

Kinnes deur Chase Rhys. Uitgewer: Kwela. Prys: R220.

Eers was daar Adam Small, toe Nathan Trantraal, en nou is daar Chase Rhys, wat in 2017 met die Adam en Rosalie Small-prys vir debuutskrywers bekroon is.

Die Kaapse Afrikaans waarvoor dié skrywers bekend is, beleef tans ’n bloeitydperk op verskeie platforms – van boeke en flieks tot TV-reekse, soos Suidooster en Arendsvlei. Hierdie “aura van toegeneentheid en verdraagsaamheid” gee die taal én skrywers die selfvertroue om nóg werk te produseer en die boksie waarin Kaaps dekades lank ingeperk is, stadig maar seker van binne af oop te trap. Trouens, met Kinnes skop Rhys dit sommer met méning oop.

Soms lees ek boeke van agter af voor ek by die begin begin. Anders as so baie skrywers wat aan die einde amper almal bedank wat hulle ken, begin Rhys sy kort bedankingslys met die woorde: “My ma en pa was sestien jaar oud toe ek gebore is; om ’n kind van kinnes te wies was moeilik. Deur alles wat ôs deurgaan, sê my ma altyd vi my: ‘It’s all for your book.’ ”

Rhys gebruik dié biografiese gegewe as basis van die storie wat om vier hoofkarakters – die kinders van die titel – ontvou: Derick Delcame en Nicole Lamb is omtrent dieselfde ouderdom wanneer húlle swanger raak; Anwaar “Ahnie” Brandt is die leier van die Butcher Boys-bende, wat aanvanklik net so snaaks en vermaaklik is soos Rolanda Fischer, wat van ’n weelderige Cape Kardashian-lewe droom. Tussendeur vleg die skrywer verskeie ander aspekte van die ongenaakbare bestaan op die Kaapse Vlakte: bendes en kinders wat in hul spervuur beland, dwelmhandel en -misbruik, tienerswangerskap, misdaad, korrupsie, afwesige pa’s, ma’s wat anderpad kyk . . .

Kinnes speel af binne dié wêreld met ironies mooiklinkende buurtname soos Ocean View (waar Rhys grootgeword het) en Lavender Hill. Hierop lewer Rhys wrang kommentaar deur dit in sy novelle tot Jurassic Park te herdoop.

Hy hoef in niemand se skadu te staan nie; hy staan in sy eie waarheid.

Die boek is kreatief en slim geskryf en die karakters praat direk met die leser. Aan die begin lag jy vir die storie wat ontvou, maar gaandeweg kom ’n gevoel van naderende onheil. Wát gaan gebeur?

Ongeveer in die middel van die novelle verskuif die leser se empatie weg van Ahnie en sy omstandighede na sy slagoffers. Op bl. 109 en 110 vertel Ahnie hoe hy en sy bende op ’n trein klim om hul eerste fliek te skiet: “Ôsse eeste video was van dai man innie first-class carriage. Ja, dai ou mettie skateboard ennie man-bun wat getjank het toe ôs sy watch afvat: ‘Dis my pappa se horlosie, asseblief, dis my pawpaw se hoorlooossiiiiieeee.’ Kak funny!”

Die meedoënloosheid en genot waarmee hulle hierdie selfopgelegde taak uitvoer, tref die leser in die maag. Van hier af versnel sake en Ahnie is nie meer nét snaaks nie, maar word hard en ongenaakbaar. Of soos Rhys dit by die bekendstelling van die boek in Kaapstad gestel het: “Aan die begin praat Ahnie ’n beskaafde Afrikaans, maar sy taal verword soos hý verword; hy word monsteragtig. Die boek se slotwoorde waarmee hy vroue attack en die matriarchal society aanval, kom as ’n skok vir die leser.”

Alles wat die lewe Rhys op ’n lendelam geroeste skinkbord aanbied, vat hy en maak kuns daaruit, net soos die Derick-karakter wat in ’n vullisblik krap op soek na iets om op te skryf. Nicole vertel op bl. 44: “Derick het vir my gesê hy was nog ’n laaitie toe hy besef het as hy skryf dan disappear hy. ‘I can feel relief. Maakie saak wat gan an daabyte nie, wanne ek skryf, voel ek safe. I can rest on the page.’ ”

In die Kaap kry ’n mens ná partytjies ’n bordjie barakat, oorskiet-eetgoed om huis toe te neem. Kom skep vir jou ’n bordjie, sê die vrou van die huis.

“Come!” skryf Derick agterop ’n sigaretboks (bl. 45). “Come dish you a plate. Skep vir jou nog vannie pain, is Divine!”

By die bekendstelling by die Book Lounge het Rhys hierdie gedig vermaaklik voorgedra – tot hy gekom het by “Divine Ocean View” en die emosie dik in sy keel kom sit het. Tog het hy hortend voortgegaan:

Divine Atlantis.

Divine Eerste Rivier.

Divine Retreat.

Divine Delft.

Divine Lavender Hill.

Bloederige barakat.

Kô ek sit gou ’n stuk suffering in ’n Tupperware

vi jou take-away.

Nie almal wat in Kaaps skryf, is goeie skrywers nie, maar Chase Rhys is een van die uitsonderings. Hy hoef in niemand se skadu te staan nie; hy staan in sy eie waarheid en sy eie lig.

Vir my is dit asof Adam Small oor sy skouer loer, maar nié om toesig te hou nie. Small is in die skaduwee; hy het die fakkel aangegee en hierdie talentvolle jong skrywer lóóp daarmee.

“Die feit dat Small destyds oor kwessies geskryf het waaroor ek vandág nog skryf, is net ’n testament vir hoe chronic die problems in die gemeenskap is,” het Rhys by die bekendstelling gesê.

Die sensitiewe Derick met die hart van ’n skrywer word gedwing om vir ’n dwelmbaas te gaan werk om vir sy kind te kan sorg. Eers toe hy hom van hulle losgemaak het, het hy weer vrede in sy hart gehad. Van die mooiste oomblikke is dié van die jong pa Derick met sy baba, Dejah, soos op bl. 162: “Ek lê oppie couch en lat vi haa op my bôs lê. Sy raak op my hart annie slaap . . . Ek praat toe, but ek wietie met wie nie. Ek sê: ‘This. Ek wil meer van dié het, asseblief.’ Toe val ek annie slaap.”

Kinnes is goed afgerond, weldeurdag, hartseer, snaaks, bekend, onthutsend. Ek hoop van harte hierdie boek word vir hoërskoolleerlinge voorgeskryf.

Net met die skrýf van Kanna en sy ander werke – met die audacity daarvan – het Adam Small die fakkel aangegee, net soos Rhys met die skryf van Kinnes óók die fakkel aangee. Dit is ’n fakkel wat sê: Wees jouself. Skryf oor jouself. Kyk om jou en wees die skrywer wat jy graag wil lees.

* Die verhoogproduksie van Kinnes met regie deur Hennie van Greunen is nog tot  17 November in die Kunstekaap-arena in Kaapstad op die planke. Bespreek by Computicket.

  • Valda Jansen is ’n skrywer en vryskutjoernalis van Kaapstad.
Meer oor:  Chase Rhys  |  Resensie  |  Kinnes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.