Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Klassieke invloed tot vandag toe deurgetrek

South Africa, Greece, Rome: Classical Confrontations

Grant Parker (red.)

CAMBRIDGE UNIVERSITY PRESS, R350

Niefiksie

Foto:

In die huidige atmosfeer van dekolonisasie kan tereg gevra word hoe ’n boek oor die invloed van die antieke Griekse en Romeinse kulture op Suid-Afrika enigsins relevant kan wees. Die vraag is: Hoe raak Griekeland en Rome die gemiddelde Suid-Afrikaner in 2018?

Benewens Parker se grondige inleiding, word 17 hoofstukke in ses afdelings ingedeel, wat onderwerpe soos argitektuur, politiek, regspleging, ideologie, kunsversameling, drama en veel meer dek. Die gemeenskaplike leitmotief kan opgesom word as die invloed van die Klassieke op mense wat op hul beurt ’n groot invloed op die Suid-Afrikaanse samelewing uitgeoefen het.

Parker het byvoorbeeld moeite gedoen om uiteenlopende rolspelers in die 1990-’94- oorgangstydperk te raadpleeg en vertel onderhoudend (met FW de Klerk as bron) hoe ’n besonder taai onderhandelingsgeleentheid as ’t ware ontlont is toe Chris Hani en Pallo Jordan van ANC-kant en Gerrit Viljoen van die Nasionaliste tydens ’n teepouse hul gemeenskaplike belangstelling in die antieke Griekse drama Philoktetes van So­phokles ontdek het. Tog bly lesers se vraag miskien steeds: hoe raak dit ons?

Met die eerste oogopslag wonder ’n mens reeds oor die foto van bontgeklede swart Suid-Afrikaners op die stofomslag. Hoe kan dít “Klassiek” wees? Maar dit is: jong, swart akteurs het in 2005 die koor in The Birds in Roy Sargeant se opvoering van ­dié Griekse komedie in die opelug-“amfi­teater” in Kirstenbosch uitgemaak. Die jong akteurs staan midde-in die antieke Griekse tradisie met hul voëlsnawel-“maskers.”

Sargeant beskryf die opvoering in Hoofstuk 16, in die laaste afdeling van die boek getiteld “After Apartheid”. Soos die antieke Grieke het Kaapse gehore dit geniet om ’n dramaopvoering vroegoggend by te woon; te sien hoe natuurlike sonlig en vlietende skaduwees ’n ander dimensie daaraan gee. Gehore kon ook in vorige dramaseisoene ervaar hoe die antieke gebruik van tragiese maskers ’n element van tydlose universaliteit gee aan twee ernstige Griekse tragedies.

Die tweede hoofstuk in hierdie afdeling wys hoe direk die ewig menslike dilemmas wat deur Griekse tragedies uitgebeeld word juis vir die hedendaagse Suid-Afrika relevant is. Yael Faber se Molora (2003) is ’n aanpassing van die oerverhaal van moord, wraak, vergelding en vergifnis, soos beliggaam in die mite oor die moord op koning Agamemnon deur sy vrou, Klutaimnestra, en die wraaklus van hul kinders, Orestes en Elektra. Grepe uit die verskriklike onthullings voor die Waarheids-en-versoeningskommissie is in hierdie raamwerk opgevoer, met op die agtergrond ’n koor van kombersgeklede swart moeders wat ween oor die uitgebeelde marteling van hul kinders onder die apartheidsregime. Die onverwagte slot – die vergifnis van Klutaim­nestra deur haar kinders – wys die moontlikheid van heling en versoening wat die kommissie alle Suid-Afrikaners gebied het.

In ’n volgende afdeling, 'Culture of Collecting', word in twee hoofstukke uitgewei oor die soms vreemde lotgevalle van 'klassieke' artefakte in die Suid-Afrikaanse museumwese en die soms ongemaklike gevoel dat dit nie in ’n ge-ontkolonialiseerde omgewing pas nie.

In Parker se tweede afdeling, “Con­ceiving empire”, wat merendeels gaan oor die Suid-Afrikaanse argitektuur, kom Cecil John Rhodes se naam telkens voor, maar ook die 19de-eeuse Britte se idee van hul empire as ’n voortsetting van – en verbetering op – die Romeinse Ryk.

Rhodes se naam kom, vreemd genoeg, ook voor in Parker se volgende afdeling, “Conceiving the nation”, in ’n hoofstuk oor Gerhard Moerdyk se poging om van Klassieke invloede weg te kom met sy ontwerp vir die Voortrekkermonument. In die groot saal herinner die verhalende fries egter sterk aan soortgelyke “storie”-friese uit antieke Griekeland en Rome.

Die tweede hoofstuk in hierdie afdeling bespreek die Louw-broers (N.P. en W.E.G.) se erkenning van antieke denke oor die oorspronge van haas alle aspekte van die fisiese wetenskap in die rubrieke wat hulle vir C.F. Albertyn se Afrikaanse Kinder­ensiklopedie (1953) geskryf het.

Die vierde afdeling, getiteld “Law, virtue and truthtelling”, bespreek eerstens weer die idee van empire; hier in die gedagtegange van uiteenlopende denkers soos
Rhodes, sy vriend Rudyard Kipling, die vermaarde klassikus prof. Theo Haarhoff van die Universiteit van die Witwatersrand en die filosoof Martin Versveld van die Universiteit van Kaapstad. Nog ’n hoofstuk, deur ’n bekende oudregter, toon die invloed van die Romeinse reg op Suid-Afrikaanse regspleging tot en met die opstel van ons Grondwet.

In ’n volgende afdeling, “Culture of Collecting”, word in twee hoofstukke uitgewei oor die soms vreemde lotgevalle van “klassieke” artefakte in die Suid-Afrikaanse museumwese en die soms ongemaklike gevoel dat dit nie in ’n ge-ontkolonialiseerde omgewing pas nie.

Hier moet ek as resensent my aandadigheid aan Parker se boek verklaar: Ek bespreek in Hoofstuk 12 die eerste swart klassikus in Suid-Afrika, die beminde prof. Davidson Don Jabavu van Fort Hare. Hy was bevriend met Jan Hofmeyr, simpatiek teenoor Afrikaners, maar ook ’n belangrike, gematigde en invloedryke struggle-held. Onder sy studente tel onder andere Nelson Mandela en Z.K. Matthews.

’n Saamgestelde bibliografie van 38 bladsye gee ’n beeld van hoe wyd die bydraers se navorsing reik, met aangehaalde skrywers uit uiteenlopende sfere, van Mandela tot die klassikus Haarhoff, en titels wat wissel van Pafenfus se Pik Botha and His Times tot Thabo Mbeki se “I am an African”-toespraak, D. Mostert se Gedenkboek van die ossewaens op die pad van Suid-Afrika en Maylam se The Cult of Rhodes: Remembering an Imperialist in Africa.

Verskeie hoofstukke is met swart-wit foto’s geïllustreer, en daar is 12 kleurplate, onder meer van ’n Zapiro-agtige spotprent van Jacob Zuma as Cupido wat deur ’n Stellenbosse student op ’n moderne kleiplantpot in die antieke Griekse swartfiguur-styl aangebring is, miskien die mees tekenende bewys van die voortdurende relevansie van die antieke oudheid vir hedendaagse Suid-Afrikaners.

  • Jo-Marie Claassen is ’n afgetrede medeprofessor in antieke studie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Boekresensie  |  Boeke  |  South Africa  |  Greece
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.